Swanger met meerlinge: Jou blitsgids

akkreditasie
Twins
Twins
Jy verwag meer as een baba – geluk! ’n Meerlingswangerskap is baie spesiaal, maar saam met die ekstra opgewondenheid kom ook ekstra bekommernisse.

Wie kry tweelinge?

Kwelvrae oor voeding, fetale ontwikkeling en moontlike komplikasies kry nuwe betekenis wanneer daar ekstra lewetjies in jou boepie groei. Om seker te maak dat jy en jou babas die hele swangerskap lank veilig en gesond bly, is dit belangrik om te weet presies wat jy in die volgende klompie maande kan verwag.

Enige vrou kan swanger word met ’n tweeling. Vroue wat vrugbaarheidsbehandeling kry, ouer as 35 is en vroue met tweelinge in die familie is egter meer geneig om twee- of meerlinge te hê. Weens vooruitgang op die gebied van vrugbaarheidsbehandeling en omdat al meer vroue tot ná 35 wag voor hulle swanger raak, is dit dus geen wonder dat meerlinge die laaste klompie jare dramaties toegeneem het nie.

Swart vroue is meer geneig om tweelinge te hê as wit vroue. Asiatiese vroue is die minste geneig tot meerlingswangerskappe. Mans het geen invloed op hoeveel babas hul vrou verwag nie. Die geneigdheid tot identiese tweelinge word nie oorgeërf nie en kom ewe veel in al drie rassegroepe hierbo voor. Groter en langer vroue en vroue wat al kinders gehad het, is ook meer geneig om meerlinge te hê.

Hoe weet ek ek verwag ’n tweeling?

As jy baie vroeg in jou swangerskap baie groot word of as jy in een van die kategorieë hierbo val, is dit ’n goeie plan om so vroeg moontlik vir ’n sonar te vra. ’n Meerlingswangerskap kan op agt weke reeds bepaal word. Onthou egter dat daar baie meer meerlingswangerskappe as meerlinggeboortes is. Daar is ’n moontlikheid dat die tweede fetus net kan verdwyn. Dis onduidelik wat met die fetus gebeur: Dit word moontlik in die vrugwand herabsorbeer of net uitgeskei as bloeddruppels.

Jy kan eers teen 14 of 15 weke met sekerheid kan sê of jy ’n meerlingswangerskap het. Gemiddeld 12 uit elke duisend geboortes is tweelinge.

Hoe weet ek of dit ’n identiese tweeling is?

Dis moeilik om voor die tyd te bepaal. Identiese of monosigotiese tweelinge (dis fetusse wat groei uit een bevrugte eierselletjie wat verdeel het) kan in een of twee vrugsakke ontwikkel. Nie-identiese tweelinge (disigotiese tweelinge van twee aparte eiertjies wat elk bevrug is) het aparte vrugsakke en vrugvliese, maar die vlies en die sakke kan aanmekaargroei en dan kan dit lyk asof hulle ’n vrugvlies deel.

Die kans is groter dat dit ’n identiese tweeling is as die fetusse ’n vrugvlies deel. Net ’n klein aantal identiese tweelinge deel ’n vrugvlies én ’n vrugsak. Identiese tweelinge het natuurlik altyd dieselfde geslag. Slegs ’n derde van alle tweelinge is identies. Drie- en vierlinge kan identies of nie-identies of ’n kombinasie wees.

Is ’n meerlingswangerskap gevaarlik?

Dokters beskou dit as ’n hoërisiko-swangerskap want dit eis meer van jou liggaam. Jou liggaam is immers besig om drie of meer mense te voed! Jy sal dus meer gereeld jou dokter moet besoek en, as dit moontlik is, meer sonars moet ondergaan as met ’n enkelswangerskap. Jy sal teen die einde elke twee weke dokter toe gaan. Jy sal waarskynlik vroeër die lewe skenk en jou babas sal moontlik kleiner wees. Tweelinge word gemiddeld op 37 weke gebore, maar baie tweelingswangerskappe duur net tot 34 of 36 weke. Drie- en vierling-swangerskappe eindig gemiddeld op afsonderlik 34 en 32 weke.

Veral identiese swangerskappe loop die gevaar dat een baba meer voeding kry as die ander een. Dis uiters belangrik om in die derde semester so veel as moontlik te rus. Probeer om nie ná 28 weke te werk nie.

Bloedarmoede en preëklampsie (hoë bloeddruk, proteiën in die urine en swelling van die hande, voete en gesig) is ook meer algemeen by meerlingswangerskappe. Jy sal gereeld daarvoor getoets word. Vra vir die dokter ’n paar stokkies sodat jy jou urine self elke dag by die huis kan toets. Preëklampsie ontwikkel vinnig tot eklampsie, ’n lewensgevaarlike toestand.

Sal ek baie groot word?

Ja, jy sal. Vroue wat tweelinge verwag, sit gemiddeld 22 kg aan. Jy sal op 6 maande lyk soos iemand wat 8 maande swanger is. Heel teen die einde van jou swangerskap sal jy waarskynlik nie meer in jou kraamklere pas nie. Jy sal met moeite beweeg, motor bestuur en uit die bad klim. Jy sal nie self jou skoene kan aantrek nie. Gelukkig sal skottelgoed was ook onmoontlik word!

Word rustig en gebruik die tyd om jouself vir oulaas te koester. Moenie vergeet om die babas se kamer in orde te kry voor jy te groot word nie.

Hoe sal my swangerskapsimptome verskil?

Dit hang af. Vroue wat eers ’n enkel en toe ’n meerlingswangerskap gehad het, sê sooibrand en hardlywigheid is erger. Daar is vroeër in die swangerskap meer drukking op jou maag en dermkanaal.

Beproef gerus vlassaad vir hardlywigheid. Dis propvol omega-olies, maar hou net in gedagte dat dit baie kilojoules ook bevat.

Ander simptome soos naarheid en swelling kan ook erger wees. Jy sal baie gereeld toilet toe gaan om te urineer. Jy sal beslis meer van ’n gewoel en geskop voel en jy sal beslis vroeër en dus vir langer ongemaklik wees. Teen die einde van die swangerskap sal jy waarskynlik ook maklik uitasem word en rugpyn kry. As dit somer is, sal jy baie warm kry. Sommige vroue sê dit help vir rugpyn om ’n draagband soos ’n sarong om jou maag en nek te bind of met ’n klam handdoek op die maag te gaan lê as dit warm is.

Moet ek meer eet?

Nee – eet gesond, maar moenie oorboord gaan nie. Kry genoeg proteïne in. Omdat jy so gou so groot sal word, sal jy dalk vind dis beter om kleiner maaltye meer gereeld te eet om sooibrand te voorkom.

Sal ek oefening kan doen?

Jy kan aanhou oefen solank dit gemaklik voel. Teen die einde van jou swangerskap sal dit moeilik raak. Swem is dan altyd ’n goeie keuse. Dit sal vir jou heerlik wees om van jou voete af te kom.
Omdat veral jou rug baie moet verduur, moet jy onthou om nooit te buk nie. Buig jou knieë en kniel as jy iets van die grond wil optel.

Sal ek seks kan hê?

Ja, vir solank as wat dit vir jou gemaklik voel. As daar enige bloeding of gevaar van ’n miskraam is, moet jy dadelik dokter toe gaan. Teen die einde van die swangerskap sal julle sukkel om bymekaar uit te kom.

Sal ek ’n amniosentese kan kry?

Ja. As jy ouer as 35 is, is daar ’n groter kans dat een of albei babas Downsindroom kan hê. Jy sal aangeraai word om rondom 16 weke ’n amniosentese-toets te ondergaan.

Dis vir die dokter effens moeiliker om ’n amniosentese uit te voer wanneer daar meer as een baba in die baarmoeder is. Kies dus vir jou eie gemoedsrus ’n dokter met baie amniosentese-ervaring. Onthou ook dat indien een baba wel ’n ernstige probleem het, gaan jy heel moontlik ’n moeilike besluit oor albei se oorlewing moet maak.

Sal my babas vroeg gebore word?

Nie noodwending nie, maar die kans is goed. Daar is vroue wat tweelinge tot op veertig weke dra. Die belangrikste is die grootte van jou babas.

Jou babas het ’n groter kans om kleiner te wees met geboorte en tyd in ’n broeikas deur te bring voor hulle kan huis toe gaan.

Kan ek ’n natuurlike bevalling hê?

Ja, mits jy ’n tweeling verwag. Dit hang af van hoe die babas in die baarmoeder lê. As een dwars of met die koppie na bo lê, kan jy probleme kry.

Dis nie ontmoontlik om vaginaal te kraam nie, maar jou dokter kan jou daarteen waarsku. Baie vroue wat vaginaal kraam, moet agterna ’n noodkeisersnee kry om die tweede baba te verlos. Dis egter ’n besluit wat jy self moet maak. As jy op ’n natuurlike geboorte besluit, maak seker die hospitaal het al die nodige mediese toerusting soos elektroniese hartmonitors om die babas se hartklop tydens die kraamproses te monitor.

Die bevalling duur gemiddeld net so lank as ’n enkelgeboorte. Weer eens hang dit af van hoe die babas lê. Onthou, as die hartmonitor om jou maag vasgebind is sal jy nie veel kan rondbeweeg nie, wat dit vir jou baie ongemaklik kan maak.

Met drie of meer babas is jou kans op ’n natuurlike geboorte omtrent nul en sal die dokter op ’n keisersnee aandring. Die gevaar dat die babas stres en permanente skade tydens die kraamproses opdoen, is net te groot.

Sal ek pynverdowingsmiddels tydens kraam kan ontvang?

Ja, maar bespreek dit met jou dokter. Dis meer ingewikkeld met meerlinggeboortes. Die narkotiseur moet sy storie ken.

Sal ek tuis kan kraam?

Dit is seker moontlik, maar nie ’n goeie plan nie. Weer eens sal jou dokter jou waarskynlik afraai om dit te doen.

Is meerlingswangerskappe en -geboortes duurder?

Ja, amper dubbel so duur. Jy gaan meer dokter toe, kry meer sonars en die pediater by die geboorte vra vir twee (of meer) nuwe pasiëntjies.

Sal ek kan borsvoed?

Dis jou keuse, maar hoogs aan te beveel. Dit is waarskynlik al wat jy die eerste paar maande gaan doen! Jy sal moet seker maak dat jou babas genoeg melk inkry en genoeg gewig aansit. Om borsvoeding met bottelvoedings af te wissel sal jou ’n baie nodige blaaskans gee.

Onthou net dat sommige babas bottelvoeding verkies (die melk kom makliker uit) en dat daar dan ’n kans is dat baba jou bors verwerp.
 
Bronne:
The Twins Handbook deur Elizabeth Friedrich en Cherry Rowland, Robson Books.
Twins from Conception to Five Years deur Averil Clegg en Anne Woollet. Century Publishing Co.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees