My haastige baba

akkreditasie
Ons bekyk die simptome en oorsake van vroeë kraam, en wat gedoen kan word om dit af te weer.

Soms is dit net jou verbeelding en stap jy verleë by die kraamsaal uit met jou hospitaaltassie in die hand en ’n vriendelike vermaning van die kraamsuster dat dit net maagpyn was en nie ware kraampyne nie.

Maar ander kere is die pyne baie werklik en bevind jy jou in ’n hospitaalbed met ’n drup in die arm en ’n span dokters en verpleegsters wat saam met jou veg om baba binne te hou, want dis nog weke voor sy verwagte datum...

As jou baba te vroeg sy verskyning te maak, beteken dit nie net dat jy nie dadelik jou nuwe bondeltjie sal kan saamneem huis toe nie, maar ook dat hy dalk deur sekere gevare in die gesig gestaar word. Wat ’n mens laat wonder waarom sommige babas so haastig is om die lewenslig te aanskou? En wat kan jy doen om dit te voorkom?

Wanneer is dit ’n vals alarm?

Die Kaapstadse ginekoloog J.P. du Buisson het in sy lewe al baie babas gevang, en ook help keer dat hulle te vroeg hul verskyning maak. Hy definieer vroeë kraam as die verlossing van ’n baba ná lewensvatbaarheid.

In die meeste gevalle is dit baie moeilik om vroeë kraam akkuraat te diagnoseer, vertel hy.
“Jy’s in kraam as jy gereelde, pynlike kontraksies het en jou serviks ontsluit of jou water breek. Dreigende vroeë kraam is wanneer jy pynlike kontraksies het sonder dat die serviks begin verander.”

J.P. beklemtoon dat ware kraamkontraksies gewoonlik pynlik is. “Dit kom uit die rug en versprei dan om na die maag aan albei kante.” Daarteenoor is Braxton-Hicks-kontraksies – waar die baarmoeder nog vir die groot oomblik oefen – pynlose sametrekkings van die uterus.

Die werklikheid is natuurlik dat die meeste van ons geen idee het wanneer ons begin ontsluit nie. En dit bly maar moeilik om te onderskei tussen ’n ware kontraksie en soms gevoelige Braxton-Hicks-sametrekkings van die baarmoeder.

’n Studie deur die Britse verloskundige Kieran O’Driscoll het bevind 80 persent van vroue misgis hulle as dit aan hulle oorgelaat word om ’n diagnose van vroeë kraam te maak.

Hier is ’n lysie vals alarms wat dikwels vir kraamsimptome aangesien word:

  • Blaaspyn of urienweginfeksie
  • ’n Pynlike bekkenbeen
  • Laerugpyn
  • Braxton-Hicks-kontraksies
  • Daling van die baba se koppie in die bekken in
  • Maagpyn

Dis genoeg om enige vrou twee keer te laat dink voor sy hospitaal toe gaan met wat sy meen vroeë kraampyne is, net om dalk haar naam daar met ’n plank te slaan as sy verkeerd is.

Maar moenie alleen voel nie. ’n Studie het gewys 33 persent van vroue wat met vroeë kraam in die hospitaal opgeneem word, word 48 uur later ontslaan sonder dat hulle enige behandeling ontvang het, sê J.P.

Rooi ligte

Wanneer weet jy dan daar ís ’n probleem?
As jy voorheen al te vroeg gekraam het, moet jy bedag wees op waarskuwingstekens soos ’n slymerige of bloederige afskeiding, gereelde, pynlike kontraksies, of water deur die vagina afkom en jou broek (nie jou onderbroekie nie), stoel of bed natmaak,” sê J.P.

Die kans is goed dat jy een van dié simptome sal hê voor jy vroeg begin kraam. ’n Uitsondering is wanneer vroeë kraam die gevolg is van servikale inkompetensie (wanneer jou serviks ontsluit sonder dat jy kontraksies kry).

“Vroue wat dit oorkom, vertel gewoonlik hoe hulle gestap het, skielik vol gevoel het – en toe is die baba daar!”

Hoekom so haastig, baba?

Hier volg ’n paar oorsake van ’n voortydige bevalling:

•    Infeksie (47 persent)
•    Bloeding (40 persent)
•    Abnormaliteit van die baarmoeder (20 persent)
•    Inkompetente serviks (17 persent)
•    Water wat te vroeg breek

Ongelukkig, sê J.P., is die beste voorspeller van vroeë kraam die feit dat dit al voorheen gebeur het. “As dit al een keer met jou gebeur het, is die kanse op nog ’n vroeë bevalling 15 persent. As jy dit al twee keer oorgekom het, is die kanse 41 persent..”

In ontwikkelde lande eindig sowat 5 tot 10 persent van swangerskappe in vroeë kraam. By die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad is dit sowat 30 persent van swangerskappe.

“Dié statistiek sluit ook pasiënte in wie se babas voortydig verlos word omdat hulle ander komplikasies ontwikkel soos hoë bloeddruk of bloeding, maar dit moenie met ’normale’ vroeë kraam verwar word nie,” sê J.P.

Vroue wat voorheen servikale chirurgie ondergaan het weens onder meer servikale abnormaliteite kan ook vroeër kraam omdat hul risiko vir servikale inkompetensie groter is. Vroue wat harde fisieke werk verrig soos plaasarbeiders, is ook meer geneig tot vroeë kraam. Rook en alkohol- en dwelmgebruik is nog oorsake.

Kan ’n mens dit voorkom?

Daar’s bitter min wat jy kan doen om voortydige kraam te voorkom, sê J.P. Jou dokter kan op veertien tot sestien weke die lengte van jou serviks met ’n sonar meet en as dit korter as 1,5 cm is, is daar ’n betekenisvolle verhoogde kans vir voortydige kraam. Sommige kenners sê ’n servikslengte van 3 cm of korter dui op ’n hoër kans.

Daar is studies wat wys dat gereelde opvolgbesoeke by dieselfde persoon die voorkoms verlaag, terwyl die voorkoms hoër is wanneer verskillende mense die swangerskap monitor.

Jou aksieplan

As jy ’n geskiedenis van vroeë kraam het, moet jy veral vinnig reageer as jy enige van die simptome daarvan ervaar. Daar is medisyne wat die dreigende bevalling kan onderdruk. Bel dus jou dokter dadelik as jy dink jy sien simptome van vroeë kraam raak.

Daar is twee middels wat dit kan onderdruk., sê J.P. “Nifedipien is mondelikse medikasie wat nie geregistreer is vir dié gebruik nie, maar wat wel wêreldwyd ingespan word. En dan is daar Atosiban, ’n baie duur binneaarse middel wat deur ’n drup toegedien word en wat spesifiek ontwerp is vir kraamonderdrukking.

“Ons onderdruk kraam sodat die steroïed-inspuiting wat ons vir die ma gee, kans kry om te werk. Dit duur sowat 48 uur. Die steroïed maak baba se longe sterker en help ook voorkom dat ’n vroeggebore baba ’n breinbloeding opdoen.”

Dis gewoonlik ’n baie stresvolle tyd: Aan die een kant is alles wat met jou gebeur baie onverwags, aan die ander kant is jy onseker oor hoe gesond jou baba sal wees. Dikwels word jy op streng bedrus in die hospitaal geplaas, wat ook baie spannend kan wees.

Hoe langer jy knyp, hoe beter

Daar is geen twyfel dat dit die beste is vir jou baba om so lank moontlik in die knus nessie van die baarmoeder te bly sodat hy sy volle potensiaal kan bereik nie. Hoewel 95 persent van babas wat ná 26 weke in die Panorama-hospitaal in Kaapstad gebore word, oorleef, beteken dit nie almal oorleef sonder skade nie.

Blindheid is nie meer so ’n probleem by vroeggebore babas nie danksy beter tegnologie. Daar is egter ander moontlike komplikasies soos apnee – wanneer baba ophou asemhaal; vroeggebore babas word fyn hiervoor dopgehou - en veral infeksie, maar gelukkig is daar sterk antibiotika wat vir laasgenoemde kan help. Breinbloedings en longprobleme is ook tipiese gevare wat deur vroeggebore babas in die gesig gestaar word.

Driedubbeld vroeg

Bianca van Rooyen van Jeffreysbaai het nie net een keer nie, maar 3 keer die trauma van ’n dreigende vroeë bevalling deurgemaak. Sy vertel:

“Met my oudste, Alexandré (nou 7) is ek ’n paar keer hospitaal toe met kraampyne. Elke keer het hulle gesê die kraampyne is nie sterk genoeg om as ware kraam bestempel te word nie. Hulle het vir my medikasie gegee en sy hartkloppie gemonitor. Uiteindelik het my water op 36 weke gebreek en hy is met ’n noodkeisersnee gebore.

“Met Diandré (nou 2) was dit dieselfde, maar die kraampyne was dié keer erger en het volgens die monitors as regte kraampyne gekwalifiseer. Dit was ongelooflik seer; dit het gevoel asof my hele fondament uitval! Hy moes eintlik eers einde April gebore word, maar wou al in Januarie op sowat 30 weke kom. Ek moes ’n week met ’n drup in die hospitaal bly want hulle was nie seker of hy sou kom of nie. Hy is toe op 35 weke gebore.

“Met Ettienne (6 maande) was ek 4 keer in die hospitaal met vals kraampyne. Ek het mondelikse medikasie gekry en ’n drup gehad. Verder het hulle sy hartklop gemonitor en by die huis moes ek monitor of hy genoeg beweeg. Hy is op 38 weke gebore. Met die geboorte het hy al so diep in die geboortekanaal afgedaal dat die dokter hom met ’n verlostang moes uittrek.

“Dis regtig skrikwekkend as jou baba vroeg wil kom. Jy moet die hele tyd vasstel of jou baba genoeg beweeg en dit veroorsaak dat jy min slaap en baie stres. Boonop weet jy nooit wanneer is dit die ware Jakob nie – jy voel later verleë om hospitaal toe te gaan. En dis seer! Ek moes ook baie in die bed bly, en dit was vir my sleg. Jou lyf raak seer en jy weet later nie meer hoe jy moet lê nie.
“Met al drie my kinders moes ek steroïedinspuitings kry om hul longetjies te versterk. Gelukkig was hulle almal se Apgar-telling uitstekend.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees