Yolande Maritz antwoord: 

Tweeling-swangerskappe word geklassifiseer as hoërisiko-swangerskappe en word baie noukeurig en deeglik dopgehou. Die soort tweeling wat jy het kan ook bepaal of ’n natuurlike bevalling moontlik is.

Monosigotiese tweelinge (identiese tweelinge) deel dikwels die vrugsak en soms selfs die plasenta. Die risiko is dat die plasenta kan loskom voor die tweede baba gebore word en dan bedreig dit die tweede baba se lewe.

Disigotiese tweelinge (nie-identiese tweelinge) loop ’n kleiner gevaar omdat hulle elkeen hul eie vrugsak en eie plasenta het.

Die posisie waarin die babas lê, is ook baie belangrik. As albei babas met die kop na onder lê, is jou kans baie goed om met sukses natuurlik te kraam. Dikwels lê die eerste baba egter met die kop na onder terwyl die tweede baba se boudjies ondertoe lê. Die eerste baba word dan maklik verlos, maar die tweede baba kan ’n probleem wees.

Baie ginekoloë is nie ten gunste van ’n normale bevalling nie vanweë die risiko’s wat daaraan verbonde is. ’n Elektiewe keisersnee word dus gewoonlik tussen 34 en 38 weke gedoen afhangend van jou babas se groei en vordering en jou algehele welstand. Hoë bloeddruk (preëklampsie) ontwikkel dikwels met tweeling-swangerskappe en kan ma en babas in gevaar stel.

Tweelingswangerskappe eindig dikwels in vroeë geboortes omdat die ruimte in die baarmoeder beperk is en die ma enige tyd vanaf 34 weke spontaan begin kraam. Babas wat so vroeg gebore word, het gewoonlik ekstra ondersteuning nodig en word dan in die neonatale intensiewe eenheid opgeneem om versorg te word tot hulle sterk genoeg is om self asem te haal en te suig.