V&A: Wat kan ek doen om my tepels gereed te kry vir borsvoeding?

akkreditasie
My tepels het ingestulp toe ek 6 maande swanger was. Ek wil graag my baba borsvoed, maar ek het ook ‘n baie ligte en sensitiewe vel. En ek het nog altyd probleme met sensitiewe tepels gehad. My verloskundige sê die baba sal die tepels vanself uittrek as ek begin borsvoed, maar is daar iets wat ek in die tussentyd kan doen om my tepels gereed te kry vir borsvoeding?

Lisanne du Plessis antwoord:

Dit is belangrik om te onthou dat 'n baba BORSvoed en nie TEPELvoed nie. Jou bors is vir jou baba die eerste "ontmoeting" met 'n bors, so hy sal nie weet hoe lyk 'n "gemiddelde bors" of 'n "gemiddelde tepel" nie! Solank die baba 'n groot genoeg deel van die bors in sy mondjie neem, sal die meeste plat of ingestulpte tepels nie problematies wees nie.

Indien die vashou en posisionering van die baba asook die aanhegting aan die bors met genoeg sorg en aandag gedoen word, behoort borsvoeding 'n goeie afskop te kry.
 
In die mees algemene vashouposisie moet die baba op die sy gedraai word sodat hy na die bors kyk. Die mamma kielie dan die baba se bo-lip met die tepel totdat die babatjie sy mondjie WYD oopmaak. Wanneer die mondjie wyd oop is, kan jy die bors aanbied sodat die baba nie net aan die tepel drink nie, maar 'n groot deel van die donkerder deel van die tepel-area (areola) in sy mondjie neem.

Die rugbly posisie ("clutch / football") posisie mag dit vir die baba makliker maak om te drink. Dit is baie belangrik om nie vir die baba tiete, fopspene en bottels te gee nie aangesien dit tepelverwarring kan veroorsaak, wat in die geval van ingestuplte tepels beslis 'n probleem kan veroorsaak.

Indien jy die baba met uitgemelkte borsmelk wil voed, gebruik liefs 'n koppie, teelepel of drupper terwyl die baba leer om te borsvoed. Kenners verskil in opinie oor of voorbereiding van die bors of tepels voor borsvoeding enige waarde het. Die hormonale veranderinge tydens swangerskap kan die tepel meer vormbaar maak en sommige vroue wat voor swangerskap ingestupte tepels gehad het, ondervind dit nie tydens swangerskap en borsvoeding nie.
 
Die volgende opsies is al vantevore deur ma's probeer en werk vir party. My opinie is: solank dit nie skade doen nie, kan jy dit probeer en sien of dit vir jou werk.

  • Plastiek borsbedekkers ("breast shells") kan binne die bra gedra word tydens swangerskap en mag help om die tepel uit te trek.
  • 'n Borspomp mag effektief wees om die tepel uit te trek voor 'n voeding.
  • 'n Borsskild ("breast shield") kan onder die toesig van 'n laktasie konsultant gebruik word.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees