Jou narkotiseur

akkreditasie
Jou narkotiseur sorg nie net vir 'n pynlose geboorte nie, hy is ook die een wat jou emosioneel begelei en jou geboorte-wonderwerk kan maak of breek.

Jy stap die pad na geboorte saam met jou ginekoloog, maar dis die narkotiseur – wat jy dikwels net voor jou keisersnee ontmoet – wat jou grootste steunpilaar tydens die operasie word.

’n Narkotiseur se hoofdoel is om sy pasiënt pynvry en lewendig deur die keisersnee te help, sê dr. Pieter Bettings, Johannesburgse narkotiseur en president van die Suid- Afrikaanse Vereniging van Narkotiseurs.

Maar narkotiseurs speel ook ’n belangrike morele ondersteuningsrol. “Vroue praat gewoonlik nie met die ginekoloog nie, want hy is besig om te sny en het nie tyd vir gesels nie. Al die vrae kom dus na die narkotiseur toe. Hy is die kruk waarop die vrou steun en met wie sy gemaklik voel.”

’n Pynlose keiser

Met ’n keisersnee word spinale of epidurale verdowing gewoonlik ingespan. Dié twee prosedures verdoof die spinale kolom op verskillende maniere, maar met dieselfde resultaat.

Met spinale verdowing gee die narkotiseur jou eers ’n drup sodat hy binneaarse toegang het vir onmiddellike toediening van middels indien nodig. Daarna vra hy dat jy regop sit en jou rug krom maak sodat dit makliker is om tussen die rugwerwels in te kom.

Tydens ’n steriele prosedure word ’n lang, dun naald tot in die spinale kanaal geplaas. “As ons spinale vloeistof terugkry, weet ons ons is op die regte plek en spuit ons ’n plaaslike verdowingsmiddel in die kanaal. So sluit ons vinnig die senuwees af,” sê Pieter.

’n Blok is voldoende as die pasiënt niks van torakale werwel 4 af kan voel nie. “ In leketaal: Sy sal niks voel van haar tepels af ondertoe nie.” ’n Spinale blok verdoof jou sowat drie tot vier uur lank. Epidurale verdowing werk presies dieselfde, behalwe dat die naald groter en dikker is en nie so diep geplaas word nie.

Die hoeveelheid verdowingsmiddel is ook meer: Pleks van 3 ml kan dit tot 20 ml wees. ’n Kateter word ingeplaas sodat die dokter ná die keisersnee jou verdowing kan aanvul om pyn te verlig.

Narkose word by uitsondering tydens ’n keisersnee gegee, sê Pieter. “Tydens narkose neem ons totale beheer van die pasiënt en eintlik al haar breinfunksies – willekeurig (eet en denke) en onwillekeurig (asemhaling, hartspoed, bloeddruk, ens). Dit plaas ’n groot verantwoordelikheid op die narkotiseur.”

Tydens verdowing monitor die narkotiseur die hart- en longfunksies, asook die asemhaling van die pasiënt, sê Pieter. “Die belangrikste gasse wat ons monitor is suurstof, koolstofdioksied en die hoeveelheid narkosegasse.

Ons kan sekere breinfunksies monitor, die hoeveelheid suurstof wat die brein kry en die diepte van die slaap.” Hy sê sterftes weens narkose het baie afgeneem namate tegnologie en rekenaars verbeter en beter monitering moontlik gemaak het.

Hoe jy kan voel

Die grootste newe-effek van spinale of epidurale verdowing is dat jou bloeddruk kan val, sê Pieter. Jy sal dit eerstens ervaar as ’n bietjie naarheid. Dit kan uiteindelik oorgaan in komplikasies vir jou en jou baba, aangesien dit ’n invloed het op die bloed- en suurstoftoevoer na die plasenta.

“Dis ’n normale komplikasie, maar nie lewensgevaarlik nie – solank daar toepaslik opgetree word deurdat jou narkotiseur byvoorbeeld ekstra vog deur die drup toedien, jou van posisie laat verander of middels soos efedrien toedien om die bloeddruk te herstel.

Narkose deur mense wat nie opgelei is nie, is egter lewensgevaarlik. Dis ook baie gevaarlik en ontoelaatbaar as dieselfde dokter narkose toedien én die keisersnee behartig.”

Dis nie noodwendig nadelig as die dokter ’n paar keer probeer voor hy die naald op die regte plek inkry nie, maar dis natuurlik nie lekker vir die pasiënt nie, sê Pieter. Verskeie faktore speel ’n rol in hoe maklik die dokter die naald vir die spinale of epidurale verdowing by die regte plek ingeplaas kry:

Grootte van die pasiënt: As ’n vrou oorgewig is, is dit moeiliker om die opening tussen die werwels te voel waardeur die naald gesteek moet word. By vroue met ’n liggaamsmassa-indeks van meer as 40
word dit soms met behulp van ’n sonar gedoen.

Posisie van die pasiënt: Sy moet vooroor leun, kop teen die bors met die skouers wat afhang, sodat die knoppe van die rugwerwel uitstaan.

Siektetoestande soos spina bifida of enige rugmurgpprobleme kan sake bemoeilik. Enige chroniese siekte soos suikersiekte of harttoestande maak narkose ook moeiliker.

Narkotiseur se ondervinding: Hoe meer bedrewe jou narkotiseur, hoe makliker sal hy waarskynlik die eerste keer die kol tref.

Epiduraal of spinaal Spinale verdowing is makliker as epidurale verdowing. Nog ’n algemene newe-effek is hoofpyn. “Dit kom meer dikwels voor. Dis nie lewensbedreigend nie, maar ongemaklik. Die oorsaak is die aanhoudende lek van spinale vloeistof as die dura (vlies) per ongeluk ’n gaatjie in gekry het. Dit laat geen permanente skade nie en kan nie gesien of gevoel word nie, maar lei tot hoofpyn.

“Ons behandel dit gewoonlik eers met pynpille, maar ná 72 uur seël ons gewoonlik die ‘lekplek’.”

Kan ek my narkotiseur kies?

Daar ís hospitale wat daarvoor voorsiening maak dat vroue die narkotiseur van hul keuse kan aanvra (ander werk net met vaste narkotiseurs wat deur die hospitaal goedgekeur is), maar dis om verskeie redes nie algemene gebruik in Suid-Afrika nie.

Pieter verduidelik dat narkotiseurs gewoonlik verkies om saam met spesifieke dokters te werk, en andersom. “Omdat die narkose aangepas moet word by die soort operasie, werk dokters meestal
met dieselfde narkotiseur, sodat daar beter gekommunikeer word en ’n verstandhouding kan ontstaan oor wat albei doen, verduidelik Pieter.

“Vertroue tussen die ginekoloog en narkotiseur is baie belangrik vir suksesvolle operasies.” As jy dus jou eie narkotiseur wil kies, is ’n goeie beginpunt om dit met jou ginekoloog te bespreek.

Wat kos jou narkotiseur?

Tariewe vir keisersneenarkose verskil van narkotiseur tot narkotiseur, maar pryse wissel gewoonlik tussen R2 500 en R3 500, afhangende van teatertyd.

Die Johannesburgse narkotiseur Pieter Bettings sê sy rekening vir ’n elektiewe keisersnee van 50 minute is sowat R3 300.

Jy kan verwag dat jou narkotiseur ...

  • Haar voor die keisersnee aan jou kom voorstel.
  • Vir jou verduidelik wat  sy gaan doen tydens die keisersnee en wat van jou verwag word.
  • Die spinale of epidurale verdowing veilig en doeltreffend toedien.
  • Tydens die keisersnee jou gesondheid noukeurig monitor en die nodige aanpassings maak om enige ongemak te verlig.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees