Ons spesiale "Made in Taiwan"-baba

akkreditasie
Mathilda Brand vertel: "Ons pragtige dogtertjie Mia is op 28 Julie 2009 in Taipei gebore. Wat 'n wonderlike ervaring! Sy is ons "made in Taiwan"-baba."

Ek en my man het in Taiwan skool gehou toe ons uitgevind het dat ek swanger is.

Die Taiwanese dokters redeneer maar anders as die Westerse dokters. My man mag byvoorbeeld nie by gewees het vir die sonars nie.

Ons is toe na 'n Amerikaans Taiwanese dokter toe. Die lieflikste mens. Sy het alles baie mooi aan ons verduidelik, al ons vrae beantwoord en ons baie ondersteun.  

Omrede sy meer as 200km van ons af gebly het, het ons besluit dat ons baba gebore moes word met behulp van 'n induksie.

Die dokter het vir my induksie gegee deur 'n drip en dit eers baie stadig toegedien. Vandat dit toegedien is het dit ongeveer 30 ure geneem. Na 24 uur was ek nog net 2cm ontsluit. Die dokter het my water gebreek en daarna het alles vinniger gebeur.

Toe ek ongeveer 5cm ontsluit was, het daar 'n klein Taiwanese suster na my toe gekom en in gebroke Engels gevra of ek 'n "pe-nis" soek.

Ek en my man was heel verward en het probeer agterkom wat sy bedoel. Ons het ons bes gedoen om nie te lag nie. Na 'n ruk het sy terug gekom met 'n papiertjie met die woorde "painless labour" op!

Na 'n ruk het 'n narkotiseer vir my 'n sakrale epiduraal ingesit met 'n pompie aan. Dit verdoof net die spiere en gedeelte by my laerug. Ek kon elke 10 minute die knoppie druk as die pyn te erg raak. Dis 'n baie goeie opsie, want ek hoef nie 'n kateter te gekry het nie, ek kon self toilet toe gaan en rondgeloop het.

My man, Dirk, was die heeltyd aan my sy. Die dokter het vir Dirk geroep om te kom kyk toe sy Mia se koppie kon sien. Sy het hom toegelaat om foto's te neem en die naelstring te knip. Dit was baie spesiaal vir hom.

Mia het 3.06kg geweeg en was 49cm lank. Sy was die enigste Westerse babatjie tussen al die Oosterse babas in die hospitaal.

Omdat ek normaal gekraam het, het ek dadelik gaan stort en my hare was. Ek het baie goed gevoel na die geboorte.

Al is Mia in die Ooste gebore en al was alles vreemd, was dit 'n wonderlike ervaring. 

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees