Stamselbewaring: hoe voordelig is dit vir jou kind?

akkreditasie
Stamselbewaring is vir sommige ouers 'n redding as 'n kind ernstig siek word, maar dit kan jou sak geweldig ruk. Wat behels dié moderne wetenskap? En is dit die geld werd?

Stamselle is die oorspronklike boublokkies van lewe, die liggaam se stigterselle wat in al die ander gespesialiseerde selle verander wat die menslike liggaam uitmaak (vel, bloedselle, spiere, bene en senuwees).

Wanneer ’n nuwe baba aan die kom is, begin alle ouers oor hul kind se toekoms droom. Alles van die kinderkamer tot die universiteit word bespreek en beplan, en baie daarvan word werklikheid. Maar een aspek van jou kind se toekoms wat jy nie altyd kan vooruitsien nie, is haar gesondheid, met die ergste uitkoms ’n moontlik noodlottige siekte. Of kan jy?

Deur ’n baba se stamselle – wat van die plasenta en baarmoeder verkry word – te laat oes en bewaar, kan jy jou baba se lewe “verseker” teen dodelike bloedverwante siektes soos leukemie, Fanconi-anemie en sekelsel-anemie.

Waarom is die oes van stamselle dan nie deel van die normale geboorteproses nie? ’n Eenvoudige antwoord is dalk die koste – van sowat R13,000 tot R20,000 (sien hier onder) – wat baie dokters en ginekoloë traag maak om dit aan te beveel omdat die kanse dat die stamselle wel gebruik gaan word, gering is.

"Dit het ons kind se lewe gered"

Vir die Williams-gesin* van Kaapstad kan ’n stamseloorplanting egter die verskil tussen lewe en dood beteken. Hul sewejarige seun ly aan sekelsel-anemie, potensieel ’n noodlottige siekte, en sy enigste hoop op lewe is ’n beenmurgstamsel-oorplanting.

Toe Diane Williams* dus twee jaar gelede weer swanger word, het sy sonder om twee keer te dink die stamselle van haar baba se plasenta en naelstring geberg sodat dit later vir ’n oorplanting op haar ouer seun gebruik sou kon word.

Anders as wanneer die stamselle vir die baba gebruik word van wie dit verwyder is, het ’n broer of suster ’n kans van net een uit vier dat die oorplanting suksesvol sal wees. Tans ondergaan hul seun uitgebreide toetse en as die oorplanting werk, sal dit hom van sy siekte genees.

“Dié gesin was gelukkig omdat hulle bewus van die diens was en geweet het dis vir hulle noodsaaklik. Maar nie almal dink so ver vooruit of is bewus daarvan dat hul kind die geringe gevaar loop om ’n seldsame siekte te ontwikkel nie,” sê dr. Yvonne Holt van Netcells Cryogenics, ’n maatskappy wat stamselle oes, toets en bewaar.

Dis nie net die baba en medespruite wat voordeel kan trek nie. Hoewel die kanse op sukses 1 uit 4 vir medespruite is en 1 uit 8 vir ouers, is dit baie beter as die piepklein kans dat ’n geskikte beenmurgskenker elders gevind word. En as jy ’n bron van beenmurg êrens in die wêreld vir ’n familielid moet vind, gaan dit R75 000 kos om ’n plaaslike of internasionale soektog by die SA Beenmurgregister op tou te sit.

Die uiteindelike koste kan tussen R150 000 en R250 000 beloop en dit kan tot ’n jaar kos om ’n gepaste skenker te vind – nie die beste opsie as jou kind met ’n noodlottige siekte worstel nie.

Volgens Caroline Robertson van die Beenmurg register sluit dit net die koste in om die soektog te begin en die beenmurg te vervoer as dit gevind word.

“Stamselberging is ’n soort versekering,” sê Yvonne. “Ons weet dat die koste dit vir die meeste mense onmoontlik maak en sou graag ’n openbare bank wou sien vir alle Suid-Afrikaners waar mense beenmurg kan skenk. Dit kan gebeur as iemand stamselle met hul eerste of tweede kind berg en enige verdere stamselle dan aan die openbare bank skenk.”

Volgens dr. Stephen Purcell, mediese direkteur van Cryo-Save, ook ’n bergingsmaatskappy, was daar die afgelope twee jaar twee groot stappe vooruit op die gebied van regeneratiewe geneeskunde (geneeskunde waar lewende weefsel geskep word om beskadigde weefsel te herstel). “Die eerste is in die behandeling van probleme in die brein soos serebrale gestremdheid.

In Amerika word navorsing hieroor gedoen en het hulle sukses behaal met ’n tweejarige serebraal gestremde meisie. Haar naelstring-stamselle is geberg en toe oorgeplant. Binne ses maande was daar ’n enorme verbetering in haar toestand.”

Die meganisme wat neurologiese skade veroorsaak is onbekend, maar dokters weet wel oorplantings is net doeltreffend as dit plaasvind binne twee jaar – en verkieslik binne ses maande – ná die skade.

“Huidige navorsing toon ’n uitstekende verbetering in sommige pasiënte, maar net effense verbetering in ander,” sê Stephen. “Dis ’n dramatiese vooruitgang. In Amerika berg hulle reeds sowat 15 jaar lank al naelstringbloed met sowat 400 000 bloed-stamselle en hulle voorsien sowat 20 monsters per maand aan kinders vir behandeling.”

Die tweede deurbraak was in Florida, ook in Amerika, waar kinders met tipe 1-diabetes in ’n toetsprogram behandel is met naelstringbloed wat by geboorte versamel is. “Kinders wat met hul eie naelstringbloed behandel is, het minder insulien nodig gehad.

Die meganisme blyk verwant te wees aan die bewaring van gedeeltelik beskadigde selle wat insulien vervaardig. Hoewel dit alles nog baie eksperimenteel is, kan hierdie behandeling dalk die verlies aan insulienvervaardiging stadiger laat plaasvind,” sê Stephen.

Hoe om te werk te gaan

Waar begin ’n mens? Jy registreer by een van Suid-Afrika se stamsel-kriogeenmaatskappye. Hulle sal jou toerusting a ewer en die proses verduidelik. Jy kontak dan jou ginekoloog, dokter of vroedvrou.

Hulle is gewoonlik vertroud met die prosedure, maar kan ook die maatskappy wat jou baba se selle gaan berg, met hul vrae kontak.

Op die geboortedag gaan jy kliniek toe met jou toerusting, en sodra jou baba geboreis, word ’n klamp op die naelstring aangebring, dit word geknip en die baba word aan jou oorhandig. Dan steek die verloskundige of vroedvrou ’n naald wat geheg is aan ’n spesiale bloedsak (deel van jou toerusting) in die bloedvat van die plasenta om die bloed te dreineer. Jy en jou baba ondervind geen ongemak of pyn nie.

Dis is ’n eenvoudige prosedure, maar moet met sorg uitgevoer word om ’n minimum van 60 ml bloed te verseker (maksimum 200 ml) en steriel te bly. Die gemiddelde hoeveelheid bloed is 100 ml, want hoe meer bloed versamel word, hoe groter die kans dat stamselle van ’n goeie gehalte geoes sal word.

Stamselle in die naelstring

’n Nuwe ontwikkeling is die gebruik van ’n deel van die naelstring self wat besonder ryk aan stamselle is. Hulle staan bekend as mesenchiem-stamselle, wat mettertyd (wanneer die navorsing heeltemal afgehandel is) gebruik kan word om nuwe been-, kraakbeen- en selfs lewerselle te ontwikkel, wat dan die werk van die beskadigde selle kan oorneem.

Gevorderde kliniese toetse word tans gedoen waarin dié selle gebruik word op die gebied van hartsiektes, beroerte, breinskade en ingewande- en gewrigsiektes.

As jy dié ekstra naelstringbloed gebruik, word sowat 15 cm van die onbeskadigde naelstring afgesny en skoongemaak, die oorblywende bloed word uitgepers deur die ginekoloog of vroedvrou en dan in ’n spesiale buisie geplaas wat saam met die bloedsakkie in ’n houer met temperatuurbeheer na die laboratorium gestuur word vir berging.

Die bloed bly 72 uur lank “lewendig” en die beste resultate word behaal as dit binne 24 tot 36 uur nadat dit versamel is, verwerk word.

Wanneer dit afgelewer is, word dit in die stelsel geregistreer en kry dit ’n unieke nommer en staafkode.

Die volgende stap is om die lewensvatbaarheid van die selle te bepaal en te kyk of daar genoeg is om te berg. By die laboratorium word die naelstringbloed-en stamselle verwerk, in spesiale gelamineerde kriogeensakke (aanbeveel deur die Europese Unie) geberg, en in nog ’n eksterne beskermende sak geplaas voor dit in ’n aluminiumhouer gebêre word as beskerming teen meganiese skade en besmetting.

Dan word dit gevries teen 196° C – wat letterlik beteken dit is in tyd gevries – wat dit vir die volgende 20 jaar lewensvatbaar maak. Wanneer jou kind 18 jaar oud word, word sy die voog van die selle en moet sy besluit of die kontrak verleng moet word.

Wat gebeur as daar ’n Eskom-kragonderbreking is?

Die goeie nuus is dat die selle veilig bly. “Ons selle word nie met elektrisiteit geberg nie,” verduidelik Yvonne. “Ons gebuik tenks wat met vloeibare stikstof gevul is en wat elektronies gemonitor word, met kragopwekkers wat in noodgevalle inskop.” Tans word die selle net vir beenmurgoorplantings gebruik, maar navorsing oor talle ander toestande word gedoen.

“Baanbrekersnavorsing word oor die wêreld heen gedoen,” sê Yvonne. “Dié geneeskunde is nog maar in sy kinderskoene.”

* Nie hul regte naam nie

Wat kos dit

Netcells

Naelstringbloed

Naelstringbloedselle

Bloed & selle*

Oes

R2 500

R2 000 

R3 500

Verwerking en berging

R10 400

R5 900

R14 300

Totaal

R12 900

R7 900

R17 800

Pryse sluit BTW in

  • * Sluit 'n R3,000-afslag in as beide bloed en selle geberg word.
  • Pryse sluit die eerste 10 jaar van berging in. Geen jaarlikse bergingsfooi word gehef nie.
  • Vir meer inligting, terme en voorwaardes, besoek die Netcells Cryogenic webruimte.

Cryo-Save*

Plaaslike berging in die Kaapstad-laboratorium:

  • R12,996 vir die berging van naelstringbloed, BTW ingesluit
  • R16,500 vir naelstringbloed plus selle, BTW ingesluit

Internasionale berging in die Belgiese lab:

  • R16,800 vir die berging van naelstringbloed, BTW ingesluit
  • R19,800 vir naelstringbloed plus selle, BTW ingesluit

Jy betaal vir 20 jaar lange berging, en die kontrak kan later vir nog ’n tydperk hernieu word. Betalingsplanne sluit 'n 12-maande en 24-maande plan in, sowel as volle betalings en kredietkaartopsies.

*Pryse geldig in September 2011. The Lazaron Lab dryf nou handel as Cryo-Save in Suid-Afrika.

Wanneer moet jy dit oorweeg om jou baba se stamselle te berg?

  • As julle ’n familiegeskiedenis van spesifieke siektes soos bloedkankers en -versteurings en genetiese immuungebreke het.
  • As daar ’n medespruit is met ’n siekte wat met stamseloorplanting behandel kan word.
  • As julle van Afrika- of gemengde afkoms is, omdat dit buitengewoon moeilik is om ’n gepaste skenker te vind weens ’n enorme gebrek aan verteenwoordiging op beenmurgregisters.
  • As julle volle gemoedsrus wil hê. Onthou dat ál meer  siektes met stamseloorplantings behandel sal kan word.

Navorsing word tans gedoen oor stamseloorplanting op dié gebiede:

  • Regeneratiewe groei van hartspiere
  • Herstel van bene wat nie natuurlik weer aangroei nie
  • Tipe 1-diabetes
  • Outo-immuunsiektes
  • Herstel van senuwees weens serebrale gestremdheid, Alzheimer-siekte, Parkinson-siekte, rugmurgbeserings, beroerte
  • Herstel van organe soos die lewer en niere
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees