Wat is ontsluiting?

akkreditasie
Ek is agt maande swanger en beplan ’n natuurlike geboorte. Ek is goed voorbereid en baie positief. Ek is egter bang ek ontsluit nie vinnig of genoeg om natuurlik te kraam nie. Hoe vêr moet ek ontsluit wees voor my baba kan kom? Hoe lank moet my vroedvrou my die kans gun om genoeg te ontsluit?

Yolande Maritz antwoord:

Ek is baie beïndruk met jou siening oor kraam en jou positiewe ingesteldheid! Mag jou geboorte-ervaring vir jou lewensverrykend wees.

Min mense verstaan die ontsluit-ding, bloot omdat niemand dit nog aan hulle verduidelik het nie.

Ontsluiting is ’n fisiologiese proses wat tydens kraam gebeur en dit vind in jou eerste stadium van kraam plaas. Jou serviks is ’n struktuur in jou vagina wat eintlik die eindpunt van jou baarmoeder is. Die serviks is sowat 4 cm lank en het ’n opening aan die punt wat die servikale mond of servikale os genoem word.

Namate jou baba (in normale omstandighede) ná 38 weke in die geboortekanaal inbeweeg, sal die serviks verkort
– ons noem dit opname. Die serviks neem heeltemal op en begin dan oopmaak, wat as ontsluiting bekendstaan.

Terwyl jy kraam, doen jou dokter of vroedvrou gewoonlik ’n inwendige ondersoek om vas te stel hoe ver jy in die
eerste stadium van kraam ontsluit het. Ons bepaal die kraamvordering deur te kyk na ontsluiting, asook applikasie (die druk van baba se kop van binne af op die serviks).

Die eerste stadium van kraam beslaan twee fases: die eerste fase van die eerste stadium (1 tot 5 cm ontsluit) en die tweede fase van die eerste stadium (5 tot 10 cm ontsluit). Jou serviks moet 10 cm ontsluit voor jou liggaam outomaties self sal begin druk.

Dit is baie moeilik om nie vroeër te druk nie, maar as jy druk net omdat jy dit nie kan terughou nie, kan jy die serviks laat skeur en dit sal ná jou bevalling tot kwaai bloeding lei.

Nou wonder jy seker hoe weet ons hoe ver die serviks ontsluit het? Ons word in ons kraamopleiding geleer om met ons vingers te meet en ondervinding leer ons om dit presies te beraam. As jou serviks ten volle ontsluit het, is daar geen serviks meer te voel nie en kan ons net jou baba se koppie voel.

Jou babatjie maak hom outomaties gereed om uit te kom en druk saam met jou lyf om gebore te word.

Ná die geboorte trek die serviks weer toe en vorm weer die mond van die baarmoeder. Met jou ses-weke-ondersoek by die ginekoloog sal hy of sy ’n Papsmeer neem om seker te maak alles het herstel en daar het nie iewers abnormale selletjies of infeksie gevorm nie.

Dis ongelooflik hoe die liggaam geprogrammeer is om hierdie uiters noodsaaklike taak te verrig.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees