Volle verhaal van jou epiduraal

akkreditasie
Wat is die newe-effekte van epidurale verdowing, neem diit die pyn heeltemal weg en kan dit jou ooit verlam laat? Ons beantwoord saam met twee kenners die 10 algemeenste vrae oor dié gewilde kraampynstiller. 

1. How werk dit en sal dit die pyn heeltemal verdoof?

Verdowing wat met ’n epidurale inspuiting toegedien word, keer dat senuwees pynboodskappe  na die onderlyf stuur. Die inspuiting word byna altyd deur ’n narkotiseur toegedien.

’n Dun, hol naald word gesteek in die epidurale ruimte, oftewel die ruimte tussen die rugmurg en die dura mater, een van die vliese wat die rugmurg bedek. ’n Klein plastiekbuisie word dan deur die naald gesteek en in die rug agtergelaat wanneer die naald uitgetrek word.

Die buisie is gekoppel aan ’n pomp wat verstel word om soos nodig pynstillende medikasie en plaaslike verdowingsmiddels in die epidurale ruimte in te voer om te sorg dat die geboorte pynloos verloop. Sal dit die pyn egter heeltemal wegneem? “Dit hang af van die ma en die hoeveelheid verdowing wat toegedien word,” sê Linda Dixon, ’n kraamverpleegster.

“Epidurale verdowing sal die pyn wegneem, maar jy sal steeds ’n drukkende gevoel in jou onderlyf hê,” sê sy.

2. Is 'n epidurale prosedure pynlik?

Omdat ’n plaaslike verdowingsmiddel op die vel aangewend word voor die epidurale naald ingedruk word, is dit onwaarskynlik dat jy enigiets anders as geringe ongemak sal voel terwyl die inspuiting plaasvind.

“Interessant genoeg kla die meeste vroue dat die binneaarse drup wat jy kry wanneer jy ’n epidurale inspuiting kies, meer ongemaklik as die inspuiting self is,” sê Linda.

3. Sal dit die baba skade aandoen?

Geen van die verdowingsmiddels in jou epidurale inspuiting sal deur die plasenta dring nie. Dit sal dus nie jou baba beïnvloed nie. “Dit word wyd beskou as ’n verdowingsmetode wat die baba minimaal beïnvloed omdat dit nie in jou bloedstroom kom nie,” sê Linda. Dit vermy die bloedstroom en spoel om jou senu-eindpunte.

4. Kan die kateter my ruggraat beskadig?

Dit kan net gebeur as die kateter (waardeur die doofmiddel gevoer word) jou werwelkolom binnedring. “In die 18 jaar dat ek verpleeg, weet ek net van twee gevalle waar die ruggraat beskadig en die pasiënt verlam is, en dit was albei oorsee,” sê Linda. In haar boek Your pregnancy week by week skryf die Britse ginekoloog en verloskundige prof. Lesley Regan dat die kateter omtrent nooit in die ruggraat rondbeweeg nie. As dit gebeur, sal mediese versorgers dit vinnig agterkom omdat die area wat gevoelloos is, op of af sal skuif. Dit kan hulle vinnig uitsorteer.

5. Sal ek steeds kan druk en hoe sal ek weet wanneer om dit te doen?

Lesley Regan skryf in Your pregnancy week by week dat jy met epidurale verdowing steeds sal kan druk, maar dat dit moeiliker sal wees.

Dis omdat jy nie jou kontraksies en die sterk drang om te druk wat daarmee gepaardgaan, in die tweede kraamfase sal kan voel nie. Jy sal nie so goed kan oordeel waar om te fokus terwyl jy druk nie. Wanneer jy egter ten volle ontsluit het, sal jy waarskynlik drukking in jou rektum voel.

Jou vroedvrou of kraamsuster sal jou daardeur praat en aansê wanneer om te druk. Hulle weet wanneer jy kontraksies het omdat jy aan ’n EKG-masjien gekoppel is.

“Jy kan altyd wag dat die inspuiting effens uitwerk sodat jy wanneer jy begin druk, meer bewus is van jou kontraksies, maar belangriker, weet presies waar op jou perineum jy jou drukpogings moet fokus.” Lesley sê 90 persent van die epidurale bevallings wat sy teëkom, moet met suiers of tange aangehelp word.

6. Wat gebeur as dit nie werk nie?

As die verdowingsmiddel oneweredig in die epidurale ruimte versprei, kan dit gebeur dat jy steeds gevoel op ’n deel van jou maag of boud het, sê Lesley. Af en toeskop die verdowing slegs aan een kant van jou lyf in. Dié probleem kan egter vinnig opgelos word. Die narkotiseur sal die kateter se posisie verander en jou ook vra om van posisie te verander om te verseker dat die middel alle senuweeeindpunte eweredig bereik.

Dit gebeur min dat ’n epidurale inspuiting nie “vat” nie. As jy dit oorkom, sal die dokter voor af probeer. As dit steeds nie werk nie, word alternatiewe pynstillers aangebied. In die geval van ’n keisersnee sal jy spinale verdowing kry, waar die naald tussen die rugwerwels ingesteek word (meer daaroor by vraag 9). As dit ook onsuksesvol is, sal jy narkose moet kry.

“Almal reageer verskillend op verskillende middels en party mense se liggaam verwerp plaaslike verdowing. As jy weet dat jy nie op plaaslike verdowing reageer nie, moet jy liefs nie ’n keisersnee kies nie,” sê Lesley.

7. Wat is die newe-effekte?

Lae bloeddruk en hoofpyn is die algemeenste newe-effekte van epidurale verdowing.

Jou bloeddruk kan veral met die toediening van die eerste dosis daal. Dis omdat die doofmiddel nie net die senuwees wat pynboodskappe vervoer blokkeer nie, maar ook senuvesels wat die grootte van die bloedvate in jou bekken en bene beheer.

Om dit te help beheer kry jy binneaarsemiddels en word jou baba met’n EKG gemonitor, sê Linda.

Hoewel epidurale verdowing berug is vir die hoofpyn wat dit veroorsaak, kry eintlik net ’n klein persentasie vroue kopseer daarvan. Sommige vroue het ’n dooie gevoel in hul onderlyf ná die bevalling, maar dit hang af van hoeveel van die doofmiddel toegedien is, sê Linda.

“Gewoonlik sal jy vier tot ses uur nadat die epidurale verdowing toegedien is, nog daardie dooie gevoel hê,” sê sy. By sommige vroue duur dit egter langer.

8. Ek het 'n ou rugbesering. Kan ek steeds 'n epidurale inspuiting kry?

Dit hang van die aard en erns van die besering af, maar oor die algemeen is dit onwaarskynlik dat ’n ou rugbesering ’n epidurale inspuiting onmoontlik maak, skryf Lesley.

Bespreek dit vooraf met jou ginekoloog, is Linda se raad. Indien nodig kan hy ’n x-straal laat neem om die graad van die besering te bepaal en dan besluit. Dis nóg ’n rede waarom jy jou geboorteplan met jou dokter moet uitklaar pleks daarvan om dit tot die laaste oomblik te los.

9. Hoe verskil 'n epidurale inspuiting van 'n spinale blok?

Epidurale verdowing is ’n aaneenlopende prosedure en strek oor die hele loop van jou bevalling. Die spinale blok is ’n eenmalige prosedure, duur hou net ’n paar uur en verdoof jou hele onderlyf van jou middel af ondertoe. Daarom word ’n spinale blok vir keisersneë aangewend en ’n epiduraal vir natuurlike bevallings sodat die hoeveelheid verdowingsmiddel aangepas kan word. Die ander verskil is dat ’n epidurale inspuiting in die gaping net voor die werwelkolom toegedien word terwyl spinale narkose direk in die rugmurgvloeistof gaan. Dit werk dus vinniger.

10. Wanneer sal ek die inspuiting kry en hoe lank voor dit begin werk?

Die beste tyd om die inspuiting te kry is nadat jy 3 tot 4 cm ontsluit het, sê Linda. "Die verdowing skop gewoonlik ná 10 tot 15 minute in."

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees