V&A: Wat gebeur as my baba nie draai nie?

akkreditasie
Ek wil baie graag normaal kraam en is nou 36 weke swanger. My babatjie het in ’n stuitliggende posisie gedraai. Kan sy met manipulasie en oefeninge terugdraai? Wat gebeur as sy nie draai nie?

Yolande Maritz (voedvrou) antwoord: 

Babatjies moet kop eerste in die bekken inbeweeg om ’n ongekompliseerde en suksesvolle vaginale geboorte te verseker. Babas draai gewoonlik teen tussen 34 en36 weke (selde so laat as 38 weke) van jou swangerskap in dié posisie.

Soms draai hulle met hul boudjies na onder, wat die stuit- of in die volksmond sommer die brug posisie genoem word. Hierdie babas word dan voete of boudjies eerste gebore en die koppie verskyn laaste.

Daar kan verskeie redes wees waarom jou baba stuitliggend draai, byvoorbeeld:

  • Jou bekkeningang kan te klein vir die koppie wees en dan draai baba om met die kleinste deel (die boudjies) in die bekkeningang te daal.
  • Die naelstring kan om die nek en kort wees, wat voorkom dat die baba in die korrekte posisie draai.
  • Die plasenta kan laag geleë wees en dus in die pad van baba se koppie.
  • ’n Vergroeisel soos ’n mioom kan die ruimte in die uterus verklein en keer dat die baba omdraai.

As jy regtig baie graag normaal die lewe wil skenk, kan jou dokter of opgeleide vroedvrou jou baba van buite af draai terwyl jou baba baie mooi gemonitor word met ’n sonar en hart monitor.

Hierdie tegniek word ’n eksterne versie genoem. As hierdie tegniek verkeerd aangepak word, kan dit tot ernstige komplikasies vir mamma en baba lei. Die plasenta kan vroeg los gelaat word (abruptio placentae) of die naelstring kan styf om baba se nekkie trek en tot ernstige fetale nood lei.

Albei komplikasies verg ’n onmiddellike noodkeisersnee. Natuurlike manipulasie kan die baba egter soms aanmoedig om self in die regte posisie te draai. Hierdie metode is baie maklik en ons gebruik die natuur om te help.

Metode:

  • Neem eers ’n heerlike warm bad sodat jou baarmoeder, spiere en ligamente ontspan.
  • Gaan lê met jou sit vlak in die lug en jou kop en skouers op die vloer. Die doel is dat jou boude en heupe hoër as jou skouers moet wees.
  • Wieg jou heupe nou van kant tot kant. Hou hierdie posisie 10 tot 15 minute.
  • Klim in die bed en slaap.
  • Jou baba sal as gevolg van swaartekrag draai as dit vir hom of haar moontlik is.

Ander alternatiewe soos refleksologie, aromaterapie en selfs ’n chiropraktisyn kan help om jou baba in die regte kraamposisie te kry as dit moontlik is.

Wat as baba nie draai nie? Om babas vaginaal uit ’n stuitposisie te verlos is nie ideaal nie, maar kan gedoen word met gevorderde tegnieke en bekwame personeel.

Die gevaar is egter dat baba se kop in die bekken vassit, wat tot aspirasie of versmoring kan lei. As daar nie ’n teater beskikbaar is nie, sal die dokter of vroedvrou noodmaatreëls en tegnieke moet toepas om baba te verlos.

’n Keisersnee is dus ’n veiliger opsie in die geval van ’n stuitliggende baba.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees