Wat om nie te eet as jy swanger is

akkreditasie
Dis 'n goeie voorsorgmaatreël om nege maande lank maar liewer 'n paar dinge van die spyskaart te skrap.

Hou matigheid voor oë met:

Kafeïen

Jy sal self weet hoe goed jou sentrale senustelsel met kafeïen omgaan. Hou in gedagte dat dit jou en jou baba onrustig kan laat voel en julle selfs hartkloppings kan gee.

Dit beïnvloed ook jul vermoë om kalsium op te neem. En as jy werklik oorboord gaan, kan dit selfs veroorsaak dat jou baba met ’n kleiner kop gebore word!

Die tipiese bronne van kafeïen is koffie, tee, koladrankies en sjokolade, maar daar is ook talle versteekte bronne, soos hoesgoed, hoofpynpille en energiedrankies. Skrap die laaste drie heeltemal van jou lysie, of vra spesifiek vir ’n weergawe wat kafeïenloos en veilig is tydens swangerskap.

Kies eerder rooibostee of warm melk.

Lewer

Kalfslewer bevat baie groot hoeveelhede vitamien A, en te veel daarvan kan skadelik wees vir jou baba. Dis ook hoekom jy nie sommer self moet besluit watter vitamiene en aanvullings jy tydens jou swangerskap inneem nie – vra jou dokter daaroor, of kies iets wat spesiaal vir swanger vroue ontwikkel is.

Hoenderlewertjies is ’n beter keuse omdat dit sowat die helfte minder vitamien A as kalfslewer bevat.

Gemorskos

Jy doen jou en jou baba geen guns as jy lewe van wegneemetes nie. Dis vol ongesonde versadigde vette en skadelike transvette, en bied baie min voedingswaarde. Kies eerder vrugte, groente of jogurt vir ’n vinnige maaltyd, pleks van skyfies, koekies, pasteie, lekkers, koek en roomys.

Kruie

Moenie aanvaar dat alle kruie geskik is vir swangerskap net omdat dit “natuurlik” is nie. Kruie wat liefs vermy moet word, sluit in groot hoeveelhede salie, ploei (pennyroyal), jenewerbessies (juniper berries), psilliumsaad, smeerwortel (comfrey) en wynruit (rue).

Kies eerder pietersielie, basilie en kruisement.

Sout

Te veel sout terwyl jy swanger is, kan lei tot waterterughouding, swelling en hoë bloeddruk. Lees etikette en probeer hou by 3 g per dag, nie meer nie. Baie verwerkte kos, van sop tot vleis, is propvol sout. Dis ook in sportdrankies te kry, en saam met kafeïen dus nog ’n rede om sportdrankies te vermy.

Vis

Rou vis kan virusse en parasiete hê, so bly maar weg van soesji en sasjimi. Rou skulpvis kan besmet wees met kieme wat hepatitis A, cholera en gastro-enteritis veroorsaak. Dis dus veel veiliger om as voorsorgmaatreël dié geregte te vermy.

Vis is eintlik baie gesond – laag in vet en propvol vitamien B, yster, sink, selenium en koper. Maar sommige soorte bevat ook weens omgewingsbesoedeling metielkwik, en dit wil jy nie inkry nie. Veral groot roofvisse het dikwels hoë metielkwikladings.

Geblikte tuna is aanvaarbaar, maar moenie meer as twee blikkies per week eet nie. Probeer dus om eerder ’n verskeidenheid vissoorte te eet as dieselfde visbron oor en oor.

Rou eier

Wie eet nou rou eier? Jy sal verbaas wees waar dit oral versteek is – slaaisouse, mayonnaise, hollandaise-sous en tuisgemaakte roomys en mousse het dikwels rou eier in, en dit hou ’n salmonellagevaar in.

Wat om te vermy

Voedselvergiftiging kan jou swangerskap werklik benadeel. Dit kan tot ’n miskraam aanleiding gee, vroeë kraam aanhits of ’n infeksie by jou baba tot gevolg hê.

Die tipiese kosse waar van ’n mens voedselvergiftiging kan opdoen, sluit in ongepasteuriseerde kaas, blouskimmelkaas, sagte kaas met ’n rand, patee, bokmelk, ongewaste slaaiblare en groente, rou vleis, rou eier, rou vis en skulpvis.

Hoewel die gevaar werklik klein is, kan jy gerus maar hierdie eetgoed uitskakel sodat jy daaroor kan ontspan. Maak dan ook net seker jou slaai en groente is goed gewas en dat jou vleis heeltemal gaar is.

En alkohol?

Daar is tientalle teenstrydige studies oor die uitwerking van alkohol op jou baba, met verskillende resultate afhangend van hoeveel ingeneem is en wanneer in die swangerskap. Pleks daarvan dat jy probeer uitwerk wanneer jy hoeveel kan drink, is dit makliker om nege maande lank net glad nie alkohol te drink nie. Dan weet jy mos jy en jou baba is veilig.

Wenke

  • Was jou hande voor en nadat jy met rou vleis gewerk het. Maak seker die oppervlak waarop jy gewerk het, is ook heeltemal skoon voor jy iets anders daarop begin sny.
  • Was groente, slaai en vrugte deeglik voor jy dit eet.
  • Gooi gekraakte eiers  liewer weg.
  • Moenie onnodig sout  by jou kos voeg nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees