V&A: Als oor baba se skop

akkreditasie
Wag jy angstig op jou baba se skoppie en wonder jy of daar iets verkeer is as jy dit nie gevoel het nie?

Vraag

Waarmee is my baba besig as ek hom voel beweeg?

Antwoord

Jou baba hou daarvan om sy armpies en hande te gebruik om vuishoue uit te deel, kompleet soos ’n bokser. Hy skop ook graag, veral in die rigting van jou ribbes. Die klein gimnassies maak ook gereeld draaie van 180 en 360 grade. Hulle draai selfs so laat as 34 weke nog rondomtalie!

Jou klein volmaakte babatjie sluk al van 12 weke af vrugwater en iewers tussen 25 en 28 weke kan hy
begin hik, wat jy ook sal kan voel.

V: Hoe voel bababeweging in die baarmoeder? Hoe kan ek dit onderskei van maagkrampe en hongerpyne?

A: Lugborreltjies, springmielies wat skiet, ’n klein gouevissie wat binne-in jou maag swem of ’n fladderende skoenlapper. Dít alles is al gebruik om baba se bewegings in die baarmoeder te beskryf. Die antwoord is egter soortgelyk aan die een oor hoe jy weet wanneer jy jou groot liefde ontmoet het: Jy wéét net.

V: My ginekoloog sê ek het taamlik min vrugwater in my baarmoeder. Kan dit ’n invloed hê op hoe gereeld en gemaklik my baba beweeg?

A: Dink aan die baarmoeder as ’n swembad. Party is vol water en ander net halfvol. ’n Baba wat in ’n halfvol swembad lê, gaan natuurlik nie so vrylik en gemaklik beweeg soos een in ’n vol swembad nie.
As die vrugwater in jou baarmoeder  min is, het jou baba minder water om in te beweeg. Dit behoort egter nie die hoeveelheid beweging te beïnvloed nie, maar wel die gehalte van jou baba se beweging.

V: Kan ek my baba se beweging beïnvloed?

A: Ja. As jy jou baba wil voel beweeg (of net vir jou man wil wys hy beweeg regtig), kan ’n paar slukke Coke of ’n koppie koffie byna onmiddellik resultate lewer. ’n Groot hap sjokolade sal hom ook wakker maak en dalk lei tot ’n bollemakiesie of twee. Moet egter nie dié raad volg voor jy gaan slaap nie. Jou baba sal jou heelnag wakker hou! Die meeste babas word wakker en begin beweeg ’n rukkie nadat jy geëet het. Jy kan ook op jou maag druk om ’n reaksie uit te lok.

Vraag

Ek is 36 weke swanger en my baba lê steeds met sy boudjies na onder. Met ’n vorige besoek aan my vroedvrou het sy voorgestel dat ek hom op 37 weke moet help om uit dié ligging te draai deur twee maal per dag 10 minute lank op my rug te lê met my sitvlak deur twee kontinentale kussings gestut. Is dit ’n goeie plan en kan my baba seerkry?

Antwoord

Die ideale geboorteposisie van ’n baba is met die kop na onder, ken teen die bors gedruk en die rug teen jou buikwand. ’n Stuitligging (waar jou baba óf met sy kop boontoe óf met sy voetjies of boudjies ondertoe lê) is egter algemeen.

Hoewel daar geen bewys is dat dit werk nie, gebruik vroedvroue al baie lank die tegniek wat jy beskryf. Volgens vroedvroue kan dit tot twee weke duur voor dit werk. Sommige babas draai egter nooit uit die
stuitposisie nie.

Soms word die ma ook aangeraai om ’n paar minute lank op haar hurke te sit met haar sitvlak na bo en dan die baba te help draai deur die boudjies liggies in een rigting te du en die kop in die teenoorgestelde rigting.

As jy vermoed dat jou baba gedraai het, moet jy so gou moontlik ’n sonarondersoek laat doen om dit te bevestig. As jou baba gedraai het, moet jy die oefening staak. Raadpleeg jou dokter voor jy enige van dié twee tegnieke beproef. Jou ginekoloog kan ook help om jou baba uit die stuitposisie te lig deur ’n tegniek genaamd eksterne kering: Hulle keer letterlik die baba van die buitekant af om sy boudjies
te lig en ondertoe te druk.

V: Ek is 28 weke swanger en my baba het die afgelope 24 uur nog glad nie beweeg nie. Ek is bekommerd. Wat moet ek nou doen?

A: Hou ’n skoptelling. Gaan sit of lê rustig agteroor, hou jou hand op jou maag en tel hoeveel keer
jy jou baba binne byvoorbeeld 20 minute voel beweeg.

As jy geen beweging gevoel het nie, staan op, stap rond en gaan sit of lê weer ná ’n paar minute. Tel dan weer jou baba se bewegings. Dit kan wees dat jou baba gedurende jou eerste skoptelling geslaap
het. Babas slaap tot 60 minute op ’n slag en beweeg dan min of glad nie.

Dis ’n goeie plan om ’n skoptabel op te stel, selfs al is jy nie bekommerd oor jou baba se beweging nie. En as jy hoë bloeddruk het, is dit veral ’n goeie idee.

Doen dit só:

Knyp dertig minute of ’n uur op ’n spesifieke tyd van jou dag af. Teetyd tussen 15:00 en 16:00 is ’n goeie idee, mits jy elke dag hierdie halfuur of uur kan afknyp. Hou dan telling van hoe gereeld jou baba
in dié halfuur of uur beweeg. Skryf dit in ‘n boekie neer.

Meet dan altyd jou baba se beweging aan sy beweging in dié tydperk. Dit sal jou help om jou ginekoloog meer akkurate inligting te gee as jy bekommerd is oor jou baba se beweging. Dis baie meer waardevol om te kan sê met hoeveel of hoe drasties jou baba se beweging afgeneem het as om bloot te sê jou baba beweeg minder.

As jou baba se beweging aansienlik afgeneem het, raadpleeg jou ginekoloog. Hy of sy sal jou baba se hartklop monitor en as dit bevredigend is, jou met ’n geruste hart huis toe stuur.

Onthou egter dat dit nie abnormaal is om jou baba vir lang tye nie te voel beweeg nie. Ma’s wat deur die dag besig is voel selde hul baba voor sononder. Onthou ook dat nie net lekker harde skoppe as beweging tel nie.

V: My baba beweeg baie meer in die aande as gedurende die dag. Beteken dit dat hy meer slaap in die dag en gevolglik wakkerder is in die nag?

A: Dit is taamlik algemeen dat ma’s meer beweging in die aand voel as gedurende die dag. Dis omdat die meeste van ons in die aand begin afskakel en minder aktief raak. Dis ook waar dat jou baba heerlik gesus word wanneer jy aan die gang is. Wanneer jy rustiger raak of gaan slaap, hou die beweging op en kan jou baba wakker word en begin woel.

V: Hoe gereeld moet ek my baba voel beweeg?

A: Jy hou dalk nie van stilsit nie, maar jou suster kan ure lank roerloos op die bank voor die televisie lê. Dieselfde geld vir babas in die baarmoeder. Party is eenvoudig meer aktief as ander. Oor die algemeen gebruik dokters en vroedvroue minstens tien bewegings per dag (vanaf ongeveer 25 weke) as ’n maatstaf.

Jy kan ook werk op vier bewegings per uur. Onthou egter dat die eerste bewegings baie liggies is. Teen die derde trimester word dit kragtiger. Daarna kan jy weer ’n afname in jou baba se beweging voel
omdat dit effens beknop raak daarbinne. Dit bly egter belangrik om bedag te wees op jou baba se patroon van beweging sodat jy kan agterkom as hy om die een of ander rede ophou beweeg.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees