Moeg, moeg, moeg

akkreditasie
iStock
Voel jy gedurig uitgeput en uitgemergel noudat jy swanger is? Vind uit waar die tamheid vandaan kom.

Dit vang jou soms onverhoeds en kan nogal vir ’n verleentheid sorg: Tydens ’n vergadering met die grootbaas sukkel jy verwoed om jou oë oop te hou, of erger nog, jy sluimer per ongeluk in. Moegheid is ’n baie algemene simptoom terwyl jy swanger is, maar wat veroorsaak hierdie ongepoetste en onwelkome besoeker?

Baba kry eerste

Fisiologies is daar ’n hele klompie goeie redes waarom swanger vroue so moeg word, sê die ginekoloog en verloskundige dr. Philip Zinn van die Kingsbury-hospitaal in Kaapstad.

“ ’n Ongebore baba se hoofdoel is om sy ma se hulpbronne op te eis, en in hierdie tyd kom die ma tweede. Die baba maak seker dat hy voorkeur kry as dit kom by bloedsomsloop, suurstof en die nodige voedingstowwe. Elke hartklop, elke ensiemaksie, elke sel wat in jou baba se liggaam groei (teen ’n geweldige pas), gebruik jou energie,” verduidelik Philip.

Lae bloeddruk

Jou bloeddruk het ook baie met jou moegheid te doen, sê Philip.

“Terwyl jy swanger is, kan jou bloeddruk nie so vinnig aanpas soos normaalweg nie. Wanneer jy swanger word, daal jou bloeddruk. Sodra jy by die tweede trimester kom, bereik dit die laagste punt, en hoewel dit later in die swangerskap weer begin styg, bly dit steeds betreklik laag.

“Lae bloeddruk is normaal terwyl jy swanger is en is ’n groot oorsaak van moegheid.” Swanger vroue kan nie so vinnig vir hul lae bloeddruk vergoed soos met ander tye nie.

“Swangerskapshormone en die nodigheid om van ekstra liggaamshitte ontslae te raak, veroorsaak dat die are uitsit en hulle bly wyd, selfs al is die bloeddruk te laag. Dit is hoekom jou bloeddruk nie vinnig genoeg kan herstel as jy plat gelê het nie en dan vinnig en skielik opstaan. Dit kan jou flou laat voel en jy kan selfs omval,” sê Philip.

Minder hemoglobien

Terwyl jy swanger is, verlaag die vlak van hemoglobien – daardie ysterbevattende rooi pigment van die bloed wat suurstof van jou longe na die res van jou lyf vervoer. Dit gebeur omdat jou bloed verdun het sodat die dunner bloed makliker deur die plasenta kan vloei.

“Daarby het die baba ’n ander soort hemoglobien wat jou suurstof sal wegraap, selfs as het jy min suurstof van jou eie. Dis nog ’n rede waarom jou baba jou so moeg maak,” sê Philip.

“Die gevolg van die groter suurstofeise is dat jou hart baie harder moet werk en jou ekstra suurstof word ook eerste vir jou baba gegee. Dit alles kan jou uitput.”

Baie estrogeen

Nie net word jou slaap tydens swangerskap versteur omdat jy ongemaklik voel nie, jy slaap regdeur jou swangerskap sleg omdat die baie estrogeen wat deur jou liggaam bruis, as ’n stimulant werk. “ ’n Hoë estrogeenvlak maak jou meer sensitief vir alle prikkels en dan slaap jy moeiliker.

“Miskien is dit hoekom – as jy eers jou baba het – jy wakker kan word as jou baba huil terwyl jou maat heelnag
rustig verder slaap. Jy is daarop ingestel om ligter te slaap, en as gevolg daarvan is jy die volgende oggend moeg,” sê Philip. 

Die moegmakers om jou

Een van die algemeenste oorsake van uitputting is algemene siektes soos verkoue, sê Philip.

“As jy swanger is, is jou immuunstelsel nie so sterk nie en is jy meer kwesbaar vir siektes soos verkoue. Jy kan
ook nog nie heeltemal van die vorige verkoue herstel het nie wanneer die volgende een jou tref.”

Ander sake soos eise by die werk, die eise van gesinslede en die onvermoë om te rus wanneer jy wel moeg is, kan jou ook heeltemal uitmergel. “Stres kan en het ’n fisiologiese impak op die lyf wat jou moeg laat voel,” sê
Philip.

Daarby het die samelewing nie altyd empatie met swanger vroue nie. Daar word dikwels van hulle verwag om
teen dieselfde pas as voorheen voort te gaan, selfs al werk hul liggaam nou vir twee. Sommige swanger vroue werk tot 38 weke of selfs later, oefen steeds soos voorheen en hou dieselfde pas vol, of probeer dit volhou. Dit alles vererger hul uitputting.

 
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees