Klop die lus met 'n gesonder alternatief

akkreditasie
Wanneer die kosdrange jou tref, moet jy weet na wat presies jy smag - en hoe jy die lus met 'n gesonder alternatief kan stil.

Jy kan die sout en asyn op die slaptjips proe, daardie heerlike biefburger en die dik sjokolade-
melkskommel ... jy wil dit alles nóú eet. Daar's net een klein probleempie: Jy is ’n vegetariër.

Wanneer en waar het jou lus vir rooivleis en slaptjips dan ingeskop? Kosdrange is deel van die swangerskapservaring. Dit gaan gepaard met ’n bloesende vel, gesonde blink hare en ’n swellende boep. En maak jou maar reg vir ’n paar werklik vreemde luste.

’n Onlangse studie by ’n Amerikaanse universiteit het gevind sowat 40 persent van swanger vroue plaas iets soets boaan hul kosdranglysie, sowat 33 persent het lus gevoel vir souterige kos, terwyl sterk gegeurde kos derde gekom het (17 persent).

Vierde op die lys was suur smake, soos suur appels of sitrusvrugte. Die meeste voeding- en dieetkundiges beveel aan dat as jy so ’n onbeheerste lus na ’n sekere kossoort kry en dis nie iets wat jy werklik nodig het nie, jy dit met iets gesonds vervang sodat dit vir jou en jou baba voedsaam is.

Kalsium

Kaas het ’n hoë kilojoulewaarde en is hoog in versadigde vet. Roomys is ook propvol kilojoules, versadigde vette en suiker. Maar kaas sowel as roomys is goeie bronne van kalsium. Gesonder opsies sluit in laevet- of vetvrye melk, jogurt of bevrore jogurt – alles laag in kilojoules en hoog in kalsium.

Gee jou gerus oor aan dié koslus, want kalsium is kardinaal terwyl jy swanger is.

Eiers

Eiers is ’n goeie bron van proteïene en vitamien B12 en is belangrik vir die senuweestelsel. Dis veral geskik vir vegetariërs. Maar eiergeel bevat ’n aansienlike hoeveelheid cholesterol. ’n Goeie plan vir mense wat hul cholesterol dophou, is om een eier met twee eierwitte te vervang.

Eiers hou ook die gevaar van salmonella-vergiftiging in as dit nie deeglik gaargemaak word nie. Dis gesonder om eiers sonder olie te berei deur dit te posjeer of te kook pleks van te bak.

’n Goeie riglyn is om nie meer as vier eiers per week te eet nie en die res van jou proteïen te kry van bronne soos maer vleis, vellose hoender, vis, laevet-suiwelprodukte en peulgroente.

Grondbone

Grondbone is ryk aan vitamien B3 en hoog in onversadigde vetsure – dus een van die natuur se “goeie" vette. Maar dit kan besmet wees met aflatoksien, ’n gevaarlike swam wat gifstowwe afskei wat lewerkanker kan veroorsaak.

Ons departement landbou toets grondbone gelukkig gereeld om te kyk of dit besmet is. Grondbone en ander neute kan egter ook allergieë veroorsaak, en as jy ’n familiegeskiedenis van neutallergieë het, moet jy dit liewer tydens swangerskap en borsvoeding vermy.

Ander bronne van gesonde vette sluit olyfolie, avokado’s en sade in. As daar nie ’n gevaar van neutallergieë is nie, kan jy gerus knibbel aan kasjoeneute, amandels of Brasiliaanse neute as ’n alternatief vir grondbone.

Suur smake

Suurder smake en terte soos appeltert kan verligting vir naarheid help bring. Piekelasyn of asyn kan
egter ’n aansienlike hoeveelheid sout bevat en dis belangrik dat jy jou soutinname beperk.

Kies liewer suurlemoensap as asyn om slaaisous en groente mee op te kikker. Suurlemoensap bevat ook vitamien C, sonder die sout van ander suur souse.

Ys

Ys help ontwatering voorkom, maar word gewoonlik met ’n ystertekort verbind. Maak dus seker dat jou ystervlak normaal is en neem ’n aanvulling indien nodig. Koue kosse kan ook teen naarheid help.

Sout

Om hoë bloeddruk te voorkom, moet swanger vroue liefs nie meer as ’n teelepel sout per dag inneem nie. Aartappelskyfies en ander geriefs- en verwerkte kosse, kooksouse, toebroodjiesmere en geurmiddels bevat dikwels heelwat sout.

Vermy dié kossoorte liewer heeltemal. Slaptjips wemel weer van die versadigde vette omdat dit in diep olie gebak word. Kies liewer ’n gesonder alternatief soos oondgebakte aartappelskyfies en geur dit
eerder met kruie en speserye as met sout.

Sjokolade

Geen kossoort bevat ’n enkele voedingstof wat uniek is aan daardie produk nie. Alle kossoorte bevat ’n verskeidenheid voedingstowwe en dis dus onwaarskynlik dat jy vir sjokolade lus sal word weens die
voedingswaarde daarvan.

Soms laat swangerskap ’n mens egter voel asof jy op ’n emosionele wipwa ry, en sjokolade troos jou en laat jou beter voel omdat dit jou liggaam se goedvoel-hormone ’n hupstoot gee.

Sjokolade bevat ook kafeïen, wat jou kan laat voel asof jy beter fokus en meer energie het. Kafeïen moet egter beperk word tot minder as 300 mg per dag terwyl jy swanger is (dus nie meer as drie koppies tee of koffie nie).

Sjokolade drup daarby van die kilojoules en nie juis van belangrike voedingstowwe wat swanger vroue nodig het nie. Doen eerder iets wat jy geniet soos inkopies of ligte oefening – dit sal jou ook goed laat
voel, sonder die kilojoules.

Stysel

Jy kan dalk vir stysel lus word omdat jou bloedsuikervlak laag is. Die liggaam skakel stysel in glukose om. Te veel glukose kan jou insulienvlak beduiwel sodat jou liggaam nie vet na wense verbrand nie. ’n Te hoë insulienvlak wakker ook jou aptyt aan, wat slegte nuus vir jou gewig kan wees.

Beperk jou inname van kos met baie kilojoules en verfynde stysel, soos witbrood, kapokaartappels, wit mieliemeel, verfynde ontbytgrane en muesli met te veel suiker. Kies liewer heelgraan-stysels soos saad en rogbrood, patat, mielies, bruinrys, gort en ontbytgrane oos All Bran Flakes

Al gehoor van pika?

Pika is die mediese term vir die onnatuurlike lus vir nievoedsame of skadelike stowwe, soos gras, sand of steenkool. Ja, dis nie net ’n ouvroustorie nie – vroue kry regtig lus vir hierdie vreemde stowwe, sê die dieetkundige Tammy Wolhuter.

Dit gaan meestal gepaard met die eet van grond, modder of klei. Soms word swanger vroue lus vir melerige stowwe soos waspoeier. Ander algemene stowwe sluit in papier, gebrande vuurhoutjies, klippies, gruis, steenkool, roet, sigaret-as, teensuurpille, magnesiawater, koeksoda en koffiemoer.

Tammy sê dis nie duidelik waarom swanger vroue pika kry nie, maar dis dikwels gebaseer op bygelowe en tradisie. Sommige kenners meen ook dit word deur ’n kalsiumtekort veroorsaak.

Sommige stowwe bevat ook gifstowwe soos lood, wat jou en jou baba skade kan aandoen. Ander meng weer in met die opname van yster deur jou liggaam. Mense wat te veel stowwe soos klei, modder, klippies of styselagtige stowwe inneem, loop die gevaar van verstopte ingewande, hardlywigheid, ontsteking en infeksie.

Maak seker dat jy klein en gereelde maaltye eet om drange hok te slaan en lae bloedsuiker te voorkom. Ontbyt, middagete en aandete met versnaperinge tussenin word aanbeveel.

Dis baie belangrik om met jou dokter te gesels oor jou kosdrange aangesien daar baie risiko’s aan sekere kossoorte verwant is.

Vra jou dokter om jou ystervlak dop te hou en neem ’n multivitamienaanvulling om te verseker dat jy genoeg mikrovoedingstowwe inkry.

Maak seker jy volg ’n gebalanseerde eetplan en dat jou versnaperinge ook gesond is. Af en toe kan jy jou maar aan jou kosdrange oorgee – jy is per slot van rekening swanger en kan jouself bietjie bederf
– maar hou maar altyd die gesondheid van jou en jou baba in jou agterkop.

Beste Raad

Sterf jy van lus vir ’n sny koek of ’n oliebol? Eet liewer ’n bagel of roosterbrood met konfyt.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees