Jou hospitaaltas: wat om te onthou

akkreditasie
suitcase
suitcase
Hier's die als-in-een lysie van wat om te pak vir die hospitaal

Om jou hospitaaltassie reg te pak, is amper net so belangrik soos die bevalling self! Want immers kan dít wat in die tassie wag, die blos terug op jou wange sit nadat jy ’n paar uur in kraam was. Daarby kan jy nie van pappa verwag om die laaste goedjies in te druk net voor julle hospitaal toe jaag nie, want dink net hoe hy nou vir Michael Schumacher gaan ore aansit. Dís waarom menige vrou al sonder ’n foto van haar pasgebore baba opgeëindig het...

’n Tas wat oral pas

Tensy jy een van daardie gelukkige uitverkorenes is wat in ’n hotel vir ’n hospitaal gaan kraam, is die plekkie vir ’n tas langs jou bed gewoonlik maar bra min. Hoe kleiner die tas dus, hoe vriendeliker die hospitaalpersoneel wat nie elke kort-kort daaroor hoef te val nie.

Slaapklere

Onthou jy daardie sexy satyndingetjie wat jy op jul wittebrood gedra het? Wel, dis die tipe slaapgoed wat nie gaan deug nie, veral nie as jy ’n saal met ander brose moeders deel nie.

Pak drie stelle slaapklere in, verkieslik die soort wat voor oopknoop as jy wil borsvoed. Onthou, selfs al het jy ’n keisersnee gehad gaan jy aan die begin taamlik kwaai bloei; donker slaapgoed is dus beter as ligtes.

Pantoffels

Hoewel ’n mens dink dat hospitale steriele, skoon plekke is, gaan jy dalk anders voel wanneer jy ’n paar keer kaalvoet op en af in die gange geloop het. En omdat swanger vroue en dié wat pas gekraam het, se balans taamlik aangetas is, is dit dalk wys om die parmantige hoëhak-nommertjies met die plastiekblommetjie op die toon by die huis te los.

As jou baba in die winter gebore word, kan jy ook ’n paar dik, warm sokkies inpak om jou voete lekker warm te hou.

Weggooibare broekies

Die woord passiedoder kry splinternuwe betekenis sodra jy die gaasagtige broekies beleef wat ’n vrou veronderstel is om te dra pas nadat haar baba gebore is. Maar aan die ander kant: Geboorte kan ’n taamlik bloederige spul wees en as jy ’n keiserwond het, is daardie sagte gaasbroekies net die regte ding om ’n sanitêre doekie op sy plek te hou. Pak sommer vier van die broekies in jou tassie.

Sanitêre doekies

Vergeet maar van daai pikante plat doekies, al het jy dit jou hele lewe nog gebruik. Daar is spesiale kraamdoekies op die mark, maar Dr White’s (die grotes wat byna net so groot is soos ’n babadoek) werk net so goed. (Onthou, as jy in die knyp is kan jy ook ’n babadoek in die hospitaal gebruik.)

Borsvoeding-bra

As jy op jou waardigheid gesteld is, is die heel laaste ding waarmee jy wil sukkel ’n ontoeganklike bra elke keer wanneer jou nuwe pienkvoet wil drink.

Linne-oortreksels

Sommige hospitale verskaf hul eie linne-oortreksels (dit is ’n waterdigte vierkant van plastiek wat keer dat die linne vol bloed bemors word), maar ander vereis dat jy jou eie saambring. Dis dalk raadsaam om voor die tyd uit te vind voor jy geld daaraan bestee.

Toiletware

Behalwe vir die euforie wanneer jy ’n pasgebore klein babatjie in jou arms hou, is daar min dinge wat soveel vreugde kan verskaf soos ’n stort en om jou tande te borsel pas nadat jy die lewe geskenk het. (En teen die tyd wat jy dit gaan doen, hetsy ná ’n normale geboorte of ’n keiser, gaan dit voel asof jy dit dae laas gedoen het.)

Bederf jouself met heerlike badgoed en sjampoe – jy verdien dit beslis nadat jy ’n baba in die wêreld gebring het! Wees egter versigtig vir produkte met baie skerp geure. Onthou, jou baba se neusie is nog glad nie gewoond aan reuke nie en dit kan hom vreeslik laat nies. As jy borsvoed, is dit veral wys om glad nie parfuum of sterk gegeurde rome of poeiers te gebruik nie.

En daar is niks so lekker soos ’n titsel grimering om die blos terug op jou wange te sit nadat jy ’n paar uur in kraam was nie.

Kamera en batterye

As jy nie weke voor die tyd al jou kamera wil inpak nie, is dit wel ’n goeie plan om solank ’n ekstra pak batterye (en film) vir jul kamera in te pak. Jy sal nie glo hoe vinnig raak batterye pap van al die foto’s wat jy gaan neem nie!

Lipbalsem

Ja, om een of ander rede is ’n mens se lippe baie droog nadat jy ’n baba gehad het. Pak sommer ook ’n klompie mentsuiglekkers in vir wanneer jou mond droog voel – of net vir ingeval jou asem dalk ’n geurtjie het.

Moenie jou juwele inpak nie

Jou kosbare pêrels gaan die heel laaste ding op jou brein wees sodra daai klein koppie eers in die holte van jou arm rus. Jy mag in elk geval geen juwele in ’n hospitaalteater dra nie, nie eens ’n horlosie nie.

Ekstra kussing

Kussings in ’n kraamsaal is gewoonlik so skaars soos stoele vir ’n mens se gaste... Bring dus ’n kussing of twee ekstra saam, veral as jy wil borsvoed.

Pen

Die meeste private hospitale bombardeer ’n mens deesdae met allerlei vraelyste . . . oor die diens, die kos, jou algemene indrukke, noem maar op. Bring jou eie pen saam.

Telefoonlysie

Nadat jy die eerste paar uur nét na jou beeldskone baba gestaar het, gaan jy skielik onthou om almal van die geboorte te laat weet.

Jou klere wanneer jy huis toe gaan

Moenie postnatale depressie uitnooi deur die klere in te pak wat jy vóór jou swangerskap gedra het nie! Die kanse is goed dat jy vir die paar weke ná jou baba se geboorte nog net so gemaklik in jou kraamdrag gaan pas. Pak dus iets groots en gemakliks in om mee huis toe te gaan.

Onthou die plat skoene. Jy gaan maar taamlik wankelrig en van balans af wees nadat jy die afgelope tyd meestal gelê het . . .

En as jy kan, bederf jouself met iets nuut en mooi.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees