"Steeds geen sukses"

akkreditasie
'n Paar lesers deel hulle vreugde, hartseer, teleurstelling en hoop soos hulle sukkel om swanget te raak.

Elona Burger sukkel steeds om swanger te raak

Ons is Februarie 2009 getroud en baie gelukkig. Ons probeer nou al vir omtrent 18 maande om suksesvol swanger te raak.
 
Ek het in Desember 2009 uitgevind ek is 4-5weke swanger. Ek was baie opgewonde. Ons wou dit stil hou, maar met 'n eerste swangerskap is die opwinding te groot.

Ek het ongelukkig tussen 6-7 weke 'n afskeiding begin kry en is opgeneem met 'n "drygende miskraam".  Op 11 Januarie 2010 het ek toe 'n "skraap" gekry. Dit was vir my regtig hartseer en nog erger om my man so te sien huil.
 
Ons het toe eers rustig geraak en beplan om veel later eers weer te probeer, maar toe raak ek angstig om weer swanger te raak. Ek het in November 2010 uitgevind ek is omtrent 4 weke swanger, maar kry toe onmiddellik weer 'n afskeiding en vind 'n dag na my verjaarsdag uit ek het weer 'n miskraam gehad.
 
Ons het toe weer probeer en in April 2011 vermoed ek is weer swanger. Die tuis swangerskaptoetse het niks gewys nie en ek het weereens 'n afskeiding gekry. Met my besoek aan die dokter het die bloed toetse bevestig dat ek weereens om en by 3-4 weke swanger was.
 
Dis regtig nie lekker om daardeur te gaan nie, maar soos die dokter sê, As jy kinders wil hê, moet jy bereid wees om die hartseer en gesukkel deur te gaan.
 
Ek is nou op "Postoval" om my siklus weer reg te laat loop en dan moet ek 'n hormoon pil drink die oomblik wanneer ek weer vermoed ek is swanger.
 
Ek het op die internet gaan nalees oor Postoval en dit lyk of daar baie negatiewe gevolge kan wees, so ek wil so vinnig moontlik ophou om dit te gebruik. Dit maak ook die hele ondervinding baie tegnies en spanningsvol.  
 
Dis nog erger om al die mammas om my te sien. Ek vind wanneer ek uitvind iemand in my vriendekring is swanger, ek onbewustelik wag om te hoor hulle het 'n miskraam gehad. Dis nie dat ek dit nie vir enige iemand gun nie, maar omdat my ondervinding elke keer negatief is, is dit moeilik om in ander se blydskap te deel.
 
Ek moet die saak egter net in die Here se hande laat en glo dat Hy vir ons 'n kind sal gee, indien dit Sy wil is.
 
Baie sterkte en voorspoed aan al die getroude paartjies wat probeer om met 'n gesin te begin!!!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees