"My bloed vernietig my baba"

akkreditasie
Bernard ne Juanita Kloppers van Brits het 'n miskraam gehad en nog 'n baba as gevolg van Rh-bloedonverenigbaarheid verloor. Hul derde seuntjie, Heinrich (1), het dit wonderbaarlik oorleef- maar nie sonder 'n paar amper-tragedies nie. 

My eerste swangerskap was perfek, vertel Juanita.“Ons eersteling, Eric (4), is gesond en sonder enige komplikasies gebore. Eric het ’n positiewe bloedgroep en ek ’n negatiewe bloedgroep, maar ek het nooit ná sy geboorte die nodige teenliggaam-inspuiting gekry nie. My immuunstelsel het met Eric se geboorte sy Rh-positiewe bloedgroep uitgeken en teenliggame gevorm.

Die miskraam 

Sestien maande later was ek weer swanger. Ons was in ons noppies met die nuus, want ’n tweede baba was lankal welkom. Ons was nie bekommerd oor Rh-bloedonverenigbaarheid nie, want soos die meeste ouers het ons vertrou dat ons ginekoloog in my en die baba se beste belang sou optree. In my vyfde week van swangerskap het ek sonder waarskuwing begin bloei. Ons het onmiddellik na ons naaste huisdokter gejaag. Dié dokter het my vir ’n sonar gestuur, wat bevestig het dat ek’n miskraam gehad het.

Ek is toe na my ginekoloog in Johannesburg vir verdere toetse. Die ginekoloog het ook net bevestig dat ek nie meer swanger is nie. Ons het geen verdere antwoorde gekry nie; niemand kon vir ons sê wat die miskraam veroorsaak het nie.

Weer swanger

Twee maande later het ek weer swanger geraak. Dit was ’n seun, wat ons Niël genoem het. Hoewel daar in die eerste paar weke geen komplikasies was nie, het my vorige miskraam baie spanning veroorsaak.

Op 37 weke, net ’n week voor die geskeduleerde keiserdatum, het die ginekoloog opgemerk dat Niël vog op die skrotum het. Om ons gerus te stel, het ons nog twee menings van pediaters ingewin. Nes die ginekoloog bevestig het, was vog op die skrotum nie ’n seldsame verskynsel nie. Dit kan tot ses maande ná geboorte eers opklaar.

Iets in my wou net nie rus kry nie. Ek het ons ginekoloog gesmeek om die keisersnee te vervroeg, maar vergeefs. Niël se longe het nog tyd nodig gehad om te ontwikkel. ’n Paar dae voor die keisersnee het Niël ál minder beweeg. Ek het aangeneem die plek in my baarmoeder word minder – dit is mos maar wat almal altyd sê. ’n Dag voor die operasie het my maag baie styf gevoel. Ek het siek gevoel, maar gedink dis van al die spanning.

Die keisersnee

Die dag van die keisersnee het aangebreek. Die verpleegster wou my voorberei vir die teater, maar sy kon glad nie Niël se hartklop vind nie. Sy het nog ’n verpleegster geroep en die twee het my maag gedruk en gemanipuleer om die baba te draai. ’n Ligte hartkloppie het hulle gerus gestel. Die verpleegsters het my sewe uur, op skedule, die teater ingestoot. Dáár, op die teaterbed, het ek die ginekoloog gevra hoe ’n baba moet lê om ’n hartklop te hoor, want ek kon net nie verstaan hoe die verpleegsters so kon sukkel nie. Haar antwoord was dat Niël tog reg lê, met sy ruggie aan die voorkant van my lyf.

Die keisersnee het heeltemal normaal begin; net soos ek dit met Eric se geboorte onthou. Barnard, my man, het weggespring en soos ’n wafferse fotograaf foto’s geneem van hoe die ginekoloog my oopsny. Alles het normaal verloop, maar iets het net nie reg gevoel nie. My kind het nie gehuil nie. Die pediater het vir Niël opgetel en gedra na waar ek hulle nie kon dophou nie. Hoe langer die pediater besig was, hoe minder foto’s het Barnard geneem – tot hy later heeltemal opgehou het. Ek het steeds gewag vir daardie huil stemmetjie wat sou wys dat my Niël gesond is, maar pleks daarvan het ek gehoor hoe die pediater my baba se lewe probeer red. Stap vir stap.

Ná ’n lang ruk van doodse stilte het die ginekoloog my toegewerk en die verpleegster het my uit die teater gestoot. Niemand het ’n woord gerep nie; die hele gebeurtenis het onwerklik gevoel. Ek het vir Barnard gevra waar Niël is en sy antwoord was: “Hy is by Liewe Jesus.” Ek het gemaak of ek hom nie hoor nie. My baba se dood het eers ’n werklikheid geword toe die pediater vir my kom sê dat Niël oorlede is.

Ek het beroof gevoel. Ek het soos al die ander mammas hospitaal toe gekom, ’n baba gehad en nou lê ek stoksielalleen sonder ’n kleintjie in my arms. Die hospitaal het darem die kostes wat hulle bo mediesefondstariewe hef, afgeskryf. Ek is drie dae later huis toe. Die babakamer en Niël se wiegie was leeg.

Met die sesweke-ondersoek wou ek antwoorde hê. Ons het baie navorsing gedoen en later uitgevind dat Niël tot op 36 weke nog gesond was, maar dat Rh-bloedonverenigbaarheid definitief sy dood veroorsaak het. Hoewel hy spierwit van bloedarmoede was, was hy verder ’n fris seuntjie van 3,5 kg. Geen mens sou kon dink dat daar fout was nie. Ek het te na gekom gevoel, want my kind is dood as gevolg van nalatigheid en die misplaaste vertroue wat ek in ’n ginekoloog gehad het.

'n Boetie vir Eric

’n Paar maande en baie toetse later het ons uitgevind dat ons weer ’n babaseuntjie verwag. Ons het ’n nuwe ginekoloog by die Pretoria-Oos-hospitaal gekies, grootliks omdat die Fetal Assessment Centre daar geleë is en ons die ekstrakundigheid sou nodig hê. Hier word Doppler-sonars gedoen, wat die versnelling van rooibloedselle in die fetus se brein toets. As die baba bloedarmoedig is, met ander woorde min rooibloedselle het, is die versnelling van die rooibloedselle vinniger as die hart saam trek. As daar ’n normale aantal rooibloedselle is, is die versnelling stadiger. Die toetse het bepaal dat die nuwe baba, Heinrich, soos sy pa ’n positiewe bloedgroep het.

Dit was ’n skok, al het ek dit eintlik verwag. As ons hom wou red, was drie binnebaarmoeder-bloedtransfusies my voorland. Ons moes elke vier weke bloedtoetse laat doen sodat die vlak van teenliggame gemonitor kon word. Die toetse het stygende vlakke gewys, wat bevestig het dat my teenliggame wel besig was om Heinrich se bloed te vernietig.

Die bloedtransfusies

Op 26 weke het ek die eerste bloedtransfusie by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria gekry omdat dié hospitaal die beste vir bloedtransfusies ingerig is. Ons eie dokter het ons steeds bygestaan, maar die hospitaalkostes was baie billiker. My senuwees was aan flarde. Ons moes vorms onderteken weens die kans wat ek en klein Heinrich waag. Daar was ’n kans van 7 persent dat ons hom sou verloor. Die dokter het my verdoof, maar ek was steeds bewus van alles wat met my gebeur. Barnard moes alles aanskou en my hande styf vashou ingeval ek dalk wou beweeg. Enige beweging sou Heinrich se lewe in gevaar stel. Die transfusie het sowat ’n uur geduur. Nog ’n Doppler-sonar het gewys dat die prosedure suksesvol was. Ek het olik gevoel – naar, met kouekoors en hoofpyn. As gevolg van die risiko’s moes ek vir 48 uur so rustig moontlik wees.

Ná die eerste transfusie het ek en Barnard geen werk uitgerig gekry nie. Hy het my elke halfuur gebel om seker te maak dat ek nog vir Heinrich voel beweeg. Naderhand het ek nie meer geweet wat ek voel en wat ek my verbeel nie! Ons het dikwels van die plaas af Brits toe gejaag, om net gou ’n sonar te laat doen om die hartkloppie te sien en hoor. Ons moes die dokter vyf dae ná die bloedtransfusie weer besoek. Nog slegte nuus: Heinrich was weer anemies. Op 27 weke het ons die tweede bloedtransfusie laat doen. Ek en Barnard het die spanning hierdie keer beter hanteer omdat ons geweet het wat voorlê. Die transfusie het soos ’n ewigheid gevoel. Ek was so erg verdoof dat ek nie eens vir Barnard kon sê hy druk my hande te styf nie. Hierdie transfusie was ’n sukses en ek was genadiglik nie weer siek nie.

Dit is sulke tyd

Drie weke later het ons dokter vasgestel dat Heinrich weer in gevaar is. Pleks van ’n derde bloedtransfusie het hulle besluit om so gou moontlik ’n keisersnee te doen. Dit het beteken dat Heinrich twee maande te vroeg gebore sou word. Ek was 31 weke swanger toe die keisersnee plaasvind. Heinrich het 1,9 kg geweeg en was 44 cm lank. Ek het hom net vir ’n kort rukkie vasgehou. Hy is in die neonatale waakeenheid gestabiliseer en het suurstof ontvang.

Slegte nuus

’n Verpleegster het ons twee weke later met baie slegte nuus geskakel. Heinrich se toestand het baie versleg. Ons het onmiddellik hospitaal toe gejaag. Ek onthou nog hoe die monitors aanhoudend alarm gemaak het. Ek het kort-kort sy voetjie geruk net sodat hy moet asemhaal. Die chirurg het besluit om ’n noodoperasie uit te voer. Ná ’n uur en ’n half se gewag is nekrotiserende enterokolitis by Heinrich gediagnoseer, een van die gevreesde infeksies waarvoor vroeggebore babas baie vatbaar is. As of dit nie genoeg was nie, het sy blindederm ook gebars.

Nekrotiserende enterokolitis is ’n infeksie van die derms wat ontsteking en dooie weefsel veroorsaak. Net 75 persent van babas wat dit kry, oorleef. Heinrich moes ’n kolostomie ondergaan. Sy dikderm is na buite gebind en die opening waar ’n stuk dikderm verwyder is, het ’n sakkie gekry waarin sy stoelgang moes versamel. Heinrich het ná die operasie ’n bloedtransfusie gekry.

Ons klein vegtertjie

My kind het ná die operasie so sleg gelyk dat hospitaalpersoneel ons gevra het om later terug kom sodat hulle hom eers kon stabiliseer. Heinrich was drie dae lank in ’n kritieke toestand, maar daarna het dit ál beter gegaan.

Drie weke ná die operasie kon ek Heinrich vir die eerste keer huis toe neem. Ons het baie onrustig geslaap. Ons het elke nou en dan geluister of sy hartjie nog klop. Ek het sy derms met ’n soutwateroplossing skoon gehou en die kolostomiesakkie twee keer per dag vervang. Sowat drie weke later het ons Heinrich vir sy tweede operasie geneem. Die chirurg het sy derms geheg sodat dit weer normaal kon werk.

Die mannetjie het ons ook nie teleurgestel nie. Sy eerste vuil doek het sommer kort daarna gekom!

En net toe ons dink ons stap die gesondword-pad, het Heinrich longontsteking gekry én sy regter long het platgeval. Sy wond het ook ’n week ná die operasie septies geraak. Daar was ’n groot gat waar die wond moes wees.

Drie weke ná die operasie kon ons hom eindelik huis toe neem. Hy het net twee keer per week wondsorg nodig gehad en die wond het ná ’n week volkome genees.

Eers twee maande later het Heinrich genoeg van sy eie bloed begin maak. Danksy twee uitstekende ginekoloë, ’n chirurg en ’n goeie pediater is hy nou gesond en het op ses maande begin vastekos eet. Hy slaap soms sleg, maar die pediater sê dis gevolg van al die trauma en medikasie.

Heinrich was altesaam 51 dae in die neonatale intensiewe eenheid en het agt gewone sonars en 10 Doppler-sonars agter die blad. Hy het twee bloedtransfusies, vyf bloedoortappings, longontsteking en twee operasies oorleef.”

Baie dankie aan dr. Hennie Lombaard en dr. JP du Buisson wat met die mediese kant van dié artikel gehelp het.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees