V&A: Kan dit 'n vanginale infeksie wees?

akkreditasie
Ek is 30 weke swanger met my tweede baba. My babadogtertjie is 14 maande oud en met ’n keisersnee in die wêreld gebring. My probleem is dat ek die afgelope twee weke voortdurend kwaai pyn in my vaginale area ervaar. Ek kan nie sit, staan, slaap of loop nie, so seer is dit. Ek het my ginekoloog gebel, maar kon nie ’n afspraak daardie dag kry nie en het my huisdokter gaan spreek. Sy het gesê dis waarskynlik weens die keisersnee, maar ek kan nie verstaan hoe pyn in my vaginale area daardeur veroorsaak kan word nie. Dit voel soos ’n skerp mes wat my gedurig sny. Kan dit ’n vaginale infeksie wees?

Tina Otte (Swangerskap-en geboortespesialis) antwoord:

Wat jy beskryf klink soos pubiese vergroeiingspyn. Die pyn kom van die verbinding aan die voorkant van jou bekken en ontstaan weens die verbindingsweefsel (jou ligamente) wat sag en los raak ten einde die bekken oop te maak tydens geboorte. Dit word veroorsaak deur swangerskapshormone.

Baie vroue beskryf hierdie pyn as ’n skerp, warm steekpyn. Ek twyfel regtig of dit ’n vaginale infeksie is. Sou jy jeuk en ’n afskeiding hê wat sleg ruik, praat asseblief met jou dokter of vroedvrou.

Moenie iets doen wat die pyn erger maak nie. Gee klein treetjies, hou jou knieë naby mekaar en moenie jou bene kruis as jy sit nie. Vermy enige ongemaklike bewegings, veral as jy in en uit die bed klim.

Probeer om nie lang tye op ’n slag te staan nie en dra ’n ondersteunende maagbelt. Dit word deur Carriwell vervaardig en jy kan dit by die meeste babawinkels kry.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees