Kraam na keiser?

akkreditasie
Alhoewel meeste ginekoloë teen natuurlike geboorte ná 'n keisersnee, maar Zoë Jewell van Johannesburg het dit suksesvol aangedurf.

Toe ek swanger geraak het met Timothy, my eerste (nou 3), het ek en my man, David, albei aan natuurlike geboorte gedink as iets barbaars, ’n prentjie wat ons waarskynlik in flieks gekry het! Maar ná die voorgeboorteklasse het ons gevoel ons wóú en kón ’n natuurlike geboorte beproef. Dis ongelooflik hoe kennis ’n mens bemagtig.

Met ons sonar op 39 weke het dit gelyk of Timothy gewig verloor, hy’t minder beweeg en ’n fetalestres -toets het gewys sy hartklop val beduidend as ek ’n diep Pilates-tipe hoes gee. Ná baie dink en trane het ek op ’n keisersnee besluit.

Nadat ek die besluit geneem het, het ek absolute vrede daaroor gehad. Timothy is die volgende dag gebore en sy naelstring was drie keer om sy nek gedraai. Hy sou nie ’n natuurlike geboorte oorleef het om die ondeunde klein mannetjie te word wat hy vandag is nie.

Hierna het ek in 2009 twee miskrame gehad, die tweede ’n ektopiese swangerskap, maar gelukkig was daar geen skade nie en ons het vroeg in 2010 weer swanger geraak. Die baba was vir my nie net ’n
geskenk van God nie, maar ’n algehele wonderwerk. Ek veronderstel ek het so in hierdie wonderwerk opgegaan dat ek eers teen sowat 30 weke begin dink het oor hoe hy of sy die wêreld gaan binnekom.

Ek het van vaginale geboorte ná ’n keiser gehoor danksy ’n vriendin wat kort voor my gekraam het en gesien dis moontlik. Ek het begin navorsing doen en regtig gemaklik gevoel met die besluit om dit te beproef.

Ek glo ’n kind kies self hoe hy wil uitkom en ek dink Timothy het gekies om uit te kom deur die smiley face, maar ek het ’n gevoel gehad dat my tweede kind ’n ander opsie kies. Ek wou ook graag weet hoe ’n natuurlike geboorte voel.

Die geboorte

Toe my kontraksies begin, het ek eers ’n lang ruk by die huis gebly tot my water gebreek het, en toe wou ek hospitaal toe. Die kontraksies was sterk en minder as drie minute uit mekaar, en as ek nie by die hospitaal gekom het toe ek wel daar aangekom het nie, sou ek my baba waarskynlik tuis in die bad gehad het!

Al het my kontraksies in die middel van die kramery heeltemal verdwyn omdat ek aan monitors gekoppel op my sakrum gelê het, is Kevin om 03:20 gebore, net meer as drie uur nadat ek by die hospitaal aangekom het.

Alles het dus baie vinnig verloop toe ek eers van die masjiene af was en gemakliker kon lê. Die geboorte self was ’n ongelooflike spirituele reis wat David en ek albei saam kon ervaar. Ja, ek het al die werk gedoen, maar David het gesê vir hom was die keisersnee surrealisties omdat hy net in ’n steriele teater vol mense by my kop gesit en die mediese prosedure onder die helder ligte dopgehou het.

Hy het die natuurlike geboorte baie meer geniet omdat hy nuttig en betrokke gevoel het: Hy het die tye tussen my kontraksies gemeet, my rug gevryf en my hospitaal toe aangery. Om te weet hy was daar as my ondersteuning en die stem wat namens my kon praat as ek dalk nie self kon praat nie, het my werklik laat voel ons is saam in die ding.

Ek sal dit beslis weer doen as ek kan – maar as ek met nog ’n baba geseën word, sal ek die baba se keuse eer.

Die voordeel van ’n natuurlike geboorte is dat jy nie daardie aaklige buikpyn het nie en dat jy jou ouer kind kan optel, wat regtig belangrik is. Jy kry ook nie al die medikasie en newe-effekte wat met groot operasies gepaard gaan nie. Al waaroor jy jou moet bekommer is growwe badsout, aambeie en hardlywigheid – niks waarmee ongeskeduleerde medikasie nie kan help nie.

Uiteindelik kan ek net sê dat om natuurlik aan Kevin die lewe te skenk vir my ’n groter prestasie was as om Kilimandjaro uit te klim!

Wat die ginekoloog gesê het

Toe ek met die ginekoloog praat oor vaginale geboorte ná ’n keisersnee (VGNK) het sy gesê sy ondersteun dit, maar gewonder of ek weet wat die risiko’s is en ook gesê sy verwag van my om haar reëls te respekteer.

Sy wou weet of ek besef daar is ’n groter risiko dat my baarmoederwand kon skeur op die plek
waar die keisersnee was, wat my dood kon beteken as ek nie dadelik die regte mediese sorg sou kry nie. Sy het ook uitgewys dat ’n mens met ’n VGNK nie ’n induksie kan kry nie, wat beteken jy kan nie die bevalling versnel nie. En dat kraam nie te lank mag aanhou nie – veral as die water reeds gebreek het nie – aangesien die baba kan stres of jy infeksie kan kry.

My ginekoloog het die volgende reëls gehad:

1. Ek moes kraam by die kliniek waar haar spreekkamer is omdat dit ’n uitstekende nood- ondersteuningstelsel het as iets met my of Kevin verkeerd sou loop.

2. Ek moes ’n kateter hê omdat bloed in die urine ’n vroeë waarskuwingsteken is dat die baarmoeder- wand besig is om te skeur.

3. Ek moes ’n drup hê om dit vir hulle maklik te maak om in ’n noodgeval vloeistowwe en medikasie toe te dien.

Wat ander sê

Ek het soms die gevoel gekry dat baie ma’s half jaloers was op die feit dat ek toegelaat sou word om ’n VGNK te beproef terwyl hul dokters hulle nie wou toelaat nie. My persepsie is dat dokters baie gekant teen risiko is en dus ’n keisersnee verkies omdat hulle dit kan skeduleer en beter kan beheer.

My suster is ’n dokter en die meerderheid van haar mediese vriende het keisersneë gehad omdat hulle al soveel keer gesien het wat alles verkeerd kan loop en hul vertroue liewer in medikasie stel. My suster voel self dat sy liewer haar lyf as haar baba in gevaar sal stel.

Sy waarsku dat ’n VGNK die geboorte-opsie met die grootste risiko is en nooit aangepak behoort te word buite ’n beheerde omgewing waar daar mediese hulp beskikbaar is as iets verkeerd sou loop nie.

Wat jy oor VGNK moet weet

  • Tussen 60 en 70 persent van vroue wat ’n VGNK wil hê, is suksesvol. Dis omtrent dieselfde as die syfer vir suksesvolle natuurlike bevallings met eerste geboortes.
  • Die hoofverskil tussen ’n gewone vaginale geboorte en een ná ’n keisersnee is dat jou en baba se gesondheid met laasgenoemde baie noukeuriger gemonitor word.
  • Die grootste gevaar van ’n VGNK is dat jou baarmoederwand skeur; dit kom sowat een uit 200 vroue oor.
  • Die rede vir jou vorige keiser sal ’n rol speel in jou dokter se besluit of jy ’n goeie kandidaat vir VGNK is.
  • ’n Induksie word nie aanbeveel nie omdat dit te veel stremming op die baarmoederwand plaas en die gevaar van skeur vergroot.
  • Jou kans vir ’n suksesvolle VGNK is minder as jou baba baie groot of as jy baie oorgewig is.
  • Die meeste dokters verkies dat jy in ’n hospitaal kraam sodat die nodige mediese sorg byderhand is indien iets verkeerd loop.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees