Ginekoloog, huisdokter, vroedvrou of doula?

akkreditasie
Ginekoloog of huisdokter, vroedvrou of doula – wie gaan jou die beste bystaan met die geboorte van jou baba?

Die blou rok, die gele of die pienke? Die mensdom is van keuses aanmekaargesit en as dit kom by jou baba se geboorte is dit ook nie anders nie.

Die meeste vroue wat in hoër inkomstegroepe val of ’n mediese fonds het, kies die tradisionele opsie: Hulle kry hul baba in ’n hospitaal waar die susters aan diens hulle bystaan tot die ginekoloog van hul keuse die hul baba kom vang.

Maar dis verseker nie die enigste mense wat jou met baba se geboorte hoef by te staan nie! Voor jy dus jou keuse maak, kyk eers watter opsies beskikbaar is en wat jou unieke persoonlikheid en omstandighede die beste pas.

Wat is jou opsies?

Die algemene praktisyn: jou antwoord op die platteland

As jou swangerskap normaal verloop sonder enige groot mediese risiko, is ’n algemene praktisyn uitstekend daartoe in staat om jou swangerskap en geboorte te hanteer, sê prof. Gerhard Theron, hoof-spesialis by die departement verloskunde en ginekologie aan die Universiteit van Stellenbosch.

Dit is dus streng gesproke nie nodig vir ’n gesonde, swanger vrou om ’n ginekoloog te spreek nie. ’n Huisdokter is ewe bekwaam en op die platteland, waar daar nie so baie ginekoloë is nie, word die meeste bevallings in private hospitale in elk geval deur algemene praktisyns hanteer.

In stede is daar egter min huisdokters wat nog verloskunde doen, sê Gerhard. Dit verklaar waarskynlik waarom soveel vroue dadelik na ’n ginekoloog gaan wanneer hulle swanger is.

"Die probleem is dat die mediese versekering vir bevallings baie hoog is. So ’n dokter moet óf baie bevallings hanteer, óf glad nie. Baie dokters in die stad voel hulle vang nie genoeg babas om die duur versekering te regverdig nie en verwys dus hul swanger pasiënte na ginekoloë.”

Gerhard sê algemene praktisyns wat babas vang, doen dikwels ook die moeite om verdere kwalifikasies in verloskunde te verwerf en sorg dat hulle genoeg ondervinding daarin kry. Algemene praktisyns op die platteland help gewoonlik ook by die staatshospitale daar uit, waar hulle uitstekende ervaring opdoen, ook met keisersneë. “Hulle is gewoonlik baie vaardig,” sê Gerhard.

Net soos ’n ginekoloog werk ’n algemene praktisyn gewoonlik net in ’n hospitaal en hanteer nie tuisbevallings nie. Hy is ook nie die hele tyd teenwoordig nie, maar kom net in die laaste fase van kraam om die baba uit te help. Die res van die tyd sal jy deur die hospitaalsusters bygestaan word.

Dis ’n goeie keuse as . . .

  • Jy op die platteland woon waar daar min ginekoloë en vroedvroue is.
  • Daar geen komplikasies met jou swangerskap is of met die geboorte verwag word nie.
  • Jy ’n sterk band met jou huisdokter het, hy gereeld bevallings hanteer en ’n goeie reputasie het.

Die ginekoloog

’n Ginekoloog is die meeste vroue met ’n mediese fonds se eerste keuse, waarskynlik weens die gerusstelling dat jou dokter ’n spesialis op sy gebied is en dus maklik sal agterkom as dinge nie heeltemal verloop soos beplan nie.

In stede sal jou grootste keuse waarskynlik wees tussen ’n ginekoloog en ’n vroedvrou. Albei is heeltemal daartoe in staat om die geboorte van jou baba te hanteer, maar vir ’n hoërisiko-swangerskap en -geboorte is ’n ginekoloog jou beste opsie.

Oor die algemeen is ginekoloë duurder as huisdokters, maar daar is ook uitsonderings en as jy ’n mediese fonds het, sal dit waarskynlik nie ’n verskil maak nie, solank jou ginekoloog tariewe vra wat deur die mediese fonds goedgekeur is.

 ’n Ginekoloog is ’n goeie keuse as . . .

  • Jy swangerskapkomplikasies het of ’n geskiedenis van kraamprobleme.
  • Jy ’n keisersnee beplan.

 

Die vroedvrou: as jy natuurlik wil kraam

Private vroedvroue kan normale laerisiko-pasiënte goed hanteer en ook normale noodgevalle tot tyd en wyl iemand anders kan oorneem, sê Gerhard. Hy sê vroedvroue is die reël in Wes-Europese lande waar vroue baie meer ingestel is op normale bevallings. ”Selfs Mette-Marit, die kroonprinses van Noorweë, se bevalling word deur ’n vroedvrou hanteer,” vertel hy.

Vroedvroue word in Suid-Afrika gewoonlik geassosieer met tuisgeboortes, maar al meer hospitale maak voorsiening daarvoor dat jou private vroedvrou jou in die veilige omgewing van die hospitaal kan bystaan.

Sharon Marsay van Johannesburg is ’n vroedvrou wat gereeld tuisgeboortes hanteer, maar ook soms as private vroedvrou in hospitale soos die Parklane- en Garden City-kliniek optree.

Vroedvroue is spesialiste in die hantering van gesonde vroue se swangerskap en bevalling,” sê Sharon. Sy sê die voordeel van ’n vroedvrou is dat sy jou swangerskap as geheel hanteer en ’n meer persoonlike aanslag het.

Tipies is ’n vroedvroukonsultasie sowat ’n uur lank, eerder as die 15 minute van ’n dokter. In dié tyd word jy ingelig oor en voorberei op die geboorteproses, daar word gesels oor jou dieet en oefening, emosionele toestand, jou vrese en swangerskapskwale – dinge waarvoor ’n dokter nie altyd tyd het nie.

Sharon sê sy werk gewoonlik nou saam met ’n ginekoloog en die swanger vrou word ook gewoonlik twee keer deur haar na die ginekoloog verwys om seker te maak daar is geen komplikasies nie. ’n Swanger vrou behoort minstens een keer tydens haar swangerskap ’n dokter te besoek vir ’n ondersoek en bloedtoetse.

’n Ginekoloog is ook altyd op bystand en ’n bed word gewoonlik by die naaste hospitaal bespreek ingeval ’n noodgeval ontstaan. Anders as ’n ginekoloog of algemene praktisyn is die vroedvrou regdeur die bevalling by die pasiënt om haar aan te moedig en te help.

Die vroedvrou is toegerus om die hele bevalling alleen te hanteer, kan episiotomieë uitvoer indien nodig, en het ook dikwels sekere pynverligtingsopsies beskikbaar.

Sy volg ook die geboorte op met tuisbesoeke aan ma en baba. Vroedvroue is heelwat goedkoper as ginekoloë en dokters, maar nie alle mediese fondse betaal vir hul dienste nie. Sharon sê egter jy kan dikwels met jou mediese fonds onderhandel omdat ’n vroedvrou die fonds soveel bespaar.

Oorweeg ’n vroedvrou as . . .

  • Jy ’n gesonde swangerskap het sonder ’n geskiedenis van mediese probleme.
  • Jy graag ’n tuis- of watergeboorte wil hê,
  • Jy die hele tyd dieselfde versorger by jou wil hê terwyl jy kraam.
  • Jy graag natuurlik wil kraam.

 Die hospitaalsuster: deel van die hospitaal-pakket

Dis die vroue wat die oorgrootte meerderheid kraamgevalle in Suid-Afrika hanteer. Gerhard sê sowat 85% van mense in Suid-Afrika behoort nie tot ’n mediese fonds nie en kry hul babas dus in staatshospitale, waar hulle gewoonlik deur die hospitaal se suster bygestaan word.

Die dokters in staatshospitale word gewoonlik net geroep as dinge nie na wense verloop nie. Die kraamsaalsusters is dikwels die mense wat jou kraam maak of breek, want selfs in private hospitale hanteer die kraamsusters die grootste deel van normale kraamgevalle alleen, terwyl die dokter net af en toe inloer en dan in die laaste fase van kraam inkom om die baba te help uithaal.

Die susters is egter heeltemal opgelei en bekwaam om die kraamproses volledig tot op die einde te hanteer, soos baie vroue vir wie die dokter te laat gekom het al moes uitvind.

Die feit is egter dat hierdie susters dikwels 12-uur-skofte werk en dat jy dus nie vooraf kan weet watter susters aan diens gaan wees terwyl jy kraam nie. Jy sal dus nie vooraf ’n “verhouding” met die kraamsuster kan opbou nie, wat beteken dat ’n vreemdeling jou deur jou kraamervaring sal bystaan en help.

’n Skofruiling terwyl jy besig is om te kraam, kan traumaties wees as jy skielik met nuwe gesigte gekonfronteer word.

’n Kraamsaalsuster word outomaties deel van die pakket as jy besluit om in die hospitaal te kraam en van ’n dokter se dienste gebruik te maak. Hulle volg gewoonlik hospitaalprotokol en akkommodeer die dokter se wense, tensy jy dit deur ’n geboorteplan duidelik maak dat jy dinge anders gedoen wil hê.

Die doula: emosionele steun

’n Doula is ’n vrou wat voor, tydens en ná die geboorte emosionele en prakties ondersteuning gee. Sy versorg jou terwyl die dokter of vroedvrou die mediese sy van die bevalling hanteer.

Sy is egter nie net iemand wat jou rug vryf en sê jy vaar goed nie. Doulas ontvang deeglike mediese opleiding sodat hulle jou kan bemagtig deur jou in te lig oor jou keuses en die prosedures.

Paula Pedersen, ’n doula van Kaapstad, vertel sy help ma’s om die geboorte so maklik as moontlik te maak. ’n Doula se dienste kan insluit massering, om hanteringstegnieke vir pyn voor te stel en sy kan ook namens jou versoeke aan die mediese personeel oordra of met hulle kommunikeer om jou te help om ’n ingeligte keuse te maak oor mediese prosedures.

Navorsing het getoon die teenwoordigheid van ’n doula kan nie net help om die gemiddelde kraamtyd met 2 uur te verkort nie, maar verminder ook die kans op ’n keisersnee met die helfte. Hul teenwoordigheid verlaag ook die moontlikheid van mediese ingryping en behoefte aan pynverligting.

’n Doula kan jou met enige vorm van kraam bystaan. Paula vertel sy het al ’n ma bygestaan wat ’n elektiewe keisersnee gehad het. “Dit is nie die doula se plek om voorkeure vir ’n spesifieke vorm van kraam of sekere opsies te wys nie – sy is daar om die ma te ondersteun in enige van haar voorkeure.

"Ons lig die ma in oor die voor- en nadele van haar opsies – daardie goed wat sy in voorgeboorteklasse geleer het, maar in die oomblik maklik kan vergeet. Sy kan dan self haar besluite neem.”

Hoewel sy al baie doula was vir enkelvroue waar ’n ondersteunende pa-figuur afwesig was, vertel Paul dat doulas net so doeltreffend is al is daar ’n pa teenwoordig.

“’n Doula is nie daar om die pa te vervang nie, maar werk saam met die pa. Maar hy het nog nie sy vrou so gesien nie en vir sommige mans is dit moeilik wanneer hul vrou pyn het. Dan is die doula daar om hulle kalm te hou en te help om hul vrou te ondersteun. Sy kan ook subtiel voorstelle maak oor dinge wat hulle vir hul vrou kan doen om haar te help en as hulle ’n blaaskans nodig het, is sy daar.”

As dinge verkeerd loop, is die doula se rol kritiek, want sy speel ’n geweldig positiewe rol om die ma gerus te stel, sê Paula. Selfs in die teenwoordigheid van ’n vroedvrou kan ’n doula ’n belangrike rol speel. 

“Die verhouding tussen vroedvrou en pasiënt is baie meer intiem as tussen dokter en pasiënt, maar ’n doula het steeds ’n plek. Die vroedvrou se primêre doel is steeds medies, terwyl die doula net emosionele ondersteuning kan verleen.”

In die stede raak hierdie opsie al meer bekend en gevestig. Die meeste hospitale laat ook doulas toe. Die standaard doula-tarief is R1 000 per geboorte en sluit minstens een besoek voor geboorte, die geboorte self van begin tot einde en ’n opvolgbesoek in. Doulas word nie deur die meeste mediese fondse gedek nie, maar onderhandelinge hieroor is aan die gang.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees