"Ons groot wonderwerkie"

akkreditasie
Ná die verlies en hartseer wat Cindy Brits en haar man moes deurmaak, was Alexia se geboorte een groot seën.

My seuntjie Aiden is 3 jaar gelede oorlede. Hy het ADEM gehad, wat familie van die meningitis virus is. Hy was 18 maande oud.

Ek het daai gevoel gehad dat ek weer swanger was, maar die urine- en bloedtoets was negatief. So toe Aiden siek was en ek by hom gestaan het deur vele X-strale en MRI scans, en hy ná 3 dae breindood verklaar is, het dit glad nie by my opgekom dat ek eintlik regtig swanger kon wees maar net te vroeg getoets het nie.

Twee dae nadat Aiden gesterf het, was ek baie naar en het net nog 'n toets gedoen om seker te maak. Ek was toe reeds 4 weke swanger! Ons het later uitgevind dat dit 'n dogtertjie was, en ons kon nie wag nie.

Ek het van 32 weke af begin om probleme te ervaar. Sy het nie gegroei soos sy moes nie, maar die gynae het my verseker dat dit okay was. Teen daardie tyd was haar ontwikkeling reeds 3 weke agter. Maar hy't gesê ons sal dit tot 39 weke maak.

Twee weke later was ek in die hospitaal met krampe, maar nadat ek gemonitor is vir 2 dae is ek weer ontslaan: die baba was net "geïrriteerd" het hulle gesê. Daar was so baie wat in my lewe aangegaan het  – ek het nog gerou vir my seuntjie, en het deur opleiding by die werk gegaan om uiteindelik 'n lugverkeerbeheerder te word! Enigiets was moontlik gedurende hierdie swangerskap...

My man was 2 dae later by die huis, en ons moes toe weer hospitaal toe – hierdie keer het dit gevoel of ek water gelek het, wat 'n vreemde gevoel was... en ek was nog net 36 weke swanger. Sy kon nie nou kom nie, sy moes nog bietjie groei! Die scan het gewys sy het nog net sowat 2.4 kg geweeg.

My gynae was op verlof en ek moes met 'n ander gynae tevrede wees. Hulle het 'n interne ondersoek en scan gedoen, en gevind dat my waters gebreek het sonder dat ek eers geweet het! Dit moes daardie middag in die lekker warm bad gebeur het.

Daar was geen vrugwater oor nie so ons is sonder ophou gemonitor terwyl antibiotika deur my are gevloei het om infeksie te voorkom. Ek is ook twee maal 'n dag met Celestone ingespuit vir haar longetjies.

Twee dae later, op 20 November 2007 om 9:05am, is Alexia Shiloh Brits gebore met behulp van 'n keisersnee. Sy't 2.3 kg geweeg en was 48 cm lank, gesond en kon op haar eie asemhaal. Hulle het haar vir my 'n uur later gebring – ons het gebond, ek het haar geborsvoed, en sy was gelukkig.

Maar nog gelukkiger was mamma en pappa en die res van die familie. Dit was 'n ongelooflike stresvolle 9 maande, maar ons het dit gemaak.

Sy is regtig ons wonderwerkie.

En op 18 Augusts 2009 is nog 'n wonderwerkie, Carli, vir ons gebore!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees