Stamselle: Medisyne vir môre

akkreditasie
Moet jy jou kind se stamselle by geboorte laat oes? Ons verklaar wat stamselle is, hoe die tegnologie werk, en wat dit behels

Wetenskaplikes kan reeds sommige bloedsiektes behandel deur gebruik te maak van stamselle, en die voorspelling is dat heelwat meer siektes wat vandag ongeneeslik lyk, in die toekoms so behandel sal kan word. Die maklikste en mees etiese manier om doeltreffende stamselle te bekom, is deur dit reg ná geboorte uit die naelstring te onttrek. Ons vertel jou hoe om te werk te gaan as jy jou ongebore baba teen toekomstige siektes wil beskerm deur nou reeds sy stamselle te laat berg.

Wat is 'n stamsel?

DIS DIE MOEDER van alle selle, die oorspronklike bouers van die embrio in die baarmoeder. Uit hulle vorm al die ander selle van die liggaam soos bloed, spier, been, vel en senuwee. Dié selle besit ook die vermoë om ander beskadigde selle in die liggaam weer op te bou en te herstel.

Stamselle is die meesterselle wat vandag meer as 70 siektes doeltreffend kan behandel, en die lys gaan beslis nog langer word. Tog beland miljoene der miljoene daarvan daagliks in hospitaal-asblikke waar dit binne ’n paar uur doodgaan.

Hoe gebeur dit? Die bloed in die naelstring wat jou baba met die plasenta verbind, wemel van die stamselle. Maar sodra jou baba die eerste lig sien, word die naelstring geknip en saam met die nageboorte weggegooi sonder dat enige naelstringbloed daaruit onttrek is om stamselle te bewaar.
Dís wat in meer as 99 persent van bevallings in Suid-Afrikaanse hospitale gebeur.

“As jy dit kan bekostig, moet jy dit ernstig oorweeg om die stamselle te laat oes. Dis ’n belegging in die gesondheid van jou kind,” sê Liza Ackerman van Netcells, deel van die Netcare-groep en een van drie plaaslike maatskappye wat stamselle bewaar.

Harry Minnie van Lazaron, die eerste Suid-Afrikaanse stamselbank wat in Durbanville in Kaapstad gebaseer is, stem saam.v“As jy jou kind se stamselle bewaar, maak jy seker jy bly deel van die wedloop. Net die afgelope twee jaar het die aantal siektes wat met stamselle behandel word van 40 tot byna 80 toegeneem. Dink net wat in die volgende 10 tot 20 jaar kan gebeur.”

Dr. Stephen Purcell van Cryoclinic – wat al meer as 5 jaar in Suid-Afrika sake doen en deel is van die grootste privaat stamselbank in Europa – sê ouers moet glad nie die bewaring van stamselle uit naelstringbloed oorweeg as dit gaan beteken hulle kan nie ander noodsaaklikhede soos ’n karstoeltjie vir hul baba bekostig nie. “Die teenoorgestelde is ook waar: As die uitgawe geen verskil aan jou sak gaan maak nie, behoort jy dit te doen,” sê hy.

Dit is natuurlik ook wys om jou kind se stamselle te bêre as daar siektes soos kanker in jou gesin of familie is. Die kans dat jou kind sy stamselle gaan nodig kry is egter (en gelukkig ook) baie klein. Dié syfer word geraam op een uit 2 500 voor sy 20ste verjaarsdag en een uit 450 in sy leeftyd. Dit maak dus heeltemal sin dat die bewaring van stamselle dikwels vergelyk word met ’n (nogal duur) versekeringspolis wat skaars 1% van Suid-Afrikaanse ouers (met mediese fondse) tot op hede nog “uitgeneem” het.

In die VSA het dié syfer die afgelope tien jaar van 1% tot 3% gegroei, terwyl bykans 2% van Europese ouers hul kinders se stamselle bewaar.

Een van die grootste redes waarom ouers deel word van die groeiende tendens om naelstring-stamselle te oes, is omdat jou baba se geboorte die enigste geleentheid is waar jy hierdie stamselle kan bekom. En daar is niks soos naelstring-stamselle nie, sê die kenners.

Stamselle kan wel ook uit die bloed van groter kinders en volwassenes geoes word, maar die proses is baie duurder én daar is risiko’s. Boonop verswak die gehalte van stamselle hoe ouer ons word.

Só word stamselle uit die naelstring versamel

Dis ’n eenvoudige proses wat geen risiko vir jou of jou pasgebore baba inhou nie, sê Liza. Sy verduidelik kortliks hoe dié vinnige en pynlose proses by Netcells werk:

“Nadat die baba veilig verlos is, sal jou ginekoloog ’n naald in jou naelstring invoer en al die bloed in ’n bloedsakkie dreineer. Dit duur bykans vyf minute en omdat daar geen senuweepunte in die naelstring is nie, voel jy niks nie.”

Volgens Liza maak dit ook nie saak hoe of waar jy die lewe skenk nie – stamselle kan op enige plek versamel word mits dit gedoen word voor die bloed van die naelstring stol. As jy byvoorbeeld by die huis die lewe skenk, sal Netcells ’n opgeleide persoon stuur om jou baba se stamselle te kom versamel.

Hierna word die sakkie met die naelstringbloed en miljoene krioelende selle binne-in na ’n geregistreerde laboratorium gestuur (in Netcells se geval is dit by die Unitas-hospitaal in Pretoria, Lazaron se laboratorium is in Durbanville en Cryoclinic s’n in België) waar die stamselle tydens ’n gespesialiseerde proses genaamd sentrifusie uit die naelstringbloed versamel word.

“Die stamselle word teen kamertemperatuur vervoer, maar sodra dit die laboratorium bereik – meestal binne 12 tot 24 uur – word dit in vloeibare stikstof teen -196 grade Celsius geberg,” verduidelik Liza.
Berging moet binne 48 uur plaasvind aangesien stamselle daarna begin kwyn.

Die stamselle kan dan vir ’n onbepaalde tyd in vloeibare stikstof gehou word tot dit benodig word vir behandeling van ’n dikwels lewensbedreigende siekte by die kind of ’n familielid. “Daar is teoreties geen vervaldatum vir stamselle wat korrek geberg word nie,” sê Liza.

Netcells berg die stamselle in bloedsakkies en nie in buise nie. Die sakkies het twee kompartemente wat dit moontlik maak om eers te toets of die stamselle gebruik kan word vir ’n broer, suster of ander familielid voor al die stamselle dalk onnodiglik ontvries word. As dit eers ontvries is, kan dit nie weer gebruik word nie. Vra die stamselbank wat jy oorweeg waarin en hoe hulle die stamselle berg as jy besorg is daaroor dat die stamselle nie vooraf getoets kan word vir gunstige weefseltipering (of dit by die siek familielid sal pas) nie.

Jou eie stamselle pas perfek by jou, terwyl die kans op gunstige weefseltipering van nie-familielede na bewering een uit 100 000 is). Só lyk gesins- en familielede se kanse om mekaar se stamselle te gebruik:

  • Broers en susters: 1:4
  • Ma en pa: 1:8
  • Oumas en oupas: 1:12

Watter siektes kan behandel word?

Stamseloorplantings word gebruik vir die genesing van bloedverwante siektes soos leukemie, bloedarmoede en limfome (kwaadaardige limf-gewasse). Die tekens is daar dat Alzheimer se siekte, hartsiektes, veelvuldige sklerose, Parkinson se siekte en spierdistrofie binnekort ook met behulp van stamselle behandel kan word. “En een van die mees onlangse deurbrake is in die veld van diabetes,” sê Liza.

• Twee derdes van stamseloorplantings wêreldwyd is vir leukemiepasiënte en ’n kwart van die oorplantings vir oorerflike siektes.

• Die eerste stamseloorplanting is in 1988 in Frankryk gedoen. ’n Sesjarige seun van Noord-Carolina het ernstige bloedarmoede gehad en ’n oorplanting van sy sussie se naelstring-stamselle gekry. Vandag is hy gesond en het hy geen nagevolge van die siekte nie. Gaan lees gerus soortgelyke suksesstories op www.cordblood.com.

Hoeveel is genoeg?

Sowat 80 tot 110 ml bloed word uit die naelstring onttrek. Daar is gemiddeld 2 tot 2,5 miljoen stamselle in die sakkie bloed wat getrek is en dis beslis ’n geval van meer is beter. “Hoe meer bloed getrek word, hoe meer stamselle word geoes,” sê Liza.

Sowat 150 000 koordbloedstamselle per een kilogram is wat nodig is om siektes te behandel. Dié berekening is egter net ’n maatstaf. Swaarder mense is al suksesvol behandel met minder as die voorgeskrewe hoeveelheid stamselle.

Een naelstringbloed-oes sal dus nie altyd genoeg stamselle oplewer om ’n volwasse persoon te behandel nie. Maar dié beperking kan binnekort iets van die verlede wees. Volgens Harry word groot bedrae geld in stamselnavorsing bestee aan hoe stamselle self vermeerder. Hy sê dié proses is teoreties beslis moontlik, maar navorsers moet nog ’n paar dinge uitstryk voordat die proses veilig en suksesvol toegepas kan word.

Oor stamselle en die stamsel-oes

Stamselle is soos die jokers in ’n pak kaarte. Hulle kan enigiets wees wat jy wil hê hulle moet wees. In die liggaam is dit onder meer jou DNS wat vir die stamselle boodskappe aandra en vertel wat hulle moet word. “Vermeerder, verander en word ’n oor!” kan ’n tipiese boodskap van die DNS wees.

Dis juis dié eienskap om te kan vermeerder en verander in gespesialiseerde selle met spesifieke funksies soos ’n hartsel of ’n senuweesel, wat stamselle van ander selle onderskei.

Stamselle kan op 3 maniere versamel word: van ’n embrio, uit die naelstring, of uit onder meer die rugmurg, vel, wandbloed en lewer van alle mense (dít word volwasse stamselle genoem).

Om dit uit die naelstring te oes is verreweg die maklikste. Die selle is suiwer en die proses is pynloos en van korte duur. As jy wag vir ’n maar, wag jy verniet. Hier is geen ander kant van die muntstuk nie, behalwe natuurlik dat dit jou ’n paar rand gaan kos (lees hier).

En as ’n etiese stemmetjie nou in jou kop woorde soos kloning of abortering begin fluister, wil Liza Ackerman van die hospitaalgroep Netcare se stamselbergingsmaatskappy Netcells jou gerusstel.
Liza sê dít is een van die grootste wanopvattings oor naelstringbloed-stamselle. “Die versameling van stamselle uit naelstringbloed moenie verwar word met die embrioniese metode van stamselle versamel nie. Laasgenoemde gaan gepaard met inherente etiese kwessies omdat die embrio in ’n laboratorium geskep word, die stamselle versamel word en die res van die embrio dan vernietig word, wat ’n vorm van abortering is. Naelstringstamselle het niks hiermee te doen nie.”

Hoeveel kos dit?

Om stamselle te versamel en berg is duur. Gaan dié proses in die toekoms goedkoper word – veral as meer mense dit begin doen? “Waarskynlik nie,” sê Harry Minnie van die stamselbergingsmaatskappy Lazaron. “Dit sal duur bly en noodsaaklike items soos die bloedsakkies – wat tans uit die buiteland ingevoer word – sal beslis nie goedkoper word nie.”
Stephen Purcell van ’n ander bergingsmaatskappy, Cryoclinic, beaam dit. “Hoewel ons pryse vir die afgelope 3 jaar dieselfde gebly het, is daar geen kans dat die prosedure goedkoper kan raak nie.”
En die kans dat mediese fondse in die toekoms stamselberging kan dek? Aikona, sê die kenners. Mediese fondse het wel al ’n paar gevalle van stamselonttrekking en -berging gedek maar dit was waar die boetie of sussie van die baba wie se selle versamel is, reeds aan leukemie gely het, en die kanse dus goed was dat die stamselle van die nuwe gesinslid die siek boetie of sussie sou kon help om gesond te word.

Dít is wat jy sal moet opdok (die pryse sluit BTW in):

Netcells

Naelstringbloed

Naelstringbloedselle

Bloed & selle*

Oes

R2 500

R2 000 

R3 500

Verwerking en berging

R10 400

R5 900

R14 300

Totaal

R12 900

R7 900

R17 800

Pryse sluit BTW in

  • * Sluit 'n R3,000-afslag in as beide bloed en selle geberg word.
  • Pryse sluit die eerste 10 jaar van berging in. Geen jaarlikse bergingsfooi word gehef nie.
  • Vir meer inligting, terme en voorwaardes, besoek die Netcells Cryogenic webruimte.

Cryo-Save*

Plaaslike berging in die Kaapstad-laboratorium:

  • R12,996 vir die berging van naelstringbloed, BTW ingesluit
  • R16,500 vir naelstringbloed plus selle, BTW ingesluit

Internasionale berging in die Belgiese lab:

  • R16,800 vir die berging van naelstringbloed, BTW ingesluit
  • R19,800 vir naelstringbloed plus selle, BTW ingesluit

Jy betaal vir 20 jaar lange berging, en die kontrak kan later vir nog ’n tydperk hernieu word. Betalingsplanne sluit 'n 12-maande en 24-maande plan in, sowel as volle betalings en kredietkaartopsies.

*Pryse geldig in September 2011. The Lazaron Lab dryf nou handel as Cryo-Save in Suid-Afrika.

Kies die regte bank

Tot baie onlangs sou mense hul wenkbroue hoog gelig het as jy praat van stamselle by ’n privaat stamselbank berg. Vandag is dié gedagte en waarvoor stamselterapie alles aangewend kan word, glad nie meer vergesog nie.

“Ek glo die bedryf het baie meer geloofwaardig geword,” sê dr. Stephen Purcell van die bergingsmaatskappy Cryoclinic, wat al meer as 5 jaar in Suid-Afrika stamselle oes, maar dit in België hou.

Moet ’n mens in jou pasoppens wanneer jy ’n bank kies? “Daar is wel privaat banke in die wêreld wat kortpaaie probeer vat, maar hulle is ver in die minderheid,” sê Stephen. Sy raad is om die bank te vra watter akkreditasie hulle het en om seker te maak die bank word bedryf in ’n land wat politiek stabiel is.

Ongelukkig is daar in Suid-Afrika nog geen riglyne of plaaslike standaarde waaraan stamselbanke hier moet voldoen nie. Internasionaal bestaan dit wel. Volgens kenners kan die American Association of Blood Banks (AABB) as maatstaf gebruik word. Dié organisasie stipuleer dat ’n bank onder meer aan die volgende vereistes moet voldoen:

  1. Dit moet ’n betroubare maatskappy wees. Om stamselle te berg is soos om jou geld aan ’n finansiële bank te gee – jy moet die versekering hê dat die bank vir ten minste nog 20 jaar sal voortbestaan sodat jy die stamselle kan gebruik wanneer jy dit nodig het.
  2. Kyk uit vir akkreditasie. Vra of die bank vir FACT (The Foundation for the Accreditation of Cellular Therapy) geregistreer is. Dít verseker dat, indien jy die stamselle ooit sou nodig kry, die dokters wat die prosedure doen die stamselle kan gebruik omdat hulle vertrou dat die laboratorium aan die regte standaarde voldoen.
  3. Die bank moet vloei-sitometrietoetsing (“flow cytometry testing”) doen. Dit is ’n duur proses waarin ’n stamselbank die stamselle tel om seker te maak die selle is lewendig voor dit geberg word. Eers dan word ’n sertifikaat uitgereik om die ouer in kennis te stel van hoeveel stamselle geberg is.

‘Hoekom ons dit gedoen het’

  • ’n Ma en pa van Kaapstad wat die naelstringstamselle van hul eerste baba laat oes het, sê hulle het baie daaroor nagelees voor hulle daarop besluit het. “Ons het gedink as dit eendag ’n verskil kan maak en ons het nie die kans gewaag nie, gaan ons spyt wees. Hoe meer ons toe daaroor begin lees en uitvind het, hoe meer het ons gedink dis ’n goeie idee. Aanvanklik is dit ’n groot bedrag, maar dit help dat ons die bergingsfooi jaarliks kan afbetaal. ”
  • Die eerste stamselbank was skaars in die land toe ’n Vrystaatse egpaar besluit het om die stamselle van hul tweede baba te laat berg. “Toe iemand ons vertel het waarvoor stamselterapie dalk alles in die toekoms gebruik kan word, het ons nie vir ’n oomblik getwyfel of ons dit moet doen of nie. Ons het ook ons derde baba se naelstring-stamselle laat berg.”

Volg dié stappe as jy jou baba se naelstringstamselle wil laat hou:

  1. Vra jouself eers af of julle dit kan bekostig.
  2. Doen deeglike navorsing en besluit op ’n bank wat die naelstringbloed-stamselle berg.
  3. Skakel die bank. Die bank sal dan vir jou al die inligting gee soos wanneer jy bloed moet laat trek om onder meer te laat toets vir hepatitis B en C en MIV. (Dit is meestal 7 dae voor óf na die geboorte van jou kind en weer bykans 180 dae ná die geboorte.)
  4. Lig jou dokter of vroedvrou in dat jy die naelstringbloed gaan laat berg.
  5. In die weke voor jou kind se geboorte sal die bank jou ’n versamelpakkie stuur wat saam met daardie allerbelangrike hospitaaltassie moet hospitaal toe. Dit sluit onder meer in die bloedsakkie, naald en ’n koelboksie waarin die bloed vervoer gaan word. Hiersonder kan die naelstringstamselle nie geoes word nie.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees