Kraamwenke vir elke stadium van kraam

akkreditasie
Kom só deur die vier stadiums van kraam.

1ste stadium

  • Beweeg rond en verander jou posisie dikwels.
  • Vertel jou geboortemaat/vroedvrou/dokter hoe jy voel.
  • Hou jou blaas leeg.
  • Drink klein bietjies water of suig aan ysstokkies.
  • Gebruik kraamballe, warm water, verhitte sakkies, massering, prentjies of die TV om jou aandag af te trek.
  • Indien jy momentum verloor, stop en begin van voor af.
  • Vra vir pynverdowing as jy dit nodig het.
  • Bly betrokke by die vordering van die kraamproses.
  • Wees voorbereid op die onverwagte.
  • Moenie verbaas wees as jy jou “sleg” gedra nie.

2de stadium

  • Dit behels die geboorte van jou baba en terwyl jy dalk voel dinge is buite beheer, weet dat jy in goeie hande is.
  • Fokus en luister na opdragte.
  • Sê hoe jy voel, soos “ek wil druk”, “my bene is seer” of “dis baie seer”.
  • Sit met steun met jou voete op die bed as jy kan, pleks van met jou voete in stiebeuels.
  • Jy sal die drang om te druk voel en as dit kom, bly gefokus. Hou jou oë oop en jou mond toe.
  • Sê vir jou dokter as jy naar voel.
  • Pas ontspanningstegnieke tussen kontraksies toe.

3rde stadium

  • Dis wanneer die nageboorte of plasenta loskom. Jou werk is verby. Jou dokter of vroedvrou sal dit hanteer.
  • ’n Inspuiting in jou dy sal dié stadium verkort.
  • Jy sal dalk gevra word om te hoes om die plasenta wat losgekom het, vry te stel.
  • Borsvoeding help jou baarmoeder om saam te trek en die plasenta vry te stel.
  • Indien nodig, sal jy steke in jou perineum kry.
  • Die vroedvrou sal jou wys hoe om die baarmoeder te “vryf” sodat bloeding verminder word.
  • Maak jou blaas leeg.

4de stadium

Dit behels die eerste 24 uur ná die geboorte. Jy word nou deeglik dopgehou word vir enige nageboortekomplikasies soos bloeding, blaasprobleme, lae bloeddruk of ’n bloedklont. Borsvoed soveel moontlik. Dit verhaas jou herstel en leer jou baba suksesvolle suigtegnieke.

Regte raad vanaf regte ma's

“Stel die hospitaal in kennis sodra jy weet jy is swanger, wees gemaklik met jou ginekoloog en bespreek jou pediater en narkotiseur lank voor die tyd met hom. Ek het nie vooraf kans daarvoor gekry nie en was ongelukkig met albei artse. Ek was dus verplig om die drie maande wat my dogter in die hospitaal was, met ’n pediater saam te werk met wie ek nie goed klaargekom het nie.”
Karien

“Neem ’n lekker boek wat jy weet jy sal nie kan neersit nie, saam vir die vier dae wat jy ná ’n keisersnee in die hospitaal sal moet deurbring. Die kanse is goed dat jou baba die meeste van die tyd sal slaap – geniet dit terwyl jy kan! Ek was nie heeltyd lus vir besoekers nie, maar tussen besoeke was ek eensaam. Moet ook nie die fout maak om te gou terug huis toe te wil gaan nie, veral as jy ander kinders het. Hulle kan ’n paar dae lank goed klaarkom saam met hul pa of grootouers. Benut die geleentheid om jou krag op te bou vir die drie maande van slaaploosheid en harde werk wat voorlê.”
Lynette

“Stel vooraf vas of die hospitaal maaltye vir jou maat sal voorsien. Ons het slegs op die laaste dag van my verblyf besef my man kon die hele tyd (heerlike) maaltye bestel en saam met my geniet het. Pleks daarvan het hy huis toe gegaan om alleen ’n geroosterde broodjie te gaan eet.”
Melanie

“Ons het vir ons ouer kind ’n present gekoop en gesê dit kom van die baba en dit met haar eerste besoek vir haar gegee. Ons het spesifiek ’n present gekoop wat haar besig en stil in die hospitaal sou hou sodat sy nie die ander ma en baba in die kamer sou steur nie. Ons het ook seker gemaak sy was die eerste wat die nuwe baba gesien het, want op 16 maande was dit nog nodig dat sy moes voel sy is gelief en die middelpunt van belangstelling.”
Farah

“Toe ek met my tweede kind se geboorte in die hospitaal was, het ek ’n doelbewuste poging aangewend om met die verpleegsters te kommunikeer. Ek het ’n lekker verhouding met hulle opgebou. Hulle was net soveel meer gewillig om te help wanneer ek en my baba na die babakamer gegaan het. Dit het
gehelp dat dit my tweede kind was en ek het meer selfvertoue gehad, maar hulle was gewilliger om my te help omdat ek ’n poging aangewend het om met hulle te gesels en ook van die werk te doen, soos om my baba te bad en doeke te ruil.”
Lisa

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees