Kies jy pyn... of pynstillers?

akkreditasie
Epiduraal, gas of natuurlik? Hier is al jou pynverligting opsies in die kraamsaal

As jy besluit om normaal te kraam, is die volgende vraag of jy pynverligting gaan aanvaar. Sommige vroue verkies dit om pyn heeltemal vry te spring met epidurale verdowing, terwyl ander die proses so natuurlik moontlik probeer hou deur alle pynverligting te weier. Tussenin is daar natuurlik ’n groot verskeidenheid moontlikhede, en dit help om te weet wat elkeen is sodat jy ’n ingeligte keuse kan maak. Hier is ’n A tot Z van al die maniere waarop jy geboortepyn kan hokslaan.

Gas (Entenox)

Entenox is ’n kleurlose, reuklose gas wat bestaan uit laggas en suurstof. Dis by die meeste Suid-Afrikaanse hospitale beskikbaar en ook by private vroedvroue. Terwyl jy kraam, hou jy die gasmaskertjie oor jou neus en mond en asem diep in wanneer jy voel ’n kontraksie is op pad. Dit help om die pyn te verlig.

Dit duur sowat 45 tot 50 sekondes voor die gas op sy beste werk en dis dus belangrik om dit in te asem voor die kontraksie op sy sterkste is.

As jy baie gas inasem, kan jy effe lighoofdig begin voel en behoort jou hand met die gasmasker outomaties van jou gesig weg te val sodat jy nie te veel inasem nie.

Voordele:

  • Dis maklik om te gebruik en algemeen beskikbaar.
  • Jy beheer dit self.
  • Die kontraksies sal minder intens voel.
  • Jy kan dit saam met ander pynverligtingsopsies soos watergeboorte gebruik.
  • Jy kan dit in enige fase van kraam gebruik.

Nadele:

  • Dit vat nie jou pyn heeltemal weg nie.
  • Dit kan jou mond droog laat voel en jou effens naar maak.

Petidien

Petidien is ’n pynstiller soortgelyk aan morfien wat gewoonlik per inspuiting, maar ook soms deur ’n drup, toegedien word. Dit help jou ontspan en verdoof jou pyn. Petidien kan slegs in die eerste fase van kraam toegedien word wanneer jy nog besig is om te ontsluit. Neem in ag dat dit sowat 20 minute neem voordat dit begin werk.

Dit kan nie te na aan baba se geboorte toegedien word nie omdat dit sy asemhaling kan beïnvloed.

Voordele:

  • Dit laat jou ontspan.
  • Dit kan pyn help verlig in die eerste fase van kraam.

Nadele:

  • Dit laat sommige vroue naar voel.
  • Dit kan jou slaperig maak.
  • As jy te lank wag voor jy vra, kan jy dit nie gebruik nie en het jy geen verligting in die pynlike oorgangsfase nie.
  • Dit steek die plasenta oor en kan jou baba se asemhaling beïnvloed. Hy kan ook slaperig wees vir ’n paar dae ná geboorte, wat borsvoeding kan ondermyn. Jou baba kan net ná sy geboorte ’n inspuiting nodig hê om die petidien teen te werk.

TENS-masjien

TENS staan vir Transcutaneous Electrical Nerve Stimulation. Dis ’n battery-gedrewe elektriese eenheid. Vier elektrodes word op jou rug geplaas om elektriese impulse na die senupunte direk onder die vel te stuur. Hierdie impulse gaan deur die ruggraat en help die liggaam om sy eie “pynstillers”, endorfiene, vry te stel. As die TENS-masjien op ’n hoë frekwensie gestel word, versper dit pynimpulse in die ruggraat sodat jou brein nie die pyn registreer nie.

Jy kan self die frekwensie van die impulse beheer. Hou in gedagte dat dit sowat ’n uur neem vir jou liggaam om op die impulse te reageer en endorfiene vry te stel.

Voordele:

  • Dis maklik om te gebruik en jy kan steeds rondbeweeg.
  • Daar is geen slegte newe-effekte nie.
  • Jy kan dit self beheer.

Nadele:

  • Sommige vroue vind dat dit net in die eerste fase help, wanneer kontraksies nog nie so sterk is nie.

Spinale blok

’n Spinale blok behels die inspuit van plaaslike verdowing in die rug met behulp van ’n lang, dun naald sodat jy nie meer die kontraksies kan voel nie. Gewoonlik kry jy dit in die tweede fase van kraam wanneer jy gereed is om jou baba uit te druk, want dit werk net vir sowat twee uur. As dit dus te vroeg gegee word, kan dit uitgewerk wees voor jy klaar gekraam is.

’n Spinale blok verskaf vinnige, doeltreffende pynverligting en is ’n goeie opsie vir ’n moeilike geboorte waar daar nie reeds epidurale verdowing gegee is nie. Soms word dit in die eerste fase saam met epidurale verdowing toegedien omdat dit vinniger as die epiduraal begin werk.

Voordele:

  • Dis baie doeltreffend en vinnig.
  • Dis net een inspuiting en jy het nie ’n buisie in jou rug soos met epidurale verdowing nie.

Nadele:

  • Dit kan nie soos epidurale verdowing aangevul word wanneer dit begin uitwerk nie.
  • Dit beperk jou beweeglikheid want jy sal nie jou bene voel nie.
  • Jy kan kopseer kry en naar of bewerig voel.

Epidurale verdowing

Dis seker die gewildste pynopsie en behels ’n inspuiting in die ruggraat met ’n hol naald. ’n Fyn buisie word dan deur die naald gedruk en die naald word verwyder. Die narkotiseur dien deur hierdie buisie ’n verdowingsmiddel toe wat jou hele onderlyf verdoof sodat jy geen pyn voel nie. Gewoonlik word epidurale verdowing toegedien wanneer jy sowat 5 tot 6 cm ontsluit is en die kontraksies sterker begin raak, maar dit kan streng gesproke enige tyd tydens die bevalling toegedien word.

Daar is ook deesdae ’n ander alternatief, bekend as die mobiele epiduraal, waar ’n ligter verdowing toegedien word en vroue dus hul voete en bene kan voel en soms selfs kan rondbeweeg. Dit is egter nie so algemeen beskikbaar nie.

Voordele:

  • Jy kry totale pynverligting.
  • Jy is by jou volle bewussyn.
  • Dit kan hoë bloeddruk help beheer.

Nadele:

  • Jy sal ’n kateter nodig hê aangesien jy nie self jou blaas sal kan ledig nie.
  • Jy sal dalk ’n drup in jou arm kry omdat jou bloeddruk skielik kan daal.
  • Jy kan nie self jou kontraksies voel nie en jou dokter of die suster sal jou moet aansê wanneer om te druk.
  • Dit kan veroorsaak dat jy langer kraam.
  • Die kans vir ’n suier- of tanggeboorte is groter.

Hipnose

Hipnose werk op die beginsel dat jy minder pyn voel omdat jou brein nie pynimpulse registreer nie. Baie vroue voel geen pyn hoegenaamd nie, maar nie almal nie. As jy hipnose kies, moet jy tydens jou swangerskap opleiding by ’n hipnoterapeut kry.

Jy moet verkieslik vroeg in jou swangerskap gaan. Sowat ses sessies is nodig, maar hoe meer oefening jy op jou eie het, hoe beter. Jy sal jouself moet hipnotiseer en dis dus belangrik dat jy die proses verstaan en weet hoe dit voel en wat die prosedure is. Daar is ook verskillende vlakke van diepte.

’n Ervare terapeut sal jou gedurende opleidingsessies in hierdie natuurlike staat kan inlei. Daarna moet jy op jou eie oefen, gewoonlik met kassette of CD’s van die terapeut.

Bel die SA Instituut vir Hipnotisme by tel. 0861-102-318 om vas te stel of daar ’n gesertifiseerde hipnoterapeut naby jou woon.

Voordele:

  • Hipnose verminder vrees, spanning en pyn, wat die eerste fase van geboorte kan verkort en kraam vergemaklik.
  • Daar is geen negatiewe invloed op ma en baba nie.
  • Ma en baba raak nie so moeg nie.
  • Jy kan ander pynmedikasie daarmee saam gebruik.

Nadele:

  • Nie alle vroue voel geen pyn nie.
  • Jy moet vir opleiding gaan en vooraf oefen.
  • Nie alle plekke het opgeleide hipnoterapeute nie.

"Hoe hipnoterapie my gehelp het"

Claudia Klein van Kaapstad het ’n hipnoterapeut geword nadat sy self met die hulp van hipnose die lewe geskenk het.

“Ek was gelukkig dat my ginekoloog in hipnose opgelei was. Nadat hy dit aan my en my man verduidelik het, het ons besluit dat ek met elke ondersoek ’n kort hipnose-sessie saam met die dokter sou hê. Ek het ook daagliks geluister na die kassette wat hy my gegee het.

“Albei my swangerskappe was baie genotvol en die tyd vanaf die eerste werklike ‘ongemaklike’ kontraksie tot die geboorte is verminder tot sowat twee en ’n half uur. Die snaaksste deel was dat my man opgelei was om my gewrig sag te druk as teken dat ek dieper moes ontspan, en ek onthou nog helder dat sy ‘druk’ op my arm soms meer merkbaar was as my kontraksies.”

Op die boere-manier

Elaine Zeeman van Standerton het met albei haar kinders, Madelaine (4) en Jané (2), sonder pynverligting die lewe geskenk.

“Ek het nie gevoel ek het pynverligting nodig nie. My mening was dat ’n vrou gemaak is om te kraam. My ouma het 6 kinders gekry sonder pynstillers en my ma het ook daarsonder klaargekom, so ek kon ook.

”Natuurlik was dit seer. Dis ’n seer wat ’n mens nie regtig kan beskryf nie, maar jy vergeet dit so gou! Ek dink as jou baba in jou arms lê, is dit jou pynverligting.

“Met Madelaine was ek ses uur in kraam; sy was ’n groot baba van 3,9 kg. Ek hét in ’n stadium gevoel ek kan nie meer nie en vir my man gesê ek wil nou ’n epiduraal hê. Toe sê hy: ‘Dis nou te laat!’ Ek het so kwaad geword!

“Hy het wel die suster gaan roep om vir my iets te gee, maar as jy mos daar kom waar jy voel jy kan nou nie meer nie, dan is dit vyf minute later verby.

“Ek het dadelik ná Madelaine se geboorte besluit ek sal weer sonder pynstillers kraam, maar met Jané het ek ’n watergeboorte gehad en ek verkies dit. Dit vat nie die pyn weg nie, maar maak dit makliker.

“Vir my was dit goed sonder pynstillers. Jy voel regtig jy het iets bereik. Dis nie almal wat dit kan doen of kans sien daarvoor nie. Ek was trots op myself. En my man het baie meer respek vir my gehad nadat hy gesien het waardeur ek gaan.”

Het jy geweet?

Jy sal ná die geboorte gewoonlik pynstillers soos Myprodol ontvang om pyn te behandel, aangesien jy wel ’n bietjie gevoelig kan wees. As jy ’n episiotomie gehad of jou perineum geskeur het, sal dit ook nodig wees om gereeld in growwe sout te bad.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees