V&A: Red my van spatare!

akkreditasie
Ek is ses maande swanger en kry nare spatare op my bene. Is daar enige natuurlike kruiemiddels wat hiermee sal help? 

Homeopaat, Dr Jana Mostert, antwoord:

Spatare is vergrote are wat sigbaar is as donkerblou lyne wat soms bo die oppervlak van die bene bult.

Spatare word veroorsaak deur die belemmering van die terugvloei van bloed vanaf die bene na die hart. Die vergrote baarmoeder plaas druk op die onderste vena cava, wat aan die regterkant van jou buik strek. (Die onderste vena cava is die groot aar wat suurstofarm bloed na die hart voer.) Die verhoogde druk op die vena cava verhoog die drukking in die beenare, wat op sy beurt die aarwande kan laat rek en die kleppe kan aantas.

Gelukkig verdwyn sommige vroue se spatare ná hul swangerskap, veral as hulle nie voorheen die probleem gehad het nie en as dit hul eerste swangerskap is. Die gevaar van spatare neem toe met elke swangerskap en ook met ouderdom.

Wanneer die spatare begin verskyn, help dit om die drukking in die beenare te verminder deur gereeld met geligte bene te sit, kompressiekouse te dra as jy vir lang rukke moet staan, en deur elke dag ligte oefening te doen soos om ’n halfuur lank te stap.

Lê ook liewer op jou linker- as jou regtersy terwyl jy slaap om minder druk op die onderste vena cava te plaas.

Die homeopatiese middels Aesculus en Hamamelis help spatare voorkom en Natura se Haemorro 1 bevat albei. Neem10 druppels drie keer per dag. Neem ook 500mg vitamien C daagliks om are te versterk.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees