Wenke om kraampyne makliker te hanteer

akkreditasie
Daar is heelwat maniere waarop jy jou pyn tydens kraam meer hanteerbaar kan maak. Hier's 'n paar wenke om te volg.

1. Hipnose.

2. Massering, teendruk of drukking op akudrukpunte. Harde, ferm druk op sekere dele van jou liggaam kan die manier waarop jy pyn ervaar verander. Akudruk en die vryf van jou hakke kan jou pyn verlig. 

3. Verander jou posisie. Beweging help pyn verdryf en sal jou persepsie verander. Bly so lank moontlik regop en gebruik swaartekrag om jou baba af te bring en jou bekken oop te maak. 

4. Moenie bang wees om geluide te maak terwyl jy kraam nie. Om te kerm of kreun help met die vrystel van die goedvoelstof endorfien, wat jou beter sal laat voel en baba ook sal baat.

5. Stort of bad. Water het uitstekende pynverligtingseienskappe. Gebruik die water om jou te help rustig word voor en ná kraam en vir pynverligting. 'n Stort wat sterk op jou rug spuit, kan rugpyn help verminder. Maak ook seker die bad is diep genoeg dat jy voel jy dryf. Hoe dieper jy in die water is, hoe beter die vlak van pynverligting. 

6. Luister na musiek.

7. Trek jou aandag af deur te tel of iets te doen wat jou kop besig hou sodat jy nie aan die pyn dink nie. 

8. Bly kalm. Streshormone steek die plasenta oor. As jy kan bedaar en ontspanne bly, sal jy beter kan klaarspeel met wat ook al na jou kant toe kom. 

9. Gebruik ontspannings- en visualiseringstegnieke. Die vermoë om spanning willekeurig te ontlaai en om jou positiewe gedagtes in prentjies om te skakel (visualisering) is nie net 'n nuttige kraamhulpmiddel nie, maar ook 'n lewensvaardigheid. 

10. Haal doelbewus asem. Asemhaling met konsentrasie sal jou pyn help verminder. 

11. Maak jou blaas gereeld leeg. 'n Vol blaas kan die kraamproses vertraag en jou pynvlak verhoog. 

12. Gebruik aromaterapie. Olies soos laventel en kamille het 'n wonderlike strelende effek op liggaam en siel. 

13.  Gerbuik die TENS-masjien wat elektriese impulse op die pyn se senupaadjies gebruik om jou liggaam se endorfiene te help vrystel en jou persepsie van pyn te verander. 

14. Neem genoeg vloeistowwe in. Ontwatering kan die baarmoedersaamtrekkings baie meer pynlik maak; drink dus gereeld water of helder vloeistowwe. 

15. Gebruik homeopatie. Daar is preparate wat die ontsluiting van die serviks kan aanhelp en ook help met die pyn van die kontraksies. 

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees