V&A: Ek is bekommerd oor my gewig, wat kan ek doen?

akkreditasie
Ek was nog altyd gesteld op my voorkoms en nou dat ek swanger is, begin dit voel asof ek alewig net aan my gewig kan dink. Ek wil nie vet wees nie en ek wil ook nie myself verloor gedurende en na die swangerskap nie. Met elke kilogram wat ek optel, vererger my stres en ek vind dat ek na elke maaltyd vir ure oefen. Ek tel ook byna elke kalorie wat ek inneem.

Marie-Jeanne Kruger antwoord:

In die samelewing waarin ons grootword is daar soveel klem op hoe ons lyk dat baie van ons bereid is om gesondheid ‘n bietjie af te skeep ter wille van voorkoms. Vir ‘n vrou is haar selfbeeld baie nou gekoppel aan haar liggaamsbeeld.

Wanneer dit kom by swangerskap, is dit nie net óns gesondheid nie, maar ook dié van ons ongebore babatjie wat geraak word. Soos baba groei, sal hy/sy sy nutriënte van jou liggaam neem. Daarom is dit so belangrik dat alles wat jy eet gesond moet wees. Om die waarheid te sê, jou baba se welstand is direk afhanklik van joune. Studies het getoon dat moeders wat ‘n onvoldoende dieet volg se babas se kanse op hartsiekte, diabetes, oorgewig, beroerte en sekere geestesiektes later in hulle lewens vergroot.

Jy is reg, mens se identiteit verander wel met swangerskap. ‘n Vrou verander van iemand wat hoofsaaklik net aan haarself hoef te gedink het, na ‘n ma, moeder, ouer.  Haar rol met haar maat verander, en dis vir baie van ons ‘n bietjie skrikkerig.

Probeer om te onthou dat daar ‘n nuwe mensie besig is om te groei binne jou. Fokus op die wonderwerk waarvan jy deel is. Jou liggaam doen iets wat dit nog nooit gedoen het nie – dit voed, ondersteun en ontwikkel ‘n mens! Wat ‘n asemrowende gedagte! Jou liggaam verskaf die vrugbare omgewing waarbinne baba veilig, knus en warm is. 

In antieke tye is die simbool van ‘n swanger vrou dikwels geassosieer met alles wat vrugbaar en oorvloedig is.  Dis net in ons maer-behepte samelewing waar vrouens wonder of hulle nog aantreklik is.  
Geniet die nuwe volheid van jou borste, die rondheid van jou magie, die blos op jou vel en dikwels voller hare. Pamperlang jouself, en wys jou magie af in vleiende, modieuse klere. ‘n Vrou lyk werklik net vir ‘n paart kort maande swanger.

Daar word gewoonlik aanbeveel dat ‘n vrou van normale voorgeboorte gewig sowat 11.5 kg tot 16 kg optel gedurende swangerskap. Die meeste vroue verloor dadelik 10kg met die geboorte. Vroue wat borsvoed verloor gewoonlik op ‘n natuurlike wyse so half kilo tot ‘n kilo per maand. Die gevolg is dat meeste vroue weer by hul voor-swangerskap gewig uitkom binne maande na baba se geboorte.

Swangerskap is ‘n uitsonderlike tyd in ‘n vrou se lewe. Wanneer mens op die wonderwerk eerder as die gewig fokus, sal jy dié tyd soveel meer geniet.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees