Om 'n miskraam te hê

akkreditasie
Drie vroue vertel hul hartseer oor hul miskrame en hoe hulle dit hanteer het.

1. Gelukkig - die 5de keer

Melani Kaltwasser (37) van Centurion het vier miskrame gehad.

Dubbelle teleurstelling

Ek was 27 toe ek die eerste keer swanger word. Met my eerste ondersoek op sewe weke het die dokter my vir ’n tweede mening gestuur aangesien hy gedink het die hartklop is abnormaal.

Met die tweede ondersoek is daar ontdek dat ek ’n tweeling verwag, maar dat ek een van die babatjies verloor het. Ek was hartseer oor die een wat nie geleef het nie, maar bly oor die een wat nog daar was. Ek het soos ’n trotse ma my sonarfoto vir almal gewys. Die vlekkie waar die ander baba was, was duidelik op die foto te sien.

Ek het gelukkig nooit oggendnaarheid gehad nie, maar drie weke later was daar 'n bloederige afskeiding en die ginekoloog het gesê ek het ’n miskraam gehad. Hy het dadelik ’n skraap laat reël en ek is dieselfde dag ontslaan, geswel en seer van die skraap.

Weke lank het ek na die sonarfototjie gekyk en gewonder wat ek verkeerd gedoen het, maar daar was geen antwoorde op my vrae nie.

'n Tweede kans

Twee jaar later was ek weer swanger. Ek het dit op vier weke uitgevind, maar ’n week later het ek weer ’n miskraam gehad. Ek was verpletter. Hoe kan so iets twee keer gebeur, juis as ek so sukkel om swanger te raak? Ek het aande omgehuil en kon nie verstaan wat met my verkeerd is nie.

’n Jaar later was ek weer swanger en dié keer het ek geglo alles is reg. Ek het goed gevoel en my eerste ondersoek het gewys alles verloop perfek. Ek was in die wolke. Dié keer het ek oggendnaarheid gehad.

Ek was sowat 12 weke swanger toe ek verskriklik begin bloei het. Dit was ’n naweek en ek kon die ginekoloog eers 12:00 die middag sien. Ek het ongelooflike pyn gehad en dit het gevoel of my ingewande gaan uitval. Ek is dieselfde middag opgeneem en moes weer ’n skraap laat doen. Ek was geweldig seer en is eers ’n week later terug werk toe.

Met my opvolg-ondersoek het die ginekoloog gesê die kanse dat ek ’n swangerskap voltermyn sou dra, is baie skraal. Dit was asof ’n doodvonnis oor my uitgespreek word: Ek gaan nooit ’n ma wees nie.

Namate die jare verbygegaan het, het ek berusting gevind, maar elke keer as iemand na aan my swanger raak wou my hart breek.

Ek is in 2006 met rumatoïede artritis gediagnoseer en is op chroniese medikasie geplaas. Van die middels was metotreksaat en ’n dosis kortisoon. Een van die neweeffekte is ’n misvormde baba indien jy sou swanger raak, maar dit was glad nie ’n probleem nie aangesien ek nie kon swanger raak nie.

In 2007, op 34 jaar, het my lewe uiteindelik ’n roetine begin kry. In Mei het ek opgehou om die chroniese medikasie te gebruik, behalwe die kortisoon. In Junie het ek en my man besluit om ’n bietjie weg te gaan.

Hoop en meer teleurstelling

Ek het nie agtergekom my menstruasie is laat nie. My borste het seer geraak en dis toe dat ek die weke begin tel. Ek het dadelik ’n swangerskapstoets gekoop. Die toets was positief. Ek het nie geweet of ek moes huil of lag nie. Ek het dadelik my rumatoloog geskakel. Hy het my gerusgestel en my na ’n ginekoloog verwys wat met pasiënte werk wat op medikasie is en was.

Ek was so bang. Die sonar het gewys die hartklop is sterk en agt weke lank was alles normaal. Die volgende paar weke was dit asof ek sweef. Ek het oggendnaarheid gehad, maar niks ergs nie. Dié keer was dit asof my liggaam baie verander het.

Vir die eerste keer het ek nie meer ’n middellyf gehad nie en ’n mens kon sien ek is swanger. My vel was pragtig. My twaalfweke- ondersoek het getoon dat alles 100 persent was.

Op 17 weke wou ons die geslag vasstel. Ek kon nie wag nie. Ek het regtig swanger gelyk en goed gevoel en het my selfs verbeel ek voel ’n ligte beweging.

Die ginekoloog het lank allerhande metings gedoen sonder om veel te sê. Toe ons voor hom sit, het hy gesê hy wil my verwys na die sentrum vir fetale assessering in Pretoria-Oos, want die baba se buik lyk
’n bietjie vergroot. Ek het hom gevra of dit ernstig is en of hy die geslag kon sien, maar hy wou niks verder sê voor die verslag van die kliniek kom nie; hy wou net vir my sê iets is nie reg nie.

Ek het in trane uitgebars en kon dit nie glo nie. Hoe kon die Here dit weer aan my doen?

Die ginekoloog kon ’n afspraak kry vir dieselfde middag. Die dokter het na die baba gekyk vir wat soos ure gevoel het; letterlik uit elke hoek. Sy het nie baie gepraat nie en ná naslaanwerk was haar raad terminasie.

Die baba het ’n gewas in haar bekken gehad wat in haar liggaam opgedruk en veroorsaak het dat die meeste organe besig was om in te gee. Ek kon haar verder dra as ek wou, maar sy sou my siek maak en die kanse was skraal dat sy sou oorleef. Indien wel, sou sy slegs ’n paar uur ná geboorte leef. Haar niertjies het klaar nie meer goed gewerk nie en haar hart was oorwerk aangesien die gewas ál die bloed gebruik het wat vir die liggaam bedoel was.

Ek het ineengestort, want dit was die moeilikste besluit wat ek en my man ooit moes neem. Die terminasie is gereël vir 28 September. Daardie oggend het ek gebid dat ’n wonderwerk moes gebeur
en dat daar ’n fout gemaak is. Daar op die operasietafel het ek ’n ligte beweging gevoel en ineengestort toe ek besef ek gaan nou my baba doodmaak.

Toe ek terug is in die kamer het ’n suster na my gekom en gevra of ek my dogtertjie wou sien. Dit sou
my help om berusting te kry. Sy het die mooiste gesiggie gehad en haar handjies was perfek – ’n engeltjie inelke opsig.

Deur dit alles was my man ’n steunpilaar. Die personeel was wonderlik en ek het die wonderlikste ondersteuningsnetwerk van familie en vriende gehad.

Die hospitaal het ’n afdruk van haar voetjie en haar gewig op ’n kaartjie gesit – tot vandag een van my kosbaarste besittings. My ouers het die babaklere weggeneem voor ek huis toe gekom het om die seer minder te maak.

Ek is ses weke lank afgeboek maar ná twee weke het ek gaan werk – die huis het my gevang en my gedagtes het my mal gemaak. Ek het ’n roosboompie geplant vir Inge, my klein engelkind, en as die roosboom op sy mooiste blom weet ek my dogtertjie is gelukkig in die hemel waar sy nou ’n tuiste
het.

Sukses!

’n Jaar het verbygegaan en ek en my man het steeds nie geweet wat fout was nie, ondanks vele vrugbaarheidstoetse. Ek het in Februarie kwaai miltsteek gekry en was drie dae laat. ’n Toets het gewys ek is weer swanger. Ons was ongelooflik opgewonde.

Ek het die wonderlikste swangerskap gehad, met geen oggendnaarheid of sooibrand nie. Op 16 weke het ek gehoor dis ’n seuntjie en toe weet ek alles gaan reg wees.

Op 25 September 2009 is ons klein wonderwerkie, Zander (3,1 kg), gebore. Hy was wel in die neonatale eenheid, maar dit kon ons opgewondenheid nie demp nie. Hy is nou amper nege maande oud en elke dag ’n vreugde.

Ek dink nie regtig meer aan die ander babas nie, maar Inge se gesiggie is in my geheue vasgebrand. Die wete dat ons haar wel eendag sal ontmoet gee my krag. As dit nie vir familie en vriende se ondersteuning was nie, dink ek nie ek sou destyds kon aangaan nie.

2. My engel het my uitkyk op die lewe verander

Retha Steyn (30) van Johannesburg het haar baba op 31 weke verloor.

Ek was 28 jaar oud toe ek swanger geword het. Alles was piekfyn tot op 20 weke, maar toe kry ek ’n dreigende miskraam as gevolg van stres. Ek sou ’n enkelma wees.

My dokter het gesê my bloeddruk is baie hoog en ek moes drie dae lank siekverlof neem. Ek het as skoonheidsterapeut gewerk en het toe baie rustiger probeer wees.

Komplikasies

Op die laaste dag van my siekverlof is ek weer vir ’n ondersoek en alles was piekfyn met my en my seuntjie. Ek is toe terug werk toe. Op 31 weke was alles reg behalwe vir baie hoë vlakke proteïen in my urine. Ek het egter rugpyn ontwikkel en was verskriklik moeg. My maag het baie swaarder gevoel
as gewoonlik.

Eers die aand in die bad het ek opgemerk dat daar geen beweging was nie. Gewoonlik het my baba lekker geskop as ek in die bad was. Ná ’n tweede bad was daar steeds geen beweging nie.

Die volgende oggend bel ek toe ’n vriendin wat by my ginekoloog se spreekkamer gewerk het. Sy kom toe oor met ’n blikke Coke en sjokolade om te kyk of die suiker iets kon laat gebeur. Daar was steeds geen beweging nie. Ek wou ’n noodafspraak met my ginekoloog maak, maar hy was nie beskikbaar
nie. Sy raad was dat ek onmiddellik hospitaal toe gaan.

Bevestiging

Dit was 4 Augustus 2008. By die Olivedale-hospitaal kon die ultraklankoperateur geen hartklop vind nie. Sy sê toe die baba lê soms “snaaks” en dan kan hulle nie die hartklop optel nie. My ginekoloog het toe

’n 3-D-skandering kom doen. Dit was verskriklik in die donker vertrek. Die matrone en die dokter het ná ’n paar sekondes bevestig dat daar geen hartklop is nie.

Dit het nie regtig by my geregistreer nie; dit was amper asof ek nie geweet het wat om my aangaan nie. In die kraamsaal het my ginekoloog my ’n keuse gegee of ek wou kraam of ’n keisersnee sou verkies. Ek wou nie ’n dooie babatjie natuurlik laat gebore word nie en het die keisersnee gekies.

Die hele tyd het die vraag “hoekom?” deur my kop gemaal. My dokter het my later gesê dat die baba
onder stres was en dat die naelstring om sy nek gedraai was. Ek was so kwaad, want ek het dan so rustig geleef. My baba het al ’n naam gehad en alles was reg vir sy koms, tot ’n trustfonds vir universiteit.

Ná die keisersnee het my dokter vir my gesê hy was die pragtigste ou seuntjie. Hy wou weet of ek hom wou sien. Ek wou nie.

Ná die prosedure het ek geen krampe gehad nie, maar toe het my borste vol geraak namate die melk ingekom het. Dit was erg – die een slegte ding ná die ander. Ek het die heeltyd gedink hy sou so gelukkig gewees het, want ek het baie melk gehad. Ek het toe pille gedrink om die melk te laat opdroog.

Ek was in ’n toestand.

Heling

As dit nie vir my ma, pa, boetie en goeie vriende was nie, was ek nie vandag hier nie. Ons het besluit om vir hom begrafnis te hou en ek het hom vir die eerste keer gesien toe hy in sy kis lê. Hy was pragtig en perfek.

Ná die diens is hy veras. Ek was baie bly toe ek sy assies huis toe kon neem, want dit was asof my kind huis toe gekom het. Dit het my ’n jaar gekos om afstand te doen van sy as en ek dink dit was eers toe dat ek hom regtig laat gaan het. Ek het sy assies in Bloubergstrand se see gaan strooi.

Ek was nooit ’n gelowige mens nie, maar geloof het my deur alles gedra. Ek sal hom nooit vergeet nie. Ek aanvaar vandag wat gebeur het, maar ek is nie tevrede nie. Ek het ná die trauma my eie onderneming tuis begin en het sy kamer omskep in ’n salon wat vir my baie betekenis het.

Die dood is ’n realiteit en die beste raad is om daaroor te praat.

3. Ons DNS is nie versoenbaar nie

Roleen Jordaan (30) van Boksburg het drie miskrame gehad.

Ek is in Mei op 28 getroud en in Oktober was ek swanger. Die seël (dooier sak) van die eiertjie was te
groot en daar was nie plek vir die baba om te groei nie. Die kans dat my baba sou oorleef, was 50 persent. Twee weke later was die dooiersak reg, maar toe begin ek bloei.

Toe ek nege weke swanger was, was ons op pad terug van ’n troue toe ek meer bloed sien. Toe ek die Maandag by die dokter uitkom, was daar geen hartklop nie. Die baba het nie afgekom nie en ek
moes pille drink om in kraam te gaan sodat die baba gebore kon word. Daarna het ek ’n skraap gehad.

Om huis toe te gaan was baie erg, want eers voel jy niks, maar mettertyd skop die hormone in. Ek het oor alles gehuil. Ek het selfs begin wonder of ek te rof gedans het by die troue.

Meer teleurstelling

Ek en my man, Gideon (36), het besluit om ’n jaar te wag. Maar toe gebeur dit en ons is weer swanger. My ginekoloog het gesê ek moet dadelik inkom vir ’n ondersoek omdat ek reeds ’n miskraam gehad het. Op ses weke was daar weer druppeltjies bloed. Ek het besluit om rustiger te leef, maar wou nie heeltemal ophou lewe nie.

Die Saterdag het ek my beste vriendin se kombuistee bygewoon en met my aankoms is ek toilet toe. In die badkamer kom daar toe ’n stuk bloed af wat soos ’n stukkie lewer lyk. Ek het my man gebel en sonder om die kombuistee te ontwrig is ek hospitaal toe.

Die opdrag was dat ek moes stil lê. Die dokter het my die Maandag ondersoek en gesê dit was nie ’n miskraam nie, want ek het nie baie gebloei nie. Dit was ’n dreigende miskraam.

DNS-komplikasies

Weens die twee miskrame het ons besluit om verlede jaar in Augustus ’n vrugbaarheidspesialis in Sandton te gaan spreek. Ná sowat R7 000 se DNS-toetse is ons meegedeel dat daar drie dinge fout is.

My baarmoeder het weens die twee skrape in ’n driehoekvorm aanmekaargegroei. Groeisels het in die baarmoeder gevorm en ek is daarom geopereer. Die tweede fout was dat ek slegs een X-chromosoom gehad het, waar ander vroue twee chromosome het – en dit kan miskrame veroorsaak. Ek kon steeds kinders hê, maar slegs meisies, nie seuns nie.

En laastens was my man se DNS nie versoenbaar met myne nie, want een komponent in ons albei se DNS is dieselfde. Ons is nie familie nie, maar dit is hoekom my liggaam sy DNS verwerp.

Sedertdien was daar ’n derde, vroeë miskraam, maar ek het my voorgeneem om nie emosioneel te word nie. Ek en my man het deur die proses baie nader aan mekaar gekom. Solank my dokter nie moed verloor nie, sal ons hoopvol bly.

Meer oor miskrame

Wat is ’n miskraam?

’n Miskraam is die verlies van ’n fetus aan die begin of vroeg in die swangerskap. Dit kan so laat as op 26 weke plaasvind of so vroeg as in die eerste 12 weke van swangerskap.

Wat veroorsaak miskrame?

Jong vroue is meer vatbaar daarvoor. Oorsake is dikwels geneties, byvoorbeeld ’n ernstige gebrek in ’n bloedlyn. ’n Ander oorsaak kan wees ’n virusinfeksie wat gepaardgaan met hoë koors op ’n sensitiewe stadium van die fetus se ontwikkeling, soos Duitse masels, toksoplasmose en infeksie met die sitomegalovirus.

Kan ’n vrou meer as een miskraam hê?

Soms kom dit meer as een keer voor, maar meestal is die kans op nog ’n miskraam betreklik laag.

Oorsake van herhaaldelike miskrame

’n Swak serviks, misvormde baarmoeder, hormoonwanbalans en siektes soos skildklieraandoening en diabetes kan alles oorsake wees. Soms kan die plasenta nie in die toenemende behoeftes van die fetus voorsien nie.

Verwerk die verlies

Dit is altyd hartseer om ’n baba, hoe klein ook al, te verloor. Moet dit nie onderdruk nie. Jy en jou maat sal waarskynlik ’n rouproses deurgaan as julle ’n miskraam gehad het of as ’n baba doodgebore is.

Praat met iemand wat verstaan. The Compassionate Friends is ’n steun-organisasie wat sal luister as jy met iemand wil gesels. Stuur 'n e-pos na support@tcfcape.co.za (Kaapstad) of tcfsa@mweb.co.za (Johannesburg) of gaan na www.compassionatefriends.org.za.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees