Jou toekomstige kind

akkreditasie
Ons almal wonder oor die soort mens wat ons baba eendag gaan word. Jy kan reeds 'n intelligente raaiskoot vat oor hoe hy as volwassene gaan lyk en optree.

Jy het seker al baie na jou baba in sy wiegie gestaar en gewonder hoe hy eendag gaan lyk. Gaan hy lank wees soos sy pa? Gaan hy musikaal wees soos jy? Het hy straks oupa se ondernemingsgees geërf?

Hierdie vrae is moeilik om te beantwoord omdat oorer­fikheidsfaktore nie die enigste bepaler van jou kind se voorkoms en persoonlikheid is nie – omgewing speel ook ’n belangrike rol.

“’n Liefdevolle, versorgende en stimulerende ouerhuis het ’n groot uitwerking op ’n kind se ontwikkeling, in so ’n mate dat selfs sommige oorgeërfde tekortkominge oorkom kan word,” sê Anja Botha, ’n dosent in ontwikkelingstudie aan die Vrystaatse Universiteit.

Hoe slim gaan my kind wees?

Die mylpale wat ’n baba bereik (soos kruip en loop) en die gemak waarmee hy inligting inneem en verwerk kan op latere intelligensie wys, sê Anja.

As jy ’n positiewe en stimulerende omgewing vir jou baba skep kan jy hom help om sy volle potensiaal te ontwikkel. Dis oor en oor bewys dat ’n kind se verstandelike ontwikkeling ’n hupstoot kry as daar gereeld stories vir hom gelees word. Toegang tot goeie gesondheidsorg en skole help die saak verder.

Gaan hy vriendelik wees?

Jou baba se aangebore temperament is ’n boublok van sy latere persoonlikheid, sê Anja. Maar dis nie die enigste bepalende faktor nie.

Die mate waarin sy ouers hom onvoorwaardelik aanvaar en met aanpassings help, speel ook ’n rol. Ouers se eie persoonlikheid het ook ’n invloed op hoe ’n baba se persoonlikheid ontwikkel.

Sommige babas is vriendelik en pas maklik by verandering aan, ander het meer tyd nodig om aan ’n nuwe situasie gewoond te raak. ’n Klein persentasie het ’n moeilike temperament en is dikwels huilerig en prikkelbaar. Maar selfs ’n moeilike temperament kan in ’n vriendeliker geaardheid omgetower word as ’n kind se ouers hom met empatie behandel.

Persoonlikheid is nie stabiel nie; dit kan verander, sê prof. Adilia Silva, persoonlikheidskenner en sielkundige navorser aan die Universiteit van die Witwatersrand.

’n Ekstrovert-baba sal nie sommer in ’n introvert-grootmens verander nie, maar die graad van sy ekstroversie kan verander. Hy kan byvoorbeeld minder of meer oop of uitgaande word.

Net so sal ’n vrolike baba nie noodwendig as ’n vrolike volwassene grootword nie. En ’n ongelukkige baba... het dalk net koliek!

Wat van baba se talente?

Hoewel sommige kinders van kleins af al ’n sterk aanleg vir byvoorbeeld musiek of wiskunde het, speel hul omgewing ’n groot rol in die ontwikkeling van hul talent, sê Anja.

“’n Kind moet toegang hê tot geleenthede waar sy talente ontdek en ontgin kan word. Dit help nie hy het ’n musiekaanleg, maar word nooit blootgestel aan musiekopleiding nie. Daarby presteer kinders wat van kleins af in ’n stimulerende omgewing grootword oor die algemeen beter as kinders wat nie gestimuleer word nie.”

Anja sê interessant genoeg speel gene net ’n klein rol in kreatiwiteit, aangesien dit ’n vaardigheid is wat deur die meeste kinders aangeleer kan word.

Gaan hy so vet bly?

’n Mens kan ook nie juis uit ’n baba se gewig wys word hoe sy as grootmens daar gaan uitsien nie, sê Johan. “’n Baba begin teen omtrent 34 weke van swangerskap vet onder die vel neerlê, en dit neem in haar eerste jaar toe. Teen ’n jaar oud, wanneer die meeste babafoto’s geneem word, het hulle die meeste babavet.”

Dan neem dit skielik af en lyk die peutertjie taamlik maer, want die spiere begin groei en die vet neem minder vinnig toe. Hoe vet ’n mens as volwassene word, word grootliks deur jou biologiese ouers bepaal, maar leefstyl speel ook ’n rol.

Sal hy so besig bly?

’n Aktiewe baba word gewoonlik ook ’n aktiewe grootmens, sê Adilia. “Maar weereens wissel dit na gelang van ’n kind se belangstellings en omgewing. Net so sal ’n nuuskierige baba wat sy vingers oral wil indruk, waarskynlik ’n weetgierige volwassene word.” Maar dit kan alles verander, afhangende van hoe jy jou kind beitel.

Hoe gaan my kind lyk?

Tensy baba ’n baie duidelike - sieke eienskap het soos ’n besondere lang ken, is dit moeilik om te voorspel hoe haar gesig as volwassene daar gaan uitsien, sê prof. Johan Koeslag van die department siologie by die Universiteit van Stellenbosch se fakulteit gesondheidswetenskappe.

Daar is min verband tussen ’n babafoto en ’n foto van dieselfde mens as volwassene. “Kinders se gesigte kan baie verander, veral in die puberteitsjare,” sê Johan.

Bly sy haarkleur dieselfde?

Blonde of donker hare bly nie noodwendig vir altyd so nie, sê Johan.

“’n Baba kan met geboorte spierwit hare hê en as volwassene ’n swartkop wees. “ ’n Mens se haarkleur verander regdeur jou lewe.

Die tipe hare, asook die sterkte en tekstuur verander ook. Dit gebeur met al die hare op jou lyf.” En terwyl die meeste babas met blougrys of bruinswart oë gebore word, kan dié kleur in die eerste drie jaar dramaties verander. Die grootste verandering is tussen ses maande en ’n jaar oud.

As jy net een ding onthou...

Die belangrikste wat jy kan doen, is om jou kind lewenslank onvoorwaardelik te aanvaar vir wie sy is, ongeag hoe haar voorkoms en persoonlikheid verander, sê Adilia.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees