Stop sooibrand

akkreditasie
Ons vertel jou wat sooibrand veroorsaak en hoe jy dit kan vasvat.

Jy is nie alleen nie. Meer as 80 persent van swanger vroue sukkel gedurende swangerskap met sooibrand. Dis hinderlik en ongemaklik, en ’n newe-effek van al die hormone wat so woes in jou liggaam aan die werk is. Dié hormone laat al die sagte spiere in jou liggaam verslap, die spiere van jou spysverteringskanaal inkluis.

As gevolg daarvan beweeg kos stadig deur die maag en dit veroorsaak dat maagsure in die slukderm opstoot. Die gevolg: ’n brandende gevoel op jou bors. Die toestand kan verder vererger word omdat jou baba en baarmoeder uitsit, dit jou maag boontoe druk en vasdruk, en jou vertering in die proses nog stadiger maak.

’n Mens kry meestal sooibrand nadat jy geëet het. Soms beweeg die kos selfs in jou keel op tot in jou mond, waar dit ’n bitter smaak laat. Dis ook meer algemeen wanneer jy lê en die drukking op jou
maag dus toeneem. Veeleisende take soos die optel van voorwerpe, hoes en oorbuk kan dieselfde reaksie ontlok.

Wat veroorsaak sooibrand?

Een van die sondaars is die hormoon progesteroon, wat daarvoor verantwoordelik is om die sagte spiere in jou baarmoeder te laat verslap. Die klep wat die slukderm en die maag skei, verslap terselfdertyd, met die gevolg dat maagsure in die slukderm opbeweeg en sooibrand veroorsaak.

Wat jy kan doen

  • Eet kleiner maaltye. Die swangerskapsgids What to expect when you’re expecting beveel ses kleiner maaltye per dag aan. Dis ideaal vir sooibrand en spysverteringskwale.
  • Drink ’n glas melk voor slaaptyd; dit help om die suur in jou maag teen te werk.
  • Drink net teensuurmiddels wat jou dokter voorgeskryf het.
  • Eet stadig. Dokters sê as jy vinnig eet, kan jy lug sluk, wat lugpakkies in die maag kan vorm. As kos nie ordentlik verteer word nie, kan sooibrand dan vinniger plaasvind.
  • Moenie met etenstyd vloeistowwe drink nie. As vloeistowwe met die kos meng, neem dit te veel ruimte in beslag en laat dit jou net nog ongemakliker voel.
  • Moenie ná ete gaan lê nie. As jy horisontaal is, kan die maagsure maklik opstoot. Probeer regop sit tot jou kos verteer het. As jy lê, hou jou kop en skouers sowat 15 cm hoog om te voorkom dat die maagsure in jou keel opstoot.
  • Moet nooit ná etes oefen nie en indien jy oefen, vermy draf en gewigte optel aangesien dit die drukking op jou maag laat toeneem.
  • Bly weg van styfpassende klere en nagklere.
  • Probeer om sowat drie uur voor slaaptyd aandete te eet.
  • Moenie voor slaaptyd vloeistowwe drink nie. Hoe leër jou maag is wanneer jy lê, hoe beter.
  • Vermy kos wat geneig is om sooibrand te veroorsaak, veral sjokolade, sitrusvrugte en -sap, tamatiegeregte, mosterd, asyn, peperment-produkte, sterk gekruide kosse en gebraaide en vetterige kosse.
  • Bly ook weg van alkohol, tee en gaskoeldrank.
  • Rook veroorsaak ook sooibrand (en is in elk geval ongewens terwyl jy swanger is).
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees