"Ons Tetralogie-baba"

akkreditasie
Hannetjie van Wyk het nie verwag dat haar babatjie met 'n hartprobleem gebore sou word nie.

Vir 9 maande lank kon ons nie ons opgewondenheid keer met die vooruitsigte van pienkvoete in die huis nie. Ouboet Ciaan kon ook nie wag dat die nuwe babatjie uit Mamma se maag kom, sodat hy met hom kan speel, nie.

Die groot vreugde het toe onverwags 'n nare wending gehad...

Divon Shawn se geboorte was beplan met 'n keisersnee op 8 Desember 2008, maar hy maak sy vroeë opwagting op 7 Desember 2008.

Die geboorte is 'n warboel van onsekerheid, vrees en skok. Ons bondeltjie vreugde, ons pienkvoet, is blou.

Almal stel ons gerus maar niemand wil, mag, vir ons sê wat fout is voordat die spesialiste opdaag nie. Aanvanklik is daar besef dat sy long platgeval het, maar met nader ondersoek merk hulle dat die hartjie 'n abnormale stewel-vorm het... kenmerkend van 'n hart-defek: Tetralogie van Fallot.

"Tetra" beteken vier, in Grieks. Hy het 4 hart-defekte in een:

  1. Sy aorta het geskuif na die middel van sy hartjie.
  2. Daar is 'n gat in die middel van sy hart, tussen twee kamers.
  3. Sy longslagaar is vernou.
  4. En die spierweefsel aan die een kant van sy hartjie is abnormaal vergroot.

Nou is hy 'n tydbom. Dis is 'n weegskaal tussen ouderdom en agteruitgang.

Elke 2 weke besoek ons die hartspesialis wat sy toestand dophou, wat wag dat hy so oud moontlik word, voordat die toestand te veel vererger. Hoe ouer hy is, hoe vinniger sal hy herstel ná sy operasie. Intussen gebruik hy dieselfde hartmedikasie as sy oupa.

Die tyd het aangebreek vir Divon Shawn se operasie, op 8 September 2009. Hy sal 'n ope-hart operasie ondergaan, waartydens hy aan masjiene gekoppel sal wees sodat sy hart kan stilstaan vir die duur van die operasie. Tydens die operasie sal die dokters die opening tussen die onderste twee hartkamers toemaak, en die klep na die longslagaar ondersoek.

Dit blyk tans of die klep te klein is na die dokters se opinies, en hulle sal dit nagaan wanneer hulle die klep fisies oop het. Indien dit nodig is, sal hulle dan ook modifikasies aan die klep moet doen en, afhangende van die graad van die modifikasies, mag hy moontlik later weer 'n operasie moet ondergaan, en selfs 'n klepvervanging moet kry.

Operasie suksesvol

Divon se hartoperasie het suksesvol verloop. Die gaatjie tussen die hartkamers is toegemaak en die longslagaar is vergroot. Die flappies van die kleppie na die longslagaar was aanmekaar vergroei, maar is losgesny. 'n Vergroting of vervanging van die kleppie was dus nie nodig nie. Die vergroeide hartspier, wat ook die longslagaar nouer gedruk het, is weggesny.

Hy herstel tans baie goed. Ons was Januarie 2010 by die kardioloog en dit lyk of daar nie weer ’n operasie nodig mag wees nie. Ons moet een keer ’n jaar, in Januarie, vir ’n opvolg ondersoek gaan.
 
Dit alles, volgens my, is ’n lewende wonderwerk dat alles nou amper 100% genees is.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees