Wat swangerskap regtig aan jou vel doen

akkreditasie
Aknee, ekseem, groter moesies, sensitiewe naeltjie, pigmentasie en sproete, rekmerke, spatare en aambeie, candida-infeksies... hier's wat jy wil weet

Jou swanger liggaam is daagliks aan die verander om die beste moontlike omgewing te skep vir die klein mensie wat binne-in jou groei. Maar o wee, pleks van ’n bloesende gelaat kry jy aknee. Pleks van ’n gloeiende vel is daar skielik net rekmerke en spatare te sien.

Ontspan. Jou vel is jou grootste orgaan en natuurlik sal dit ook die proses waardeur jy gaan, weerspieël. Die meeste velveranderings verdwyn gelukkig wanneer die baba eers daar is, veral as jy jouself mooi oppas.

Aknee

Aknee word gewoonlik deur hormoonveranderings veroorsaak. Sterk akneemiddels is nie geskik vir swanger vroue nie. Hou jou eetplan so gesond en voedsaam as moontlik, drink baie water en vermy ryk en olierige kos. Hou jou gesig skoon en moet glad nie aan jou vel druk of krap nie. Vra jou dokter om ’n room voor te skryf wat kan help.

Ekseem

Barsies of ekseem, hoofsaaklik op die tepels, is algemeen in swangerskap. Hier is jou plaaslike apteek se sinksalf (sinkoksied) ’n goedkoop en doeltreffende oplossing.

Droë vel

Droë vel is dikwels die gevolg van ’n tekort aan vitamiene. Harde waswater, sterk seep en gevoeligheid vir skoonheidsmiddels het ook al die skuld gekry. Neem vitamien-aanvullings spesiaal geformuleer vir swanger vroue, en maak seker dat jy jou gesig en lyf goed genoeg bevogtig.

Rome met galambotter (shea butter) is veral lekker vir die lyf, asook aanspuitbare olies. Wees net versigtig dat dit nie te sterk geparfumeer is nie.

Jukkende vel

Hormooninvloede kan die sondaar wees wanneer jou vel jeuk. Nog ’n oorsaak is dat jou vel rek namate die fetus groei. Die jeukerigheid kan veral ongemaklik wees op klammerige plekke soos onder jou arms, agter jou knieë, in die waai van jou elmboog en tussen jou bene.

Spreek jou dokter as jy ’n uitslag kry. Vermy badsout en -borrels, want dit maak jou vel dikwels droog. Smeer olie aan jou vel vóór jy afdroog, maar nadat jy gebad het. Dit help dat jy nie so olierig voel nie, en dat die bad nie ’n olierige en gladde plek word waar jy kan gly en seerkry nie.

Moesies

Moesies kan groter word. Gaan spreek dadelik jou dokter, want moesies kan wel tydens swangerskap kwaadaardige veranderinge ondergaan.

Naeltjie

Jou naeltjie is sensitief. In die laaste weke kan jou naeltjie begin uitsteek en duideliker word, selfs onder jou klere. Dis die deel van jou buik waar jou spiere ontmoet en die spierwand hier is swakker as op enige ander plek. Jou spiere en vel rek rondom die swellende baarmoeder en die buik-spierwand is dun en sensitief. Dit kan selfs hoogs ongemaklik en pynlik wees.

Moenie styfpassende klere dra nie, moenie krap nie en doen van vroeg af oefeninge om die buikspiere te versterk.

Pigmentasie

Pigmentasie (verdonkering) is taamlik algemeen, veral op die voorkop en wange, neus en rondom die mond. Dié swangerskapvlekke staan ook as kloasma bekend.

Die tepels kan donkerder word en ’n donker vertikale streep (linea nigra) kan vanaf die naeltjie tot by die pubis vorm.

Donkerder pigmentasie kom eerder by blas en donker vroue as blondines voor, terwyl rooikoppe selde aangetas word. Die verdonkering verdwyn gedeeltelik of heeltemal ná geboorte, hoewel klein vlekkies soms agterbly.

Vermy oormatige blootstelling aan die son deur altyd ’n hoed te dra of sonskerm van minstens faktor 34 aan te wend. Gaan spreek ’n velspesialis as dit jou baie pla. Velpigmentasie kan ongelukkig nie vermy word nie, hoewel die omvang en hewigheid bekamp kan word.

Rekmerke

Rekmerke verskyn taamlik skielik en sonder waarskuwing as pienk strepe wanneer die elastiese weefsel in die onderhuid te vinnig rek en as’t ware skeur. Die dele van jou lyf wat die vinnigste uitsit, word gewoonlik aangetas: borste, buik, boude en bobene.

Jy kan rekmerke in toom hou deur jou vel van die derde maand af al voor te berei: Vryf jou vel deeglik met lanolien, petroleumjellie of olyfolie in, vou dan die vel tussen jou vingers en knie dit soos ’n deegrolletjie. Die vel oor jou buik en heupe moet minstens een maal per dag “gebrei” word.

Stut jou borste met ’n goeie, sterk bra, selfs wanneer jy slaap. Rekmerke is ongelukkig permanent omdat die weefsel in die elastiese lae van jou vel afgebreek het. Geoefende spiere onder die vel keer ’n bietjie van die weefselafbreking tydens swangerskap; gereelde oefening vooraf help dus.

Rekmerke is verder een van die tekens van ’n sink-tekort. Eet dus sinkryke kos soos neute, vis, ertjies en eiers, met ongeveer 15 mg sink in jou vitamienaanvullings. Sorg ook dat jy genoeg vitamien C inkry. Dis ’n noodsaaklike bousteen om kollageen in jou vel te maak, terwyl vitamien E jou vel help soepel hou. Rome met vitamien E kan ook help.

Spatare en aambeie

Spatare kan op jou bene verskyn, en selfs in jou uitwendige genitalieë en anus (waar dit ook as aambeie bekend staan). Jou beste wapen teen spatare is goeie bloedsomloop in jou onderlyf.

Hormone laat die wande van jou are versag om al die ekstra bloed te hanteer. Wanneer die drukking te groot raak, kan spatare by die swak plekke in die bloedvatwande vorm. Die druk van die baarmoeder op die vena cava, die groot aar wat bloed vanuit die onderlyf dreineer, is ’n groot oorsaak van spatare.

Dis nie ongemaklik nie, maar vir sommige vroue kan dit seer en swaar voel. Ander is meer gepla oor die voorkoms, maar die meeste van dié are verdwyn gewoonlik gelukkig ná geboorte.

  • Gereelde ligte oefening sal jou bloedsomloop verbeter. Gaan stap gereeld ’n kilometer of verder (moenie drentel nie, maar stap flink).
  • Neem jou gewig so ’n paar maal per dag van jou voete af deur jou voete op ’n tafeltjie of kussing te laat rus.
  • Vermy aanhoudende staanwerk en moenie met oorkruiste bene of een been oor ’n ander gevou sit nie.
  • Vermy stywe sokkies, sykouse of broeke met rekke wat jou bloedsomloop belemmer. Dra wel ondersteuningskouse as die spatare pynlik is; trek dit soggend in die bed aan voor jy opstaan.
  • ’n Homeopatiese preparaat wat versperring van die are verlig, is Lotio Pruni comp. cum Cupro; smeer dit altyd opwaarts in.
  • Jy kan ook ’n aromaterapeutiese preparaat probeer deur 10 druppels laventel-, 10 druppels geranium-olie, 4 druppels peperment-olie en 50 ml amandel- of olyfolie te meng en aan die vel net bo die spataar te smeer (opwaarts).
  • Vir spatare in jou geslagsdele kan teendruk met ’n yspak verligting bring. Moenie hitte gebruik nie, want dit kan die toestand net vererger.
  • Vitamien B6 help ook vir spatare in hierdie deel, so wees op die uitkyk na swangerskap-aanvullings met vitamien B6.

Sproete

Sproete kan groter word, donkerder of meer. Volg dieselfde raad as vir velpigmentasie en spreek jou dokter as jy bekommerd is.

Swaminfeksies

Swaminfeksies op die vel kan ook voorkom, veral in die oksels, onder die borste en tussen die bene. As jou genitalieë seer, rooi en branderig is, het jy waarskynlik sproei (Candida). Gesels met jou dokter oor die gepaste medikasie. As jy herhaalde infeksies het, probeer suiker en witmeel uitsny en baseer jou dieet op heelgraan, vrugte, groente en proteïene.

Bronne:
The Pregnancy and Birth Book deur Tina Otte.
Optimum Nutrition Before, During and After Pregnancy deur Patrick Holford.
Die Verwagtende Moeder deur dr. Jan van Elfen.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees