Jou fetus se brein

akkreditasie
Die ontwikkeling van baba se sentrale senustelsel is een van die wondere wat in die baarmoeder plaasvind.

Die vorming van die brein is een van die belangrikste dinge wat tydens die ontwikkeling van die fetus plaasvind. En wetenskaplikes verwonder hulle al baie lank aan presies hoe hierdie meesterstuk geskep word.

Die sentrale senuweestelsel (brein, ruggraat en senuwees) ontwikkel uit ’n verdikte strook wat die neurale plaat genoem word. In die loop van die derde swangerskapsweek beweeg die rande van die neurale plaat boontoe en vorm dit neurale “plooie”, met ’n neurale “gleuf” in die middel. Die plooie beweeg ál nader aan mekaar tot hulle teen die vierde week bo die gleuf saamsmelt om ’n buis – die neurale buis – te vorm.

Die sluiting van die buis begin in die middel van die embrio en vorder boontoe en ondertoe, amper soos ’n ritssluiter wat van die middel af na albei kante toe toerits.

In die wande van die buis is sowat 125 000 selle. Dis uit hierdie selle dat elke senuweesel, die brein en die ruggraat gevorm word. Teen geboorte is daar al sowat ’n biljoen selle.

Die voorste deel van die buis sal mettertyd tot die brein ontwikkel en die agterste deel tot die ruggraat.
Aanvanklik is die buis reguit, maar teen die einde van die derde week begin dit knoppies vorm wat vinniger as die res groei.

Die brein groei vinniger as die kop en teen die einde van die vierde week begin dit oormekaar vou.
Teen die einde van die vyfde week begin die boonste deel van die brein twee knoppies vorm wat later tot die twee breinhelftes onwikkel, waar die verstand gesetel is. Die breinhelftes hou aan groei en is teen die sewende week so groot soos die res van die brein.

Die begin van dink

Die werkende eenhede van die brein is die senuselle (neurone). Tussen die selle is piepklein gapings wat sinapse genoem word, en die senuselle stuur boodskappe aan mekaar wat oor hierdie gapings spring.

Die brein groei nie net deur die vermenigvuldiging van die selle nie, maar ook deur die ontwikkeling van sinapse. Enigiets wat dié ontwikkelingsproses in die baarmoeder pootjie, kan skadelik vir die fetus wees. Dis waarom swanger vroue moet wegbly van alkohol, te veel kafeïen en rook.

’n Gesonde leefstyl is dus belangrik – en so ook dat jy vooraf en in die eerste drie maande van jou swangerskap genoeg foliensuur inneem, want ’n tekort aan foliensuur kan beteken dat die agterste deel van die neurale buis nie mooi sluit nie en jou kind met ’n oop rugmurg (spina bifida) gebore word.

Jou ongebore baba beweeg in sy omgewing rond en raak aan alles om hom, en dié aktiwiteite word in sy brein geregistreer. Elke keer word boodskappe oor die sinapse gestuur en breinpaadjies (senuverbindings) word mettertyd so gevorm.

Gou begin dele van die brein funksioneel werk. Die breinpaadjies wat nie gebruik word nie, word mettertyd vernietig en dié wat wel gebruik word, versterk. Om optimaal te ontwikkel, het die brein dus
aktiwiteit nodig. Dit beteken die brein moet gebruik word – so word die boustene gelê vir wat later gedagtes en emosies sal word.

Dis waarom voorgeboortelike stimulering in die vorm van musiek en massering of aanraking van buite aanbeveel word.

So lyk die kopbeen

In die meeste gevalle word ’n baba se kop eerste gebore. Dis die deel van sy lyfie wat die grootste is. Sodra die kop uit is, gly die res van die lyfie gewoonlik taamlik maklik uit.

Jou klein passasier moet sy weg deur die bekken en vagina vind om veilig in die wêreld te kom. Sy kop is betreklik groot in vergelyking met die res van die liggaam en bestaan uit ’n benerige omhulsel wat die delikate brein bevat. ’n Skedel van normale grootte kan gewoonlik deur ’n gemiddelde bekken beweeg.

Met geboorte is die rol van die skedel baie belangrik. Die skedel is in drie dele verdeel: die basis, die gesig en die kranium. Die basis is die onderste, agterste deel. Dis groot en hard en beskerm die belangrike strukture van die brein.

Die kranium is die bolvormige deel van die skedel en dit strek van bo die gesig tot onder by die basis. Anders as sommige ander dele van die skedel word hierdie bene uit membrane en nie kraakbeen nie
gevorm.

Die verharding en verbening van die vliese begin teen die tiende week van swangerskap. Teen geboorte is die verbening nog nie heeltemal voltooi nie. Daar is ’n dun voering van membrane tussen die verskillende skedelbene wat skedelnate genoem word.

Waar drie of vier skedelnate bymekaarkom, word ’n membraanagtige deel gevorm wat bekend staan as die fontanel. Die been hier is dun en baie buigsaam. Die skedelnate laat die skedelbene toe om oor mekaar te vou wanneer die kop ineengepers word namate dit deur die bekken beweeg. Dié proses word vorming genoem.

Hoe die brein geboorte oorleef

Vorming laat die baba se skedel toe om van vorm te verander en aan te pas terwyl dit deur die ma se bekken beweeg. Dit help baie met die geboorteproses.

Die posisie wat jy tydens die geboorte inneem, kan ook bepaal hoe maklik dit vir die baba se kop is om deur jou bekken te beweeg.

Soms kan die brein beseer word, byvoorbeeld wanneer die beendere nog te sag is (veral in die geval van vroeggebore babas) of as daar te veel vorming plaasvind omdat die ma se bekken baie klein is.

As die swangerskap tot ná die verwagte datum duur – dus tot week 41, 42 of selfs later – kan die skedelmembrane te veel verhard sodat dit moeiliker oor die nate vou wanneer dit onder druk in die bekken is. Dit kan ook tot breinbeserings lei.

As ’n mens daaroor nadink, is dit eintlik merkwaardig dat die fetus se kop so soepel is dat dit in die geboortekanaal van vorm kan verander. Moet dus nie te groot skrik as jou baba se kopvorm effens vreemd is wanneer hy gebore word nie – dis net die gevolg van vorming en sal binne die eerste dae of weke vanself regkom.

... en haar kop is deur!

Jou baba se kop is groot in vergelyking met die res van haar liggaam. Dis die swaarste deel van haar lyf en maak sowat ’n kwart van haar hele lengte uit. Die gemiddelde kopomtrek van ’n pasgebore baba is sowat 35 cm.

Jou pasgebore baba se kopomtrek is een van haar belangrikste liggaamsmate. Dit word met geboorte gemeet en ook elke keer wanneer sy daarna geweeg word. Dis belangrik omdat die groei van ’n baba se
kop ’n aanduiding is van die ontwikkeling van haar brein.

’n Natuurlike geboorte en vorming kan jou baba se kop byna keëlvorming laat lyk. Drukking deur die geboortekanaal kan ook swelling aan een of albei kante van haar kop veroorsaak, maar dit tas nie die brein aan nie en verdwyn gewoonlik binne ’n paar weke. As ’n suigtang nodig was met die geboorte, kan daar ook kneusings aan jou baba se kop wees. Die kneusplekkies verdwyn gewoonlik vinnig – meestal binne twee tot drie dae.

Jy sal ook sagte plekkies op jou baba se kop kan voel – dis die fontanelle.

Feite oor die fontanelle

Die fontanelle voel dalk delikaat, maar die skedelnate wat dit bedek is uiters sterk en bestand teen beserings. Die ses fontanelle is nie almal dieselfde grootte nie. Twee daarvan is groot en die ander vier baie klein.

Die twee grotes is aan die bokant van die kop. Die voorste fontanel word aan die bopunt van die voorkop aangetref en is diamantvormig. Die fontanel is op sy kleinste nie groter as die punt van jou vinger nie en op sy grootste sowat 2 by 3 cm.

Die fontanelle verbeen en sluit teen die ouderdom van 18 maande. Omdat dit so lank “oop” bly, sorg dit dat daar genoeg plek is vir die enorme groei en ontwikkeling wat die kinderbrein in die eerste anderhalf jaar ondergaan.

Die agterste fontanel is aan die agterkant aan die bopunt van die kop en het ’n driehoekige vorm. Dié fontanel is meer ’n plek waar die skedelnate bymekaarkom en is baie kleiner as die ander een. Dit sluit
tussen ses en agt weke, maar kan ook eers later sluit.

Namate jou baba in die eerste agt weke ná die geboorte groei, groei die skedel ook en word die fontanelle ietwat groter. Die veselagtige vliese tussen die beenplate begin verhard en verbeen. Die punte van die plate verbreed en word dan soos legkaartstukke saamgevoeg. Dit heg aanmekaar, byna soos met supergom, en die lyne tussenin is die skedelnate. Mettertyd verhard dit en word sterker, en
die fontanelle krimp en verdwyn.

Namate die skedel groei, word ál meer been op die buitenste oppervlak neergelê. Die skedel word geleidelik groter in die loop van die kinderjare en teen die tyd dat kinders tieners is, is dit al byna so groot soos ’n volwassene s’n.

Die veranderinge wat ’n kind se skedel en brein ondergaan tydens swangerskap en terwyl sy grootword, is werklik wonderbaarlik. En om te dink jy en jou lyf ondersteun haar hierin ...

Wat om dop te hou

Sommige ma’s word baie bekommerd wanneer hulle hul baba se hartslag deur die fontanel bo-op die kop kan sien. Ontspan gerus, dis heeltemal normaal!

As die fontanelle egter ingeduik is, moet jy dadelik vir baba vloeistof gee. ’n Ingeduikte fontanel dui op
ontwatering, wat baie gevaarlik vir ’n klein baba kan wees. Dit kan gebeur as jou baba diarree het, baie opgooi of as julle in ’n baie warm klimaat woon.

As die fontanel uitpeul, kan dit ’n aanduiding van ’n gevaarlike toestand soos meningitis wees. As jy bekommerd is oor jou baba se fontanel, gaan liewer na die klinieksuster, dokter of noodeenheid toe. ’n Mens moet ook in die eerste ses weke ná baba se geboorte elke week kliniek toe te gaan. Met elke besoek sal jou kind se kopomtrek gemeet word om te verseker dat die brein teen ’n normale pas ontwikkel.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees