Stamselle: om te berg of nie?

akkreditasie
Stamselberging in Suid-Afrika is nog nie eens ’n dekade oud nie en daar bestaan nog baie wanbegrippe oor die prosedure. Ons het al die moeilike vrae gaan vra sodat jy ’n ingeligte besluit kan neem.

Met haar langverwagte eersteling op pad, het Madeleine al bykans al wat ’n bababoek en -tydskrif is verslind. Een van die onderwerpe wat gereeld opduik maar waaroor sy en manlief Gideon net nie uitsluitsel kan kry nie, is of hulle hul kleinding se stamselle moet laat oes en bewaar.

Hoewel hulle al twee oortuig is dat stamselle ’n uitstekende belegging in hul kind se gesondheid is (en dalk selfs latere boeties en sussies s’n), wonder Gideon veral of die bloed regtig so lank veilig bewaar kan word. Madeleine het weer vrae oor wat met die bloed gebeur tussen die hospitaal en die laboratorium en waarom die spulletjie so duur is.

Het jy soortgelyke vrae oor stamselle? Ons het die twee privaat bergingsmaatskappye in Suid-Afrika om antwoorde gevra.

1. Wie neem die bloedmonster by die hospitaal? Moet dit ’n dokter wees?

Die oes van stamselle uit naelstringbloed of -weefsel is ’n eenvoudige proses. Nadat die naelstring geknip is, word ’n naald in ’n aar van die naelstring gevoer en die bloed word getrek en in ’n sakkie gedreineer.

Dit hoef nie ’n dokter te wees wat dit doen nie, maar dis gewoonlik ’n dokter of vroedvrou. Die meeste mense, veral by die groter privaat hospitale, het genoeg ondervinding van die proses. As jy twyfel beloof die bergingsmaatskappy Netcells om self voor die geboorte van jou baba met jou dokter in aanraking te kom.

2. Hoeveel bloed is genoeg?

’n Klein bietjie bloed kan wemel van die stamselle, terwyl ’n groter hoeveelheid ’n swakker oes kan oplewer. Dit is egter ook waar dat ’n groter bloedmonster ’n groter kans op ’n goeie stamseloes waarborg. Daarom vereis die meeste bergingsmaatskappye ’n bloedmonster van tussen 90 ml en 150 ml. Die steriele bloedsakkie wat deur die meeste bergingsmaatskappye voorsien word, maak voorsiening vir 200 ml.

3. Navorsing toon dat die bloed wat uit die naelstringbloed en/of -weefsel getrek word, binne 48 verwerk moet word. Wie vervoer die bloed van die hospitaal na die laboratorium en watter waarborg het ouers dat dit vinnig genoeg én teen die regte temperatuur sal gebeur?

Cryo-Save en Netcells het albei samewerkingsooreenkomste met bekende en betroubare koerierdienste wat in en om al die groot stede werk. Die vervoer van die bloed word gemonitor en spesiale jelsakkies verseker die perfekte temperatuur.

4. Wat as te min bloed getrek is?

Hoewel kleiner bloedmonsters soms ’n mooi stamseloes kan oplewer, word daar partykeer te min bloed versamel om genoeg stamselle vir berging te kan oes. ’n Woordvoerder van die bergingsmaatskappy Cryo-Save sê hulle gee ouers in sulke gevalle een van die volgende keuses:

  1. Om nie voort te gaan met die berging van hul baba se stamselle nie. In sulke gevalle betaal jy slegs vir die insameling van die bloed.
  2. Gratis berging van die stamselle tot huidige navorsing voldoende bewys het dat stamselle self suksesvol kan vermeerder in ’n laboratorium.

Netcells sê hulle gee ouers terugvoer oor die gehalte en lewensvatbaarheid van die stamselle in die bloedmonster.

5. ’n Kontrak met ’n bergingsmaatskappy duur gewoonlik 10 tot 20 jaar. Kan stamselle werklik so lank veilig bewaar word?

Hoewel stamseltegnologie betreklik nuut is, het navorsing al gewys dat stamselle wat uit naelstringbloed geoes is en toe 23 jaar lank gevries is, ongeskonde gebly het. Wetenskaplikes glo dus stamselle kan vir ’n onbeperkte tyd gehou word, wat ’n kontrak van 20 of meer jaar allermins vergesog maak.

By Cryo-Save kan jy ná 20 jaar jou kontrak gewoon laat aangaan teen ’n minimale jaarlikse fooi. By Netcells kan jy kies tussen ’n 10- of 20-jaar- kontrak. As jy ’n 10-jaar-kontrak kies, kan jy dit enige tyd na ’n 20-jaar-kontrak laat opgradeer. As jou kind 18 jaar oud is, word sy die voog van die selle en moet sy besluit of die kontrak verleng moet word.

6. Kan jy jou baba se stamselle verskuif na ’n ander bergingsmaatskappy as jy nie meer tevrede is met jou maatskappy nie of die maatskappy dalk sy deure moet toemaak?

By Netcells is verskuiwing van jou kind se stamselle na ’n ander stamselbank, om watter rede ook al, moontlik. Cryo-Save sê hoewel hulle dit nooit sal aanbeveel nie – hoofsaaklik weens die risiko wat met die vervoer van die selle gepaardgaan – kan kliënte dit doen as hulle wil.

As jy bekommerd is oor die voortbestaan van jou bergingsmaatskappy, het Cryo-Save ’n spesiale bergingsopsie waar die helfte van jou kind se stamselle plaaslik en die ander helfte by ’n stamselbank in Europa geberg kan word. Cryo-Save gee ook vir hul kliënte die versekering dat, sou Cryo-Save Suid-Afrika ooit toemaak, die stamselle wat hier bewaar word, direk na ’n stamselbank van Cryo-Save Europa verskuif sal word.

Netcells is weer geaffilieer met Smartcells, die grootste bergingsmaatskappy in die Verenigde Koninkryk, en bied ook die opsie vir kliënte om anderkant die water te bêre. Smartcells is ook waarheen Netcells se selle sal gaan as laasgenoemde nie kan voortgaan met berging nie.

7. Watter waarborg is daar dat jaarlikse bergingsfooie nie skielik en ingrypend sal styg nie?

Bergingsfooie hang hoofsaaklik af van die koste van die vloeibare stikstof waarin die selle bewaar word. Laasgenoemde is weer ’n faktor van die prys van elektrisiteit. Prysstygings is dus nie uitgesluit nie, maar dit sal beslis nie dramaties wees nie.

Cryo-Save sê hul jaarlikse tarief wat tans R200 per jaar (of R17 per maand) is, styg jaarliks saam met inflasie. Jy sal dus vir die volgende 20 jaar (die duurte van ’n kontrak by Cryo-Save) die ekwivalent van R200 per jaar betaal en niks meer nie. By Netcells betaal jy geen jaarlikse bergingsfooi nie.

8. En wat as jy nog nie oortuig is stamselle kan lewens red nie?

Stamselle uit naelstringbloed kan gebruik word om lewensbedreigende bloedverwante siektes soos leukemie, Fanconi-anemie en sekelsel-anemie te behandel. Daar is talle suksesverhale waaroor jy gerus kan gaan lees op www.clinicaltrials.gov.

Stamselle wat uit die naelstringweefsel ontgin word, kan in die toekoms gebruik word om dinge soos gehoorgestremdheid mee te behandel. Jy kan gerus ook híéroor tuisnavorsing doen op bogenoemde webblad.

9. Stamselberging word beskou as ’n luukse en is taamlik duur. Is dit ’n regverdige persepsie?

Wanneer jy die berging van stamselle oorweeg, moet jy onthou dat al die volgende kostes gedek moet word:

  • Die toerusting vir die insameling van die naelstringbloed en die vervoer daarvan
  • Dokterstariewe
  • Die werk wat by die laboratorium gedoen moet word om die selle uit die bloed te ontgin
  • Kostes om die bergingsgeriewe gedurig op te gradeer en seker te maak die beste tegnologie word ingespan. Die berging van stamselle moet volhoubaar wees, daarom is gereelde opgradering nodig.

’n Woordvoerder van Cryo-Save sê stamselberging is eintlik ’n soort mediese versekeringspolis wat jy, soos met alle ander soorte versekering, hoop om nooit te gebruik nie.

Swangerskap is ’n egter reeds ’n tyd van groot uitgawes. Juis hierom bied bergingsmaatskappye verskeie betaalplanne. Besoek gerus die onderskeie maatskappye se webtuistes vir meer inligting oor hul betalingsplanne: www.cryo-save.co.za en www.netcells.co.za.

10. Hoe veilig is die selle by die stamselbank? Wat van kragonderbrekings of ’n vernietigende brand by die laboratorium?

Albei stamselbanke in Suid-Afrika sal jou voorsien van ’n unieke identifikasienommer op dieselfde dag dat jy die bestelling plaas vir ’n toestel om jou baba se bloed te laat trek. Sodra dié toestel, wat al die toerusting insluit wat nodig is om die bloed te trek en te vervoer, afgelewer is, word dit in die stelsel geregistreer en kry dit ’n unieke staafkode.

Wanneer die naelstringbloed met sy unieke staafkode by die laboratorium aankom, word dit verwerk, waarna die selle in ’n spesiale gelamineerde sakkie geberg word. Dié sakkie word in nóg ’n sak geplaas en dan in ’n aluminiumhouer wat dit teen meganiese skade en besmetting beskerm. Die hele spulletjie word dan gevries teen -196 °C.

Hierna mag niemand naby die houer kom sonder jul skriftelike toestemming nie. Toegang tot laboratoriums word met vingerafdruk-tegnologie beheer.

En sê nou die krag gaan af? Die stamselle is veilig omdat dit nie met elektrisiteit geberg word nie, maar in tenks wat met vloeibare stikstof gevul is. Die tenks word egter elektronies gemonitor (’n alarm gaan af as die stikstofvlakke laag is), daarom is daar kragopwekkers wat inskop in geval van ’n kragonderbreking. Kragopwekkers word ook ingespan wanneer stamselle uit die koordbloed of -weefsel gehaal word, aangesien hierdie proses van elektrisiteit afhanklik is.

Gesofistikeerde brandopsporingstegnologie word gebruik wat die risiko dat die selle in ’n brand vernietig word, bykans heeltemal uitskakel.

11. Watter soort terugvoer, indien enige, kan ouers van ’n bergingsmaatskappy verwag?

Kliënte van Cryo-Save ontvang ’n kwartaallikse nuusbrief met inligting oor die maatskappy en die nuutste stamselnavorsing. By Netcells kan jy ten minste jaarlikse kommunikasie verwag.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees