Jou gewig tydens swangerskap

akkreditasie
Terwyl swangerskap ’n kosbare tyd is, sou die meeste van ons liewer een van die onafwendbare newe-effekte wou vermy: daardie ekstra bultjies wat oral hul verskyning maak.

Ontspan oor jou gewig – jou swangerskap is die een tyd in jou lewe wanneer dit in die haak as die kilogramme aanpak. Dis egter belangrik om binne die reëls gewig aan te sit en nooit jou of baba se gesondheid in gevaar te stel nie. Hier is ’n paar riglyne, maar onthou om jou dokter te raadpleeg vir voorstelle wat by jou lyf, gewig en omstandighede pas.

Jou swangerskapboek sê jy moet sowat 12 kg aansit terwyl jy verwag en nou is jy bekommerd, want die skaal trek al op 15 kg ... Moet jou nie onnodig kwel nie, sê dr. Liza Fowler, ’n ginekoloog by die Louis Leipoldt Medi-Clinic in Kaapstad. Die vraag is nie hoeveel kilogram jy aansit nie, maar wat jy voor die swangerskap geweeg het. Die ideaal is dat jou voorswangerskap-gewig met 17 tot 20 persent toeneem terwyl jy swanger is.

Dit gaan dus hier oor persentasies eerder as ’n vaste aantal kilogramme, sê Liza. Dit gesê, kan ’n mens gewoonlik min of meer voorspel hoeveel kilogram jy per trimester sal optel. Die meeste gewig kom in die tweede en derde trimester by (sowat 300 tot 450 gram per week), en die grootste sprong in gewigstoename is tussen week sewentien en 24. In die eerste trimester tel jy maar gemiddeld tussen 0,7 en 1,5 kg op.

Kom ons kyk ’n bietjie waar al hierdie gewig vandaan kom:

•    Baba: 3,5 tot 4 kg met geboorte
•    Jou borste: 0,5 tot amper 2,5 kg swaarder as gewoonlik
•    Baarmoeder: sowat 1 kg
•    Plasenta: sowat 500 g
•    Vrugwater: sowat 1 kg
•    Bloedtoename: 1,3 tot 2 kg
•    Vogtoename: byna 1,5 kg

Neem jy dit alles in ag, klink 15 kg ekstra glad nie so erg nie – en dit sluit nie eens die vet in wat jou lyf tydens die swangerskap opgegaar het nie! Jou liggaam het baie meer energie nodig terwyl jy swanger is en die opgegaarde vet help nie net hiermee nie, dit vervoer ook vitamiene en help aan baba se senustelsel bou. ’n Gesonde toename in vette kan nog 2 tot 4 kg by jou swangerskapgewig voeg ...

Is jy te lig of te swaar?

Die ideaal is om voor jy swanger raak, jou gewig reeds onder beheer te hê. Kenners stel ’n liggaamsmassa-indeks (LMI) voor van tussen 20 en 24. Dit beteken dat wanneer jy jou lengte met homself maal en die totaal deur jou gewig deel, moet die antwoord tussen 20 en 24 wees. Die sommetjie lyk so: kg/lengte².

Elke vrou se metabolisme verskil en so sal dit ook tydens en ná die swangerskap wees. Terwyl jy swanger is, versnel jou metabolisme wel omdat die fetus baie voedingstowwe nodig het en jou liggaam meer energie verbruik. 

As jy ondergewig is ...
As jy voor jou swangerskap ondergewig is (’n LMI van onder 20), is daar ’n kans dat jou baba ook ondergewig sal wees. In ernstige gevalle kan dit komplikasies veroorsaak soos vroeë geboorte, lae suiker, lae temperatuur en selfs sterfte in die baarmoeder, sê Liz. As jy ondergewig is, moet jy dus liefs met ’n ginekoloog, dieetkundige en sielkundige (indien nodig) praat om die oorsaak vas te stel en ’n gesonde swangerskap-eetplan uit te werk.

“Onthou egter op dat dit taamlik algemeen is om in jou eerste trimester gewig te verloor weens aptytverlies, naarheid en braking. Dit word net gevaarlik as jy in die proses ontwater en geen kilojoules kan inneem nie,” sê Liz.

As jy oorgewig is ...

Indien jy weer oorgewig is, is die kans goed dat jou baba ook bogemiddeld groot sal wees. Die grootste gevaar is egter dat jy diabetes of hoë bloeddruk ontwikkel, albei toestande wat meer algemeen by oorgewig swanger vroue voorkom.
“Vroue wat reeds oorgewig is en swanger word, moet dus ’n beheerde, gesonde eetplan ernstig oorweeg,” is Liz se raad. “Die idee is nie om kilojoules te beperk nie, maar om verdere oormatige gewigstoename te voorkom.”

As dit by die verloorslag kom ...
Hoe vinnig kan jy verwag om die kilo’s af te gooi nadat jou gogga gebore is?
Die grootste verlies is in die eerste tien dae omdat jy dan baie van jou liggaamsvog verloor. Daarna behoort jy omtrent 250 gram per week te verloor, sê Liz.  Borsvoeding help jou ook om gewig af te skud, maar dit begin eers ná sowat sestig dae gebeur en dan ook net as jy ’n normale hoeveelheid kilojoules inneem.


Dieetraad

Daar is twee goed wat ’n swanger vrou nie moet doen nie: Een is om te dink sy moet vir twee eet, en die ander is om op ’n kitsdieet te gaan.

Dié raad kom van Antonette Grant, ’n dieetkundige van Rustenburg en self ook ’n ma.
“As jy vir twee eet, gaan jy te veel gewig aansit en sukkel om dit agterna te verloor,” waarsku sy.
As jy ondergewig is wanneer jy swanger raak, kan jy tussen 13 kg en 18 kg optel.
As jy ’n normale gewig het, kan jy sowat 11 kg tot 14 kg – en selfs tot 16 kg – aansit. Maar oorgewig vroue moet liefs nie meer as 11 kg of minder as 7 kg optel nie, sê Antonette.

En nog ’n stukkie nuttige raad: Onthou, die ekstra vetjies verdwyn nie eensklaps wanneer baba sy opwagting maak nie. Moet dus nie klere wat jy voor jou swangerskap gedra het, in jou hospitaaltassie pak nie – jou kraamdrag gaan ’n hele paar weke ná baba se geboorte nog goeie diens doen.

Dieetwenke

•    Omega 3-vetsure kan help as jy aan asma ly.
•    Eet klein maar gereelde maaltye, veral as jy naar is en sooibrand kry.
•    Oefen elke dag, al is dit vir kort rukkies.
•    Drink genoeg vloeistof, maar onthou koffie, swart tee en drankies wat kafeïen bevat, tel nie as vloeistof wanneer jy swanger is nie.


Rooi lig

Bly ver weg van dieet terwyl jy swanger is, want dit kan die groei van die fetus beperk en jou eie gesondheid later aantas. ’n Kitsdieet is nie gesond nie, veral nie as jy swanger is nie. Jou groeiende baba het ’n bepaalde hoeveelheid proteïene, koolhidrate, vette, vitamiene en minerale nodig. ’n Tekort aan enige van dié voedingstowwe kan groei vertraag of lei tot gebreke.

”Onthou, die fetus is jou liggaam se eerste prioriteit en as jou dieet nie genoeg kalsium en kalium bevat nie, sal jou eie bene in jou bloedstroom opgeneem word deur jou liggaam om dit aan die fetus te verskaf. Dit kan lei tot laer beendigtheid en probleme met osteoporose wanneer jy ouer is,” sê die Rustenburgse dieetkundige Antonette Grant.


‘Hoe ons dit ervaar het’
:

Linda Stoffberg, Kaapstad.
Ek is ma van twee dogters wat 19 maande verskil. Met Mia, die oudste, het ek ’n hele 19 kg aangesit, want toe ek hoor ek is swanger, het ek gedink ek moet vir twee eet. Dit was amper asof iemand my toestemming gegee het om net weg te lê.

Met Kayla het ek al geweet ek gaan agterna self van die gewig ontslae moet raak – borsvoeding het toe nie die wonderwerke verrig wat ek verwag het nie – en toe het ek net 11 kg aangesit.
Mia was 3,3 kg met geboorte en ek het haar vir drie en ’n half maande geborsvoed. Die gewig wat ná die geboorte oorgebly het, het ek oor tien maande verloor. Teen daardie tyd was ek weer swanger. Kayla het 4,2 kg geweeg en is vir ’n hele tien dae geborsvoed. Ná ses weke het ek die 11 kg verloor.

My storie is dus nie so erg nie – ek het altesaam 30 kg verloor, maar 7,7 kg daarvan was darem die babas – maar die slegte nuus is dat ek nie die vorm van my lyf herken nie. Waar ek altyd ’n middel gehad het waarom ’n belt kon vasmaak, het ek nou net een lang silolyf. En het ek genoem dat my voete ’n grootte groter is sedert my eerste swangerskap?

Colette du Plessis, Durbanville
Ek het gelukkig net 8 kg in aangesit met my eerste swangerskap, maar moet byvoeg dat ek aan die begin baie naar was en seker eintlik minder geëet het. Verder dink ek die uitsny van wyn het ’n groot verkil gemaak!

Ek het die meeste gewig tussen week agt en tien aangesit, en toe weer sowat vyf weke voor Matthys se geboorte. My gewig was dus nie ’n probleem nie; dalk omdat ek geborsvoed het en ná sowat twee weke elke aand gaan stap het. Drie tot vier maande ná die geboorte was ek weer by my ou gewig – dalk nog maerder, maar dit was van min slaap!

Oor die algemeen was gewig nie vir my ’n kwessie nie en ek besef ek was net baie gelukkig, hoewel ek darem ook ’n bietjie moeite gedoen het deur op te let wat ek eet en Pilates-oefeninge te doen om my maag en agterstewe in toom te hou.

Anoniem, Kaapstad
Gelukkig het my ginekoloog my nie een keer geweeg tydens my swangerskap nie. Hy het met my eerste besoek, toe ek reeds swanger was, gesê dat ek nou al ’n mooi groot vrou is en self moet besluit wat ek met my gewig tydens my swangerskap wil doen. Gelukkig het ek nie te veel gewig aangesit nie en het ek die sowat 10 kg weer baie vinnig ná die geboorte afgeskud.

Baie van my gewig was ook water wat ná die geboorte verdwyn het. Ek was verskriklik geswel. Maar ek moet byvoeg dat ek reeds oorgewig was toe ek swanger geraak het. Ek glo vas die feit dat ek geborsvoed het, het gehelp met die verloor van die water sowel as die gewig. Jou liggaam moet net soveel harder werk om al daardie melk te maak.

Cathy du Toit, Nelspruit.

Ná die eerste trimester het ek 67 kg geweeg en het 3 kg verloor omdat ek baie naar was. Ek het gedink dis ’n goeie begin. Die volgende drie maande het ek stadigaan begin optel, maar was steeds nie lus vir soetgoed nie.

In die laaste drie maande het ek elke week 500 g opgetel en het my suikertand teruggekeer. Die oggend van Niel se geboorte het ek tussen al die opgewondenheid deur onthou om myself te weeg. Ek was 78 kg. Almal het gesê dat borsvoeding die ekstra vetjies sou wegsmelt en dat om te borsvoed vir ’n dag is soos om 10 km ver te hardloop.

Dit was glad nie waar in my geval nie. Soos Niel se aanvraag groter geword het, moes ek meer eet om by te hou en het in daardie tyd gewig opgetel waarmee ek vandag nog opgeskeep sit. Ek is nou weer swanger en 5 kg swaarder as met Niel.

Cindy de Jager, Melkbosstrand

"Ek het in totaal 18 kg opgetel met my swangerskap nadat ek geweet het my ginekeloog het aanbeveel tusen 9-12kg is normaal en gesond vir jou en baba,maar ek het gevind aan die begin tel mens min gewig op omdat die eerste drie maande uit ’morning sickness’ bestaan het en mens so ook afgesit was van baie soorte kosse.

Die volgende drie maande het ek stelselmatig en stadig gewig opgetel soos wat ek ’n eetlus terug
gekry het en soos die baba begin groter word het. Ek het die meeste gewig in die laaste trimester opgetel aangesien dit die drie maande was waar al hoe meer ’cravings’ ontstaan het en  waar ek kon voel my liggaam het begin vra dat ek moet eet vir twee, alhoewel ek gesond probeer eet het, het ek nog steeds meer porsies geneem..

Nadat Joshua gebore is het ek so 70kg geweeg wat beteken het dat ek ’n goeie 8kg ligter geweeg het na geboorte.Omdat ek geborsvoed het was daar nie regtig enige probleme met gewig na die geboorte nie en het ek die oortollige 10kg binne die eerste 2 maande afgeskud en glo ek die borsvoeding het baie gehelp omdat my eetlus verminder het ek ek "geforseer" was om gesond te eet en weg te bly van kosse wat gasse veroorsaak en enige kaffeine.  Maar toe ek eers opgehou borsvoed het wat 10maande later was kon ek onmiddelik voel dat sonder oefening en ’n gesonde
dieet gaan my gewig nie dieselfde bly as toe ek geborsvoed het nie. Oefening en ’n gesonde dieet is al wat ek dink jou sal help om weer in die kleertjies in te pas na geboorte veral as jy nie borsvoed nie.

Bronne:
Dr. Liza Fowler, ginekoloog by die Louis Leipoldt Medi-Clinic in Kaapstad, 021-945-3564
Antonette Grant, dieetkundige van Rustenburg, 082-376-2128.
www.mayoclinic.com

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees