Top-10 Fetusfeite

akkreditasie
Daar is 'n hele paar dinge wat in die baarmoeder gebeur wat jou dalk sal verras.

1. Jou fetus het tande!

Hoewel die meeste babas met ’n heeltemal tandlose bekkie gebore word, begin jou kleinding se
tandstelsel reeds teen nege tot 14 weke swangerskap ontwikkel. Dis die oorsprong van sy melktande,
wat waarskynlik eers vier tot ses maande ná baba se geboorte hul verskyning sal maak.

In uitsonderlike gevalle (daar word geskat by sowat in een uit 2 000 babas) verbaas ’n kleinding sy ouers wanneer hy in die wêreld aankom met een tandjie reeds sigbaar in sy mond. Soms is dit ’n gewone melktand, en ander kere ’n ekstra tand wat later uitval.

2. Kleinding speel drie maande blindemol

Jou kleinding se ogies begin reeds op ses tot sewe weke van swangerskap ontwikkel en is aanvanklik
wawyd oop. Teen 11 tot 14 weke het dit genoeg ontwikkel dat hy sy ooglede kan toemaak en dit bly
dan vir eers toe.

Op 26 weke is alle dele van die oog al goed ontwikkel. Iewers tussen week 27 en 30 begin hy sy oë oopmaak en sy ooglede knip. Teen week 33 kan jou baba onderskei tussen lig en donker en kan hy dowwe vorms waarneem.

Teen nege maande is jou kleinding se ogies oop, maar het dit ’n dowwe kleur wat moeilik is om te
bepaal.

3. Jou bobbejaantjie is oortrek met hare

Die ou mense het gespot dat babas bobbejaantjies is wie se hare afgeskeer is – en dis nie so ver van
die waarheid nie. Die haarfollikels in die vel begin teen week nege ontwikkel. Teen week 22 is die fetus se hele lyfie met fyn donshaartjies genaamd lanugo bedek.

Die lanugo help onder meer om die vetterige lagie op die vel vas te hou en so kleinding se velletjie te
beskerm. Teen die sewende maand raak die donshaartjies weer minder en teen week 37 verdwyn dit byna heeltemal. Met geboorte kan jou baba dalk nog ’n paar haartjies op sy bo-arms en skouers oorhê.

4. Sy kop is in ’n stadium net so groot soos die res van sy lyf

Teen die einde van die tweede maand is jou fetus se koppie net so groot soos die res van sy lyf. Dit is omdat die brein so geweldig vinnig gevorm word. Teen die derde maand is die kop steeds baie groot in vergelyking met die res van die lyf, maar dit groei nou stadiger en hierna begin jou klein mensie ál meer soos ’n baba lyk.

Eers teen die sewende maand begin baba se lyfie vinniger as sy kop groei en teen die negende maand lyk jou kleinding uiteindelik “normaal” en is sy koppie sowat ’n kwart van sy algehele liggaamsgrootte.

5. Die geslagsdele is al vroeg-vroeg ten volle ontwikkel

Al gaan sy dit eers as volwassene gebruik, het ’n meisie teen 23 weke van swangerskap reeds ’n ten volle ontwikkelde baarmoeder en eierstokke – met ’n hele leeftyd se eierselletjies klaar reg vir gebruik! Tot op die negende week lyk die geslagsdele van albei geslagte presies dieselfde, waarna dit verskillend begin ontwikkel.

Teen sowat 20 weke van swangerskap is die uitwendige geslagsorgane klaar gevorm. As jou baba reg lê, kan die geslag so vroeg as 16 tot 20 weke al vasgestel word met ’n sonar. Seuntjies se testes daal teen die sewende maand vanuit die buikholte in die skrotum af.

6. Jou baba kan in die water ‘asemhaal’

Jou baba kry die suurstof wat hy nodig het vir oorlewing deur die plasenta direk in sy bloed sonder
die longe se betrokkenheid, maar dit beteken nie dat sy longe in die baarmoeder nou totaal en al ongebruik lê nie.

Teen 26 weke begin jou baba se longe die middel produseer wat toelaat dat die lugsakkies van die
longe kan opblaas en nie aan mekaar vassit as dit weer afblaas nie, en teen 27 weke sal jou kleinding
begin om met sy longe, gevul met vloeistof, in en uit te “asem” deur die ritmiese sametrekkings van die
diafragma en ander spiere.

Dié “asemhaling” is sporadies – hy doen dit 30 persent van die tyd in die laaste 10 weke van swangerskap. So ontwikkel hy solank die spiere wat hy later sal nodig kry vir daardie belangrike eerste asemteug. Dis kritiek belangrik vir normale longontwikkeling.

7. Jou fetus het reeds ’n vingerafdruk

Jou baba ontwikkel reeds in die derde maand van swangerskap, teen ses tot 13 weke, sy unieke vingerafdruk wat hy die res van sy lewe gaan saamdra. Teen die 17de week het die vingerafdrukke heeltemal gevorm. Teen twee maande is sy hand- en voetafdrukke ook permanent op die velletjie gevorm. Navorsers is nog steeds nie heeltemal seker hoe die unieke patrone gevorm en behou word nie.

8. Jou baba kan al pyn en liefde voel

Die fetus is reeds vanaf sowat agt weke sensitief vir aanraking – eers op die wange, dan later die geslagsdele, handpalms en voetsole. Teen 17 weke is die magie en boudjies ook sensitief vir aanraking.

’n Breinskandering van die fetus op 26 weke sal toon dat jou baba ook reageer op jou aanraking van buite, soos as jy teen die baarmoeder druk. Teen 32 weke is byna die hele lyfie sensitief vir temperatuurveranderinge, druk en ja, pyn.

Jou fetus kan saam met jou ruik – en proe

Teen sowat 13 tot 15 weke sal jou fetus se smaakknoppies op sy tong al herinner aan ’n volwassene s’n. Die fetus se neus ontwikkel teen 11 en 15 weke, en reeds van so vroeg as 28 weke swangerskap kan jou baba al begin ruik – dieselfde goed as wat jy as ma ruik! As jy kerrie eet, sal jou vrugwater vir jou baba daarna ruik. As die vrugwater soet proe, sal hy dit meer gereeld sluk.

10. Jou fetus kan al onthou

’n Studie het getoon dat jou klein mensie al op 30 weke ’n korttermyn geheue het. Navorsers het gevind dat as die fetus herhaaldelik aan ’n bepaalde prikkel blootgestel is, hy ná ’n ruk nie meer daarop reageer het nie. Hy onthou dus dat hy al voorheen daarmee te doen gekry het en dat dit “veilig” is.

Volgens die navorsers kan ’n fetus op 30 weke sowat 10 minute lank onthou, terwyl 34 week oue
fetusse inligting kan berg en dit vier weke later kan herroep.

Het jy geweet?

As jou baba vroeg gebore word, moet jy steeds betrokke bly by sy sorg in die hospitaal en jou nie isoleer nie

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees