Jou boepie woordeskat

akkreditasie
Jou ronde magie word vegesel van 'n hele rits nuwe woorde wat met jou en baba se gesondheid te doen het.

Sy en haar man vloek nie graag nie, maar deesdae vertel hulle alte graag vir mekaar hulle het ’n regte mekoniumdag gehad, spot ene Vanessa Antoine tong-in-die-kies op die webtuiste www.parentsconnect.com.

Dis een van die nuwe woorde wat hulle geleer het sedert sy swanger geword het. En dis net een van omtrent ’n hele woordeboek vol nuwe begrippe wat amperouers ontdek. ’n Mens kan hope pret daarmee hê, maar dis ook belangrik dat jy goed weet wat hierdie woorde beteken sodat jy dit verstaan as jou dokter dit gebruik.

Plasenta

Die plasenta is jou ongebore baba se lewensaar. Dis ’n platterige, sirkelvormige orgaan wat aan die baarmoederwand geheg is tydens swangerskap en jou groeiende kleinding voorsien van suurstof en
noodsaaklike voedingstowwe terwyl dit terselfdertyd van sy afvalstowwe ontslae raak. Dit haal dus suurstof en voedingstowwe uit jou bloed en plaas dit oor na jou kleinding se bloed terwyl dit sy afvalstowwe verwyder en weer in jou bloed plaas.

Dit vervaardig ook noodsaaklike hormone en ensieme wat jou baba se groei stimuleer. Enige agteruitgang van die plasenta is dus slegte nuus.

Jou baba is met sy naelstringetjie aan die plasenta vas. Ná die geboorte sal jy die plasenta, oftewel
die nageboorte, uitskei. As jy tydens jou swangerskap begin bloei en maagpyn kry, kan dit beteken die plasenta is besig om van die baarmoederwand los te skeur. Dan moet jy dadelik by ’n dokter uitkom.

Daar is ook ’n toestand genaamd placenta praevia, waar die plasenta te laag in die baarmoeder vasheg en die serviks versper sodat ’n vaginale geboorte onmoontlik is.

Inkontinensie

Dis ’n newe-effek van swangerskap wat baie vroue rooi in die gesig laat. Inkontinensie behels gewoonlik dat jy ’n bietjie urien lek as jy hoes, nies of selfs net lekker lag. Dit kom jou meestal in die laaste trimester oor. Die inkontinensie (ook bekend as druklek) word veroorsaak deur die druk van die swellende baarmoeder op die blaas en ook weens die verslapping van die bekkenspiere tydens swangerskap.

Kegeloefeninge – waar jy jou knypspiere versterk deur die spiere rondom die vagina en anus gereeld saam te trek en dan stadig te laat ontspan – werk inkontinensie teen.

Amniotiese vloeistof

Die amniotiese vloeistof of vrugwater is die gelerige, deursigtige vloeistof waarin jou baba in die vrugwatersak lê. Dit dien as belangrike buffer tussen hom en die buitewêreld en beskerm hom teen harde stampe en skielike temperatuurveranderings. Dit help ook om sy longe te ontwikkel.

Jou baba drink en asem gedurig die vrugwater in en skei dit weer uit. Die vrugwater neem toe namate baba groei en bereik ’n maksimum op 34 weke. Te veel vrugwater kan dui op afwykings of diabetes, terwyl te min vrugwater kan beteken die plasenta werk nie op sy beste nie of jy lek vrugwater.

Jou dokter sal dit dus noukeurig dophou.

Amniosentese

Met ’n amniosentese kan jou dokter vasstel of die fetus afwykings het. Die toets word gewoonlik tussen 14 en 20 weke gedoen – verkieslik rondom 16 weke – en behels dat ’n fyn naald deur jou buikwand tot
in die vrugwatersak gedruk word om sowat 15 ml van die vrugwater waarin baba lê te onttrek en te toets.

Dié vrugwater word ontleed vir moontlike afwykings by jou baba soos Downsindroom. Dit kan sowat drie weke duur voor die uitslag beskikbaar is.

’n Amniosentese is akkuraat, maar by sowat 1 uit 200 gevalle kan dit tot ’n miskraam lei en
jy moet dus ’n ingeligte keuse maak oor of jy dit wil laat doen.

Trippeltoets

Dié bloedtoets word gewoonlik iewers tussen die 15de en 18de week van swangerskap uitgevoer om vas te stel of die baba dalk ’n afwyking het. Die toets bekyk die konsentrasie alfa-fetoproteïen (AFP), menslike choriongonadotropien- (HCG-) hormoon en estriol in die bloed.

Dit help voorspel of jou baba aan ’n neurologiese afwyking soos spina bifi da of Downsindroom ly. Die toets kan nie ’n afwyking bevestig nie, maar kan aandui dat dit moontlik bestaan en dus of ’n amniosentese nodig is om ’n diagnose te maak. By net een uit elke 25 swangerskappe waar die trippeltoets ’n risiko aandui, is daar wel afwykings.

Edeem

Edeem verwys na swelling as gevolg van waterophoping in die liggaam en is algemeen in veral die laaste maande van swangerskap.

Sowat 75 persent van swanger vroue ervaar ’n mate van swelling in hul enkels en voete. Soms kan dit egter dui op gebrekkige nierfunksie of ’n teken wees van eklampsie. Noem dit dus altyd aan
jou dokter, veral as jou gesig ook begin swel. Dit kan ook help om met jou voete hoog te sit.

Braxton Hicks -kontraksies

Braxton Hicks is “oefenkontraksies” wat al menige swanger vrou verniet na haar hospitaaltassie laat gryp het. Dié kontraksies begin gewoonlik teen agt maande as deel van die baarmoeder se voorbereiding op die groot dag. Dit kan by tye ietwat pynlik raak, hoewel nooit so intens nie.

Anders as ware kraamkontraksies het dit nie ’n vaste ritme nie en word dit ook nie geleidelik sterker
en die tussenposes korter nie.

Die Rhesus faktor

Afhangende van die teenwoordigheid van ’n sekere bloedproteïen bekend as die rhesus-faktor (Rh-faktor) in jou rooibloedselle, is ’n mens rhesus-positief (as die Rh-faktor daar is) of rhesus-negatief
(as dit afwesig is).

Die meeste mense is Rh-positief. As jy Rhnegatief is en jou baba is Rhpositief (wat waarskynlik is as
jou man Rh-positief is), word gepraat van bloedgroep-onversoenbaarheid.

Dan kan jou liggaam teenliggaampies vervaardig wat jou baba se bloed aanval en baie gevaarlik kan
wees. Dis dus baie belangrik dat jou dokter moet weet of jy Rh-positief of -negatief is sodat hy julle noukeurig kan monitor en behandel indien nodig.

Preëklampsie (toksemie)

Dis ’n swangerskapstoestand wat gekenmerk word deur hewige swelling, ’n vinnige toename in gewig, hoë bloeddruk en proteïen in die urien.

Dit ontstaan ná 20 weke en is een van die redes waarom jou dokter jou gereeld vir ’n urienmonster vra en met elke besoek jou bloeddruk behoort te meet.

As preëklampsie nie betyds behandel word nie, kan dit lei tot eklampsie. Dis ’n lewensbedreigende toestand wat die sentrale senustelsel aantas en kan lei tot stuiptrekkings, ’n koma en selfs die dood. Die
enigste behandeling is dat die baba so gou moontlik gebore moet word.

Die Perineum

Dis die streek tussen die vagina en rektum en kan soms skeur tydens ’n normale geboorte. In sommige gevalle sal dokters ’n episiotomie (knip) uitvoer om te keer dat die perineum skeur. Jy kan dit alles
help voorkom deur jou perineum tydens jou swangerskap met ’n bietjie natuurlike olie te masseer en so meer soepel te maak:

Plaas jou duime of wysvingers in die vagina, druk afwaarts (na die rektum) en gly dan jou vingers
dwars na onder en op teen die kante.

Grootwoord kitsgids

Gravida: Die mediese term vir ’n swanger vrou

Primigravida: ’n Vrou wat vir die eerste keer swanger is

Multigravida: ’n Vrou wat al kinders het

Hiperemesis gravidarum: Hewige oggendnaarheid en braking wat tot ontwatering kan lei

Linea nigra: Die donker Streep wat op die middel van die maag afloop

Kloasma: Die donker vlekke wat soms op die gesig verskyn

Pika: Die behoefte wat sommige swanger vroue het om ongewone items soos stof of verf te eet.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees