Opgekik in 'n kits

akkreditasie
Dra jy swaar aan jou boepie? Kry jou energie terug en voel weer meer mens as walvis. 

#1 Oefen flink

Dis belangrik om fiks te bly terwyl jy swanger is. Ongeag jou fiksheidsvlak is ’n goeie, flink stappie wat jou hartklop versnel van die beste medisyne om jou in ’n kits nuwe woema te gee. Moenie jou moeg maak of verder dryf as waarteen jou lyf jou waarsku nie. Onthou om so ver moontlik van aankomende verkeer af te loop. Kommandeer ’n paar van jou vriende op en sit af na die naaste park. Of gaan stap tydens jou middagete.

#2 Eet jou vrugte

Somer is ’n wonderlike tyd om swanger te wees, want daar is ’n oorvloed vrugte op die mark. Sny ’n paarappels, mango’s, kiwivrugte, aarbeie en piesangs op en gooi muesli en jogurt daaroor vir ekstra vesel en kalsium.

Hierdie vrugtesoorte is vol vitamien C, wat jou help om yster te absorbeer en jou immuunstelsel versterk. Oranje vrugte (soos appelkose, spanspek en mango’s) is ook vol betakaroteen, ’n veilige vorm van vitamien A. ’n Klein daaglikse dosis vitamien A is nodig vir weefselgroei, maar wanneer dit in te groot hoeveelhede geneem word, kan dit geboorte-afwykings by jou baba veroorsaak. Dis waarom dit nooit as ’n aanvulling geneem moet word nie. Die goeie nuus is dat die liggaam dit wat jy nodig het opneem deur die vrugte en groente wat jy eet.

#3 Waad in water

Warm water is nie net strelend vir jou groeiende ongemak en pyne nie, dit bied jou ook ’n wonderlike geleentheid om op jou ongeborene in te skakel. Sit tyd op sy vir ’n lang bad om ná ’n besige dag te ontspan en met jou babatjie te kommunikeer. As jy al ver swanger is, sal jy sien hoe sy in reaksie op jou aandag in die water beweeg – moet net nie die water te warm maak nie. As die warm weer jou laat sug by die gedagte van ’n warm bad, glip in jou swemklere en klim in die swembad. Swem bly wonderlike pynverligting – dit neem die druk van jou gewrigte af en versterk jou oorwerkte spiere.

#4 Versterk jou breinkrag (en dié van jou baba)

Vul jou voorraad selfhelpboeke, meditasie-en ontspannings-CD’s aan. Span jou brein in deur iets te lees wat jy nie normaalweg sou nie. Lees hardop vir jou boepie, praat en sing. Onthou dat jou baba op 24 weke reeds jou stem duidelik kan hoor.

#5 Koop!

Dit is so dat swangerskap ’n duur affêre kan wees en dat jy meer as wat jy noodwendig wil na jou beursie moet reik, maar moenie van jouself vergeet nie. Nou’s die tyd om mooi te voel en jou boepie te wys, of om jou nuwe borsmaat ten toon te stel – gaan koop iets met sprankel om jou nuwe lyf te vier. Dit is ’n kits-opkikker.

#6 Bederf jouself

Omskep jou huis in jou persoonlike spa en bederf jouself so gereeld as wat jy kan. Begin met ’n ontspannende bad en ’n uitgerekte gesigbehandeling en eindig jou aand deur jou gunsteling-DVD te kyk terwyl jy jou naels doen. Dis waarskynlik die laaste keer in jou lewe wat jy alleentyd met jouself gaan deurbring; benut dit dus so goed as wat jy kan.

#7 Laat jou liefdeslewe stoom

Gedurende swangerskap kan die toename in bloedvloei en hiperhormone jou besonder sexy laat voel– veral wanneer die eerste trimester eers verby is. Vir baie vroue is seks gedurende hul swangerskap die beste seks ooit. En behalwe as die dokter jou afraai, kan seks goed wees vir jou baba ook. ’n Orgasme bring ’n toename in bloedvloei en meer suurstof en voedingswaarde vir jou baba. Dit laat ook jou baarmoeder saamtrek, wat jou baba laat voel of hy ’n drukkie kry. As jou dokter dus toestem, gryp die geleentheid met jou hele lyf aan.

#8 Slaap soveel moontlik

’n Eerste swangerskap is ’n goeie verskoning om ’n bietjie te dut wanneer die lus jou ook al oorval. Dié wat by hulle tweede of derde kind trek sal weet wat ’n luukse dit is om so gereeld moontlik gedurende ’n swangerskap te kan rus. Dis nie maklik om in die eerste en laaste trimester van jou swangerskap te slaap nie; doen dit dus gerus as die geleentheid hom voordoen. Voeg ’n paar druppels laventelolie in jou badwater (dis veilig gedurende swangerskap), geniet ’n koppie warm kamilletee en onthou om kussings onder jou rug in te prop om soos die spreekwoordelike prinses te slaap.

#9 Sit met jou voete in die lug- letterlik

Swangerskapshormone laat die wande van die are ontspan wat jou bloedvloei vertraag en dit veroorsaak spatare, asook geswolle enkels en bene, wat natuurlik heerlik ongerieflik in hierdie warm weer kan wees. Help jou bloedsomloop aan deur gereeld jou enkels te roteer en jou voete op en af te buig.

Ná 20 rotasies en voetwippe kan jy jou voete laat ontspan in ’n voetspa of ’n skottel warm water wat met veilige olies gegeur is. Vryf verfrissende voetbalsem in jou voete om jou nog meer op te kikker.

Beproef ook refleksologie. ’n Goeie terapeut wat bewus is van jou swangerskap kan wondere verrig om daardie knagende swangerskapspyne te laat verdwyn.

#10 Beproef joga of pilates

Vind ’n klas wat geskik vir swanger vroue is – so ontmoet jy ook ander swanger vroue wat jou ervarings deel. Danksy al die strekoefeninge sal dit jou nie lank kos om die soort soepelheid te ontwikkel wat jou in die kraamproses gaan help nie. Om diep te kan asemhaal, is ’n wonderlike vaardigheid wat jou goed te staan sal kom terwyl jy kraam en dit kan jou sametrekkings baie minder intens laat voel. Hierdie oefeninge sal ook help dat jou liggaam ná geboorte vinniger terug na normaal sal keer.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees