Haal die angs uit kraam

akkreditasie
Almal is klein bietjie bang... maar is jy vreesbevange vir die geboorteproses? Jy's nie alleen nie – ons kyk na tokofobie, of die onnatuurlike vrees vir geboorte

Omtrent elke swanger vrou – selfs dié wat regtig opgewonde oor die geboorte is – voel minstens ’n klein bietjie bang vir die kraamproses. Ander vroue is heeltemal vreesbevange. En dis te begrype – geboorte is seer, soms erg seer. Dit kan vir ewig aanhou. En jy kan nooit presies seker wees wat om te verwag nie ....

Ons het by ’n psigiater gaan aanklop om te hoor waar ons vrees vir geboorte vandaan kom en wat ’n mens kan doen om dit die nek in te slaan...

Toe die Oscar-bekroonde aktrise Helen Mirren onlangs in ’n onderhoud vertel hoe sy as 13-jarige by die skool ’n fliek oor geboorte gesien het en hoe die idee van lewe skenk haar tot vandag nog “totaal walg”, het dit baie mense se nekhare laat rys. Tog is daar baie vroue vir wie die blote gedagte aan ’n natuurlike geboorte vir jare van swangerskap kan afskrik.

“Geboorte is ’n natuurlike proses wat heeltemal intuïtief behoort te wees,” sê dr. Terri Henderson, ’n psigiater van Kaapstad. “Tog beskou vroue dit dikwels as iets skrikwekkend en groots wat hulle alleen moet deurmaak.”

Terri skryf dié wanbegrip meestal toe aan hoe geboortes in Suid-Afrika “bemark” word. “In Brittanje word die gemiddelde vrou gelei om te glo dat sy heeltemal in staat is om self die lewe te skenk. Om die een of ander rede sien Suid-Afrikaanse vroue dit as iets angswekkends wat met geweldige pyn gepaard gaan.”

Volgens Terri hoor ons eenvoudig te min oor die positiewe aspekte van ’n natuurlike geboorte. “Dink maar aan die rol wat hormone speel tydens die geboorteproses met die vrystelling van oksitosien, asook die positiewe uitwerking wat die drukproses op die baba se longetjies het. Dáárvan hoor ’n mens maar selde.”

Dis moderne vroue se dilemma

Baie vroue beskou natuurlike geboorte as ’n proses waaroor hulle geen beheer het nie – en baie beroepsvroue kan hulle glad nie vereenselwig met ’n situasie waar hulle nie in beheer is nie, se Terri. “Miskien is ’n deel van die probleem dat moderne vroue nie in staat is om beheer oor te gee en ’n natuurlike proses sy gang te laat gaan nie.”

Indien jy jou ginekoloog vra vir ’n beplande keisersnee, sal jy heel moontlik een kry sonder dat die dokter oor jou redes uitvra. Dit help ook dat dit maklik is om met ’n beplande keisersnee die geboorte tot die dag en tyd te bepaal.

“Dis egter nie noodwendig ’n goeie ding nie, want al beplan jy jou geboorte haarfyn gaan jy nie dieselfde mate van beheer kan uitoefen ná die geboorte wanneer jy met ’n klein mensie te doen het nie,” waarsku Terri.

Vroedvroue, doulas en berading

’n Ma kry dikwels bitter min ondersteuning terwyl sy besig is om die lewe te skenk. Jy bevind jou in ’n kliniese omgewing waar ’n dokter elke af en toe inloer sonder om te verduidelik wat met jou gebeur en hoekom dit gebeur. Dit kan ’n mens baie ontmagtig laat voel – en is een van die redes waarom vroedvroue en doulas al gewilder word.

“Ginekoloë is geweldig besige mense,” sê Terri. “Al het jy ’n magdom vrae, sal jy nie noodwendig die vrymoedigheid hê om jou dokter te vra nie, of jy is dalk bang die dokter beskou dit as onbelangrik. Vroedvroue is baie meer daarop ingestel om ma’s te help met die klein detail wat dikwels misgekyk word.”

Soms vrees vroue die uiteinde van die geboorte meer as die geboorte self. “Baie het ’n knaende vrees dat die baba tydens die geboorte sal seerkry. Daar is byvoorbeeld ’n direkte verband tussen serebrale gestremdheid en ’n traumatiese geboorte. As ’n samelewing is ons geweldig negatief teenoor enige vorm van onvolmaaktheid – die idee dat jou baba nie volmaak is nie as gevolg van ’n natuurlike geboorte, is dus vir baie ’n groot bekommernis,” sê Terri.

As jy baie bang is vir ’n natuurlik geboorte, is ’n keisersnee nie jou enigste uitweg nie. “In die lig van latere sielkundige probleme soos nageboortedepressie is dit belangrik om te kyk na die onderliggende oorsake van die vrees, óf met ondersteunende berading óf korttermyn-psigoterapie,” sê Terri.

“Gewoonlik is dit ’n geval van wanaangepaste denke, waar jy onder ’n wanindruk verkeer. Deur terapie identifiseer ons dié denke en probeer ons dit vervang met ’n meer toepaslike of positiewe manier van dink oor die saak.”

Waarvoor is ma’s bang?

  • Fetale abnormaliteite soos breinskade gedurende die geboorte
  • Oorweldigende pyn
  • Vrees dat jy of die baba sal doodgaan
  • Vrees dat jy nie in staat sal wees om die lewe te skenk nie
  • Liggaamlike letsels soos vaginale skeure
  • Verlies van beheer

Tokofobie

’n Studie deur die Britse psigiater dr. Kristina Hofberg wat in 2000 in The British Journal of Psychiatry verskyn het, het vir die eerste keer “tokofobie”, of ’n onnatuurlik vrees vir geboorte, in die mediese literatuur as ’n sielkundige afwyking geïdentifiseer. Die studie het gevind dat tokofobie ’n baie spesifieke toestand is wat wyer erkenning deur die mediese beroep vereis.

Die woord is afgelei van die Grieks tokos (geboorte) en phobos (vrees). Kristina het drie soorte tokofobie geïdentifiseer: ’n fobiese vermyding van swangerskap wat reeds in die tienerjare teenwoordig is (primêre tokofobie), ’n sekondêre fobie wat gekoppel is aan ’n traumatiese geboorte (sekondêre tokofobie) en ’n simptoom van voorgeboorte-depressie (tokofobie as ’n simptoom van depressie).

Dié ekstreme vrees vir geboorte lei dikwels tot ’n beplande keisersnee, maar dit kan ook daartoe bydra dat vroue besluit om glad nie kinders te hê nie of ’n aborsie ondergaan indien hulle wel swanger word. 

Hier’s hulp

The South African Doula Database: 011-704-1007 of besoek Doulas.
Vir ’n lys van doulas, besoek Earth Babies en kliek op Doulas.

Ekstra bronne
The British Journal of Psychiatry se webwerf

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees