V&A: Ek het 'n infeksie wat nie wil opklaar nie

akkreditasie
Ek is 22, die ma van een kind en tans 30 weke swanger. Sedert 2006 het ek ’n infeksie wat nie wil opklaar nie. Ek was al by ses dokters, van wie een ’n ginekoloog was, en hulle sê dit is sproei, maar daar is geen verligting nie. Van die begin van my eerste swangerskap af het ek ’n ligte afskeiding gehad, maar selde ’n gejeuk. Nie dokters of aanwendings het gehelp nie. Ek het Pap-smere, bloedtoetse en selfs ’n toets vir sifilis gehad. Die afgelope twee jaar van my lewe was hel en dit verwoes die seksuele verhouding met my man. Ek is moeg daarvan om dit vir dokters te verduidelik en elke keer dieselfde diagnose te hoor. Ek kan eenvoudig nie aanvaar dat dit sproei is nie. Dit moet iets meer drasties wees wat ernstige aandag verg. Salf, medikasie en selfs antibiotika vir my en my man was tot dusver onsuksesvol. Het ek dalk kanker?

Dr. Peter Koll (ginekoloog en verloskundige) antwoord:

Die infeksie wat jy beskryf, kan verskeie oorsake hê, en ’n akkurate diagnose kan nie net aan die hand van die simptome gemaak word nie. Jy sal ’n spesialis moet gaan raadpleeg wat jou deeglik moet ondersoek.

Die oorsaak kan enigiets wees van ’n plaaslike allergiese reaksie, ’n veltoestand en ’n reaksie op al die salf en antibiotika wat jy reeds geneem het tot ’n terugkerende sproei of ander infeksie.

Toetse moet gedoen word om vas te stel watter (indien enige) infeksie jou probleem veroorsaak. Toetse moet gedoen word om suikersiekte uit te skakel en ’n biopsie is dalk nodig.

As die Pap-smeer en ondersoek normaal is, hoef jy nie bekommerd te wees oor kanker nie.

’n Oplossing sal gevind word, maar dit kan ’n ruk duur.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees