V&A: Kan die vorm van my bekken kraam beïnvloed?

akkreditasie
Ek is nou 34 weke swanger met my eerste kind. My ginekoloog sê ek sal nooit normaal kan kraam nie omdat my bekken te klein is. Ek wil graag normaal kraam. Speel grootte regtig ’n rol? Kan die vorm van my bekken ook kraam beïnvloed? Ek is nou 34 weke swanger met my eerste kind. My ginekoloog sê ek sal nooit normaal kan kraam nie omdat my bekken te klein is. Ek wil graag normaal kraam. Speel grootte regtig ’n rol? Kan die vorm van my bekken ook kraam beïnvloed?

Dr. JP du Buisson (ginekoloog en verloskundige) antwoord: 

Dis waar dat sekere pasiënte nie normaal kan kraam nie weens twee faktore: die grootte van die bekken en die vorm van die bekken. Pasiënte wat korter is as 1,5 meter of ’n skoen grootte kleiner as ’n nommer twee dra sal heel waarskynlik nie normaal kan kraam nie.

Verder kan die probleem by die bekkeningang lê, dit wil sê waar die baba in die bekken moet inbeweeg. Dit kan ’n mens reeds voor die begin van kraam vasstel. In hierdie geval sal die baba se kop nie teen voltermyn in die bekken inbeweeg nie. Jou ginekoloog kan dalk sê dat die baba se kop op 40 weke “hoog lê”.

Dan kan die bekken uitgang te nou wees. Hierdie toestand is moeiliker om raak te sien en word gewoonlik eers naaan die einde van die kraam gediagnoseer as die baba se kop nie wil deur pas nie.

Verder kan die bekkenvorm ook ’n rol speel. Sommige vroue se bekken is boontjievormig. Dit word veroorsaak deur die sakrum wat in die bekkenspasie projekteer.

’n Ronde bekkenvorm is duidelik beter omdat die baba se ronde kop makliker deurpas. Vorm probleme is ook moeiliker om te diagnoseer, maar ’n inwendige ondersoek op 36 weke kan dalk help om pasiënte met ’n duidelike boontjievormige bekken te identifiseer.

Dis belangrik om te onthou dat die grootte en posisie van die baba ook natuurlik ’n rol speel by kraam. Na my mening is die enigste manier waarop jy kan weet of jou baba deur jóú bekken sal pas, wanneer die baba inderdaad daardeur pas!

Ongelukkig beteken dit dat jy ná ’n paar uur van kraam uiteindelik ’n keisersnee nodig kan hê. Sommige pasiënte en dokters sien net nie kans vir hierdie verloop nie. Ek hou duimvas dat jy wel die kans gegun word en dat alles glad verloop.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees