Swanger seks 101

akkreditasie
iStock
Wat gebeur met jou libido, watter posisies is veilig, en hoe kan julle met gemak liefde maak terwyl jy swanger is?

Die twee positiewe strepies het op die stokkie verskyn en jou kop is vol drome van babas en mooi babakleertjies. Wat jy (en jou maat) gedoen het om swanger te word, is dalk die laaste ding waaraan jy nou dink, maar nadat die ergste opwinding bedaar het, kan seks dalk net weer ’n plek op die agenda kry en dit is reg so.

Seksuele intimiteit is immers ’n belangrike deel van ’n gesonde, gebalanseerde verhouding.

Swangerskap het gewoonlik ’n invloed op paartjies se sekslewe, net soos die koms van ’n nuwe baba dikwels heelwat druk daarop plaas vanweë moegheid, ’n gebrek aan tyd en ’n gebrek aan privaatheid. Beskou jou swangerskap dus sommer as ’n oefenronde van nege maande om uit te werk hoe julle steeds wonderlike intimiteit saam kan geniet ondanks ’n paar uitdagings.

Lees ons gids hieronder wat verduidelik watter invloed jou liggaamlike en emosionele veranderinge op jul sekslewe
kan hê, en gee veral aandag aan ons idees om die vonk lewendig te hou! 

EERSTE TRIMESTER

Die eerste trimester is waarskynlik die moeilikste tyd as dit kom by jou seksdrang. Jy sukkel dalk met oggendnaarheid, voel buitengewoon moeg en jou kop is nog besig om aan te pas by die gedagte dat julle oor minder as nege maande ouers gaan word. Jy kan dus heeltemal verskoon word as seks die laaste ding op jou agenda is.

Die ironie is dat jou maat nog nie juis kan sien dat jy swanger is nie, en dus kan sukkel om te verstaan dat jy aan die einde van die dag net op jou bed wil neerval en slaap. Aan die ander kant is dit ook moontlik dat jou maat dieselfde kan voel, want al ervaar hy nie die uitputting en simptome van swangerskap aan sy eie lyf nie, moet hy ook aanpas by die gedagte dat hy pa gaan word en kan hy ’n kop vol vrae hê oor die swangerskap ... en seks.

Dit is uiters belangrik dat julle nou openhartig met mekaar kommunikeer – ook oor jul sekslewe. Om met jou maat oor seks te praat behoort jou nie ongemaklik te laat voel nie (almal weet immers teen dié tyd julle het dit minstens een keer gedoen!).

As jou libido laer as gewoonlik is, maak seker jou maat weet dat dit nie laag is omdat jy nie lief is vir hom nie, maar dat dit eerder die gevolg is van die fisieke veranderinge aan jou lyf wat jou minder goed laat voel. Verduidelik ook dat jy heel waarskynlik nie regdeur jou swangerskap so gaan voel nie, anders kan die man dalk moed verloor!

Hy sal waarskynlik vrae hê oor seks terwyl jy swanger is en wil weet of dit veilig is vir jul baba. Jy kan hom gerusstel dat dit wel is. Seksuele penetrasie maak nie jou baba seer nie. Jou serviks is verseël deur ’n dik slymprop en ’n sak vrugwater (amniotiese vloeistof) wat jou baba teen die buitewêreld beskerm. Moedig jou maat aan om met die ginekoloog daaroor te gesels en enige vrae waarop jy nie antwoorde het nie, met hom te bespreek met julle volgende afspraak.

Fisiek beleef jou liggaam nou baie veranderinge wat sekere dele meer sensitief as voorheen kan maak. Jou borste kan veral in die eerste trimester besonder sensitief voel. Hoewel dit voorspel vir jou dalk lekkerder kan maak, vind ander vroue weer dat hulle dit nou minder geniet.

Weer eens is dit belangrik dat jy openlik met jou maat gesels oor hoe jou behoeftes en genotpunte saam met jou lyf verander.

TWEEDE TRIMESTER

Jou libido kan ’n stewige hupstoot kry in die tweede trimester as gevolg van die geweldige toename van hormone in jou lyf. Daarby is oggendnaarheid nou gewoonlik iets van die verlede en voel jy ook minder moeg (om die waarheid te sê, baie vroue voel nou besonder energiek).

Daar is ’n toename in bloedvloei na die bekkenarea, wat die vaginale area meer sensitief en vogtig maak en jou seksuele plesier kan verhoog. Nie net kan dit jou seksdrang versterk nie, maar jou vermoë om maklik ’n orgasme te bereik, kan ook verbeter.

Die meeste vroue begin hul baba se bewegings teen 20 weke voel. Wat baie mense nie weet nie, is dat die baba ook tydens seks kan beweeg en selfs gestimuleer word om meer te beweeg ná die adrenalien- vrystelling wat jy ervaar wanneer jy ’n orgasme het.

Sommige vroue kan tydens seks of met ’n orgasme Braxton Hicks-kontraksies kry. Dit is heeltemal normaal ná 20 weke swangerskap en nie rede tot kommer nie. Hierdie sametrekkings sal gewoonlik ná ’n paar minute tot ’n halfuur verdwyn.

DERDE TRIMESTER

Jou boepie word nou ál groter en jy sal agterkom jy is nie naastenby so beweeglik soos voorheen nie. Moenie verbaas wees as jou seksdrang in hierdie laaste weke ’n bietjie begin taan nie. Om so ver swanger te wees, plaas stremming op jou hele liggaam, veral jou gewrigte, spiere en selfs jou balans. As daar een tyd in die swangerskap is wanneer jy liefs ’n bietjie rustiger moet wees, is dit nou.

Voorheen het sommige gesondheidswerkers gewaarsku teen seks in hierdie stadium weens vrees dat dit ’n vroeë
geboorte aan die gang kan sit. Deesdae weet ons egter dat seks nie die waarskynlikheid van vroeë geboorte verhoog nie en daarom word dit nie ontmoedig nie, tensy daar swangerskapskomplikasies is soos water wat voortydig gebreek het of vaginale bloeding. 

Praat met jou maat oor hoe jy in hierdie tyd voel. As jy te ongemaklik groot voel vir seks, kan julle dalk net ’n bietjie lepellê of mekaar vashou, of ander maniere vind om mekaar te koester.

Iets wat julle kan laat giggel of gril (afhangende van hoe julle daaroor voel) is dat jou borste in die laaste trimester kolostrum kan begin lek terwyl julle seks het. As dit jou ongemaklik laat voel, vra jou maat om liewer jou borste in hierdie tyd te vermy.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees