Fetus foto's

akkreditasie
Het jy al gewonder hoe die pragtige foto's van 'n ongebore baba geneem word? Ons het bietjie gaan uitvind.

Hoe lyk my baba nou en wat doen sy alles daarbinne? Danksy moderne tegnologie hoef jy bloot sleutelwoorde soos ‘fetus’ of ‘baarmoeder’ in te tik om regte egte foto’s van week sewe tot week 37 te sien. Jy kan ook na dokumentêre produksies soos National Geographic se In the Womb-reeks kyk. Maar het jy al ooit gewonder presies hoe die foto’s en videos gemaak word?

‘n Piepklein kloppende hartjie; die ontwikkeling van bloedvate, breinselle en ander organe; die verskyning van toontjies en daardie eerste gesigsuitdrukkings. Om dít en baie ander mylpale van ‘n baba in die baarmoeder op jou rekenaar- of tv-skerm te sien, is vandag glad nie vergesog nie. Jy sal ook nie sommer deur ‘n babatydskrif blaai sonder dat daar iewers ‘n pragfoto in kleur van ‘n ontwikkelende fetus pryk nie. Ons het navorsing gedoen oor hóé die foto’s geneem word.

Volgens inligting op die webtuistes van van die wêreld se voorste embrio-fotograwe (ja, daar ís so ‘n werksbeskrywing) is daar hoofsaaklik drie maniere waarop fetus-foto’s geneem word: van binne, buite en die afneem van geaborteerde fetusse.

Van buite af:

Die gewildste metode blyk met behulp van ultraklank – wat klankgolwe gebruik om beelde
te vorm – te wees. Fotograwe gebruik 3- en 4-dimensionele skanderings om beelde te bekom van die fetus in die baarmoeder. 3-dimensionele skanderings vorm prentjies van jou baba wat aspekte soos wydte, hoogte en diepte reflekteer terwyl 4D-tegnologie die tyd-faktor byvoeg. 4D is basies 3D-beelde wat die heeltyd opgedateer word, sodat ons die baba in werklike tyd kan sien. Fotograwe en vervaardigers van DVD’s soos die bekende In the Womb-reeks gebruik dan hierdie beelde – of dit 3D of 4D is – en verfyn dit verder met behulp van spesiale rekenaarprogramme.

Van binne af:

Fotograwe gebruik ook ’n endoskoop – ’n spesiale buisvormige en besonder buigsame instrument wat optiese vesels bevat en waarop hul kamera gemonteer word – om foto’s van die fetus in die baarmoeder te neem. Een van die ‘endoskoop-kameras’ wat die beroemde Sweedse fotograaf Lennart Nilsson gebruik het, het byvoorbeeld ‘n fokusafstand van minder as een millimeter. Die endoskoop self – die kameralens ingesluit – is sowat agt tiendes van ‘n millimeter in deursnee. Hierdie afmetings maak dit moontlik vir die kameratjie, wat die swanger vrou se maag deur ‘n klein snytjie binnedring, om op die buikwand te gaan lê en dan die fetus af te neem.

Die eerste fetus-foto

Die tydskrif Life het in 1965 ’n 16-blad storie met foto’s oor menslike voortplanting gepubliseer.
Een van die foto’s was ’n naby foto van ’n 18 week oue fetus-gesiggie in die baarmoeder deur Lennart Nilsson.

Dié foto het hy met ’n endoskoop met ’n elektroniese flits geneem. Hoewel dit nie Nilsson se eerste endoskopiese foto van ’n fetus was nie, was dit sy eerste van ’n gesig. Híérvoor, sê hy, moes hy ’n paar jaar wag. Die vorige een, byna 8 jaar vantevore, was slegs van ’n 15 week oue fetus se hande, voete en geslagsorgaan.

Asemrowende vermaak

Hier is 'n lys van die bekendste boeke met fantastiese foto’s ter beskrywing van hoe ’n sel in die baarmoeder tot ’n volwaardige mensie ontwikkel. Kyk gerus of jy hulle in die hande kan kry:

From Conception to Birth: A Life Unfolds deur Alexander Tsiaras
A Child Is Born en Life deur Lennart Nilsson
Beginning of Life deur Geraldine Lux Flanagan
In the Womb deur Peter Tallack (díe boek is gebaseer op National Geographic se dokumentêre televisiereeks wat op die gelyknamige kanaal uitgesaai is en sedertien ook beskikbaar is as ’n DVD)
Kyk ook uit vir die DVD, NOVA: Life’s Greatest Miracle

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees