Hoe om te weet of jy werklik in kraam is

akkreditasie
Só weet jy of jy werklik in kraam is en of jy jouself net verbeel.

Selfs dokters vind dit moeilik om vroeë kraam akkuraat te diagnoseer. Hoe moet jý dan weet of jy werklik in kraam is of nie – veral as dit jou eerste swangerskap is?

In ’n neutedop: Jy kraam as jy gereelde, pynlike kontraksies het en jou serviks ontsluit of jou water breek. Ware kraamkontraksies is seer en voel of dit in jou rug ontstaan en dan aan albei kante maag toe versprei.

Ware kontraksies kan begin met ’n stywe gevoel op jou maag en/of lae rug. Dit kan aanvanklik soos Braxton-Hicks-kontraksies voel (sien onder), maar sal aanhou en ál sterker word. As jy werklik kraam, sal daar ’n patroon ontstaan. Die kontraksies word sterker en sterker en hou ook langer aan, en die tussenposes tussen kontraksies word korter.

Die taai spiere van die baarmoeder is besig om jou serviks oop te trek. Dit duur gemiddeld 15 uur, maar kan ook maklik ses uur langer of ses uur korter duur.

Kraam is ’n lang proses en dit kos gewoonlik twee uur van gereelde kontraksies voor jy kan sê dat jy nou werklik kraam en dat dit nie ’n vals alarm was nie.

Jy sal nie kan voel of jou serviks ontsluit het of nie – jou dokter of vroedvrou sal jou moet ondersoek om dit vas te stel. Dreigende vroeë kraam is wanneer jy pynlike kontraksies het sonder dat jou serviks
ontsluit.

Nog ’n teken dat die uur besig is om aan te breek, is dat ’n klontjie jel van jou serviks loskom en uitgeskei word. Dit kan wit of deurskynend wees, moontlik met bloedstrepies in. As jou water gebreek het, moet jy ook dokter of hospitaal toe – of jy nou kontraksies het of nie.

Hoe weet jy dit het gebeur?

Die vrugwater stort nie altyd dramaties uit nie. Jy kan dalk net bietjies-bietjies lek. As dit genoeg is om jou bed, stoel of broek nat te maak, is dit vrugwater en nie urine nie.

My baba is te haastig

As jy dreig om vroeg te kraam, sal jou dokter jou kan behandel om die bevalling te onderdruk.

Hoekom is dit so belangrik?

Dit gee die dokter tyd om steroiede toe te dien sodat jou baba se longe sterker kan word en dit help ook om breinbloeding by vroeggebore babas te voorkom. Jy sal op streng bedrus in die hospitaal moet bly.

Tipiese oorsake van vroeë kraam is infeksie, bloeding, abnormaliteite van die baarmoeder en ’n inkompetente serviks. Die heel beste voorspeller van vroeë kraam is egter die feit dat dit al tevore gebeur het.

Daar is bitter min wat jy kan doen om vroeë kraam te keer. Rook, alkohol- en dwelmgebruik is nog oorsake, en vroue wat harde fisieke werk verrig is ook meer geneig om vroeg te begin kraam.

Wat is braxton-hickskontraksies?

Dis oefen-kontraksies van jou baarmoeder wat onstaan omdat jou liggaam hom op die bevalling voorberei. Sommige swanger vroue kom dit nie eens agter nie, maar vir die meeste voel dit asof hul maag styf word: Dis die baarmoeder wat saamtrek.

Jy sal dit veral in die derde trimester voel. As jy ’n rukkie gaan lê, verdwyn dit.

Rooi lig

As jy in enige stadium van jou swangerskap helderrooi bloed of bloedklonte uitskei en maagkrampe het wat soos menstruasiekrampe voel, moet jy dadelik dokter toe.

Wat sê die syfers

  • In ontwikkelde lande word sowat 7 persent van alle babas vroeg gebore. By die Tygerberghospitaal in Kaapstad kraam sowat 30 persent van vroue vroeër.
  • Die behandeling wat jy en jou baba ontvang, hang af van hoe vroeg jou baba gebore is.
  • Fantastiese mediese vooruitgang is op die gebied gemaak.
  • By die Panoramakliniek in Kaapstad oorleef 95% van babas wat ná 26 weke gebore word.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees