Is seks veilig terwyl 'n mens swanger is?

akkreditasie
Ek en my man is 12 weke swanger met ons eersteling. Ek hoor so baie stories oor die veiligheid van seks gedurende swangerskap. Is seks veilig terwyl 'n mens swanger is? Tot hoeveel weke mag ons seks hê, en wanneer is dit nie meer veilig nie? Is daar posisies wat vermy moet word? 

Dr. JP du Buisson antwoord: 

Die breë beginsel is dat seks tydens swangerskap nie skadelik is vir jou of die baba nie, mits jy soos die oorgrote meerderheid vroue ’n ongekompliseerde swangerskap het.

Situasies waar penetrasie eerder vermy moet word is waar daar bloeding in die swangerskap is of was, of ’n vorige swangerskap wat gekompliseer is deur vroeë kraam. Onthou dat seksuele bevrediging nie noodwendig altyd penetrasie hoef te behels nie.

Posisies wat ongemak veroorsaak behoort vermy te word en namate die swangerskap vorder sal die posisie waar die vrou bo is waarskynlik tot minder ongemak en beter beheer oor diepte van penetrasie lei. Ek vind ook dat vroue se drang na gemeenskap in swangerskap toeneem en dis normaal en gesond.

Semen bevat wel ’n proteïen wat kraam kan aanbring. As jy dus bekommerd is oor vroeë kraam is dit miskien ’n goeie idee om ’n kondoom te gebruik in die gevaartyd van 28 tot 36 weke. En dan is gemeenskap een van die “natuurlike maniere” wat kan help om kraam aan te bring by voltyd (ná 39 weke) – dis dus veilig om tot op die einde seks te hê, mits albei party daarvoor te vinde is.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees