Alles oor jou keiser

akkreditasie
Jou keisersneedatum is in die dagboek. En jou dokter het jou seker al gevra watter soort verdowing jy verkies en dalk vertel hoe sy beplan om die sny te maak. Maar daar is waarskynlik nog baie ander dinge waaroor jy wonder...

Watter verdowing moet ek kies?

Met keisersneë word spinale of epidurale verdowing gebruik. Vir elektiewe of beplande keisers is ’n spinale blok verreweg die gewildste keuse omdat dit vinnig werk en ook meer volledig is.

Epidurale verdowing word meestal gebruik as pynverligting tydens normale bevallings. Soms verander die geboorteplan van ’n normale bevalling na ’n keisersnee, en dis amper net in sulke gevalle dat epidurale verdowing met ’n keiser gebruik word. Dit duur langer voor epidurale verdowing werk, maar dit help ook met pynverligting ná die bevalling.

As jy ’n spinale blok gehad het, kan jy vra vir ’n TAP-(transversus abdominis plane- of dwarsabdominale vlak-”) blok. Dit kan pynverligting bring vir tot ses uur nadat jou baba verlos is. Die narkotiseur spuit jou dan aan weerskante van jou buik in.

Hoe word spinale verdowing toegedien? Jou narkotiseur sal vra dat jy regop sit en jou rug krom maak. Dit maak dit vir haar makliker om tussen jou rugwerwels in te kom sodat sy ’n lang, dun naald in jou rugmurgkanaal kan plaas. Die verdowingsmiddel word daarin gespuit en jy behoort drie tot vier uur lank van jou tepels af ondertoe verdoof te wees. ’n Spinale blok word net een keer toegedien.

Met epidurale verdowing lê jy dikwels op jou sy en is die naald langer en dikker. Dit is nie net ’n eenmalige toediening nie, maar ’n kateter word in die rug gelaat sodat die medikasie deurlopend toegedien kan word.

In albei gevalle bly jy wakker. Jy kry ook vooraf ’n drup sodat die mediese personeel binneaarse toegang het vir enige middels wat jy dalk tydens die operasie nodig kry. Jy gaan ook ’n kateter kry.

Narkose word selde met keisersneë gegee. Dit word wel toegedien met ’n noodkeiser wanneer die ma of baba se lewe bedreig word en daar te min tyd vir ander metodes is.

Kan ek kyk?

Daar is meestal ’n spesiale gordyntjie rondom die gebied waar die teaterspan werk – hoofsaaklik om dit skoon en steriel te hou, maar ook sodat jy nie hoef te sien hoe jy oopgesny word nie. As jy wil kyk, kan jy vir ’n spieëltjie vra.

Word my hare geskeer?

As dit nodig is, sal ’n verpleegsuster voor die operasie hare wat laer af op jou maag is, skoon skeer. Sy sal ook jou maag met ’n antiseptiese oplossing skoonmaak.

Hoe word daar gesny?

Dokters begin met 'n klein dwarssny net bo jou pubiese haarlyn. Dit sal voel of jou vel oopgerits word. Dan word daar óf dwars (horisontaal) óf op-af (vertikaal) in die baarmoeder gesny. Laasgenoemde word selde gedoen en word die klassieke snit genoem.

Die dwarssny word in sowat 95 persent van gevalle gebruik. Een van die redes vir die gewildheid daarvan is dat die spier onderaan die baarmoeder dunner is en dus minder bloei. Dié deel van die baarmoeder genees ook vinniger. Nóg ’n voordeel is dat dit ’n natuurlike geboorte in die toekoms veiliger maak.

Ginekoloë vergroot soms die gewone dwarssny na ’n T- of J-sny. Dis seldsaam en gebeur net as die opening groter gemaak moet word omdat die baba in ’n ongewone posisie lê.

Die klassieke snit is ook seldsaam. Dit word soms gedoen met vroeë geboortes of as die onderste segment van die baarmoeder nie mooi ontwikkel het nie. Dié sny gaan meestal met meer bloedverlies gepaard en herstel ook nie so netjies soos ’n dwarssny nie.

Is jou baba nou gereed om uitgehaal te word? Nee. Die vrugwater moet eers uitgesuig word.

Hoe lank is die sny?

’n Keisersnee is 10 tot 15 cm lank – dit is minder as die helfte van ’n liniaal se lengte. Dit is ongeveer 0,3 cm breed.

Hoe kom my baba by so 'n snytjie uit?

Dokters gebruik ’n spatelagtige instrument aan die bo- of sykant van die sny om die opening groter te rek. Sponse, gaas en suiers word ook gebruik om te keer dat bloed opdam waar daar gewerk moet word. ’n Metaalspatel word ook gebruik om jou blaas tydens die operasie terug te druk en te beskerm.

Hoe lank duur dit?

Dit duur tussen vyf en 10 minute van die oomblik dat die dokter jou oopsny tot jou baba gebore word. Jou ginekoloog sal egter nog 'n bykomende 30 minute of meer nodig hê om seker te maak alles is normaal voor die sny toegewerk word.

Sal die sny lank sigbaar bly?

Die sny sal weldra jou normale velkleur begin aanneem en die breedte daarvan sal krimp. Die litteken is later bykans onsigbaar vir ander mense, behalwe miskien as jy graag eina-bikini’s dra.

Hoe word die plek toegewerk?

Voor die wond toegewerk word, moet jou plasenta eers verlos word. Dan begin die ginekoloog om jou weer toe te maak. Dit duur ’n rukkie want elke laag wat oopgesny is, moet een vir een gesluit en die vel moet toegewerk word.

Daar word deur vyf lae vel, weefsel en spiere gesny om by jou baarmoeder uit te kom. Die sesde en laaste laag is die baarmoederwand, maar dit word met die vinger opgelig en nie met ’n mes nie.

Dokters gebruik tradisionele steke – sowat twaalf van hulle – of krammetjies om die sny op jou vel toe te maak. Laasgenoemde kan oplosbaar wees, wat beteken dit gaan self binne ’n paar weke weg, of nie-oplosbaar, wat beteken ’n dokter moet dit ná sowat vyf dae uithaal. Die sny word in die eerste week met ’n pleister toegeplak.

Sal ek nog maagspiere oor het?

Jou maagspiere word nie afgesny nie. As daar wel aan hulle geraak word, sal dit in dieselfde rigting van die spier wees, wat beteken die vesels van die spier bly onaangeraak.

Die pad na herstel

Kan ek bad?

Jy kan ’n dag ná die bevalling stort. Laat die water net bo-oor die snywond (wat nog toegeplak is) loop.

Wat gebeur die eerste 24 uur na 'n keiser?

Die kateter in jou blaas word uitgehaal en die verpleegpersoneel sal jou aanmoedig om op te staan en dalk na die badkamer of stort te stap. Moet egter nie nou al sonder hulp probeer opstaan en loop nie.

Hoe lank moet ek in die hospitaal bly?

Drie nagte is die norm in die meeste privaat hospitale.

Hoe voel ek die eerste twee dae na die keiser?

Baie vroue voel besonder goed die dag ná die keiser, maar regtig goor op dag twee. Die rede is moontlik dat daar op dag een nog genoeg verdowingsmiddels in jou liggaam is. Teen dag twee is die pyn gewoonlik erger en voel jy moeër.

Jy sal net soos vroue wat normaal gekraam het, pyn hê wanneer jou baarmoeder saamtrek terwyl dit na sy normale grootte probeer terugkeer.

Baie vroue voel effens opgeblaas ná die keiser. Dit gebeur omdat gas dikwels in die liggaam opbou ná ’n operasie. Staan gerus op en beweeg ’n bietjie om jou spysverteringstelsel weer aan die gang te kry.

Maak ook seker jy gaan gereeld badkamer toe om te urineer – ’n vol blaas plaas onnodige druk op die sny.

Gaan ek spesiale doekies benodig?

Jy sal beslis doekies in jou onderklere moet dra vir die bloedvloei wat tot twee weke ná die geboorte nog kan voorkom.

Besoek die dokter my elke dag in die hospitaal?

Gedurende jou drie dae in die hospitaal sal jou dokter daagliks ’n draai kom maak om te kyk of jou wond (wat nog effe opgehewe kan wees) mooi genees.

Hoe lank gaan die sny pyn?

Dit sal vir ten minste die eerste twee weke taamlik seer wees as jy hoes, lag of nies. Selfs om net uit die bed op te staan kan seer wees. Drink maar die voorgeskrewe pynmiddels. Die ongemak kan ses tot agt weke lank duur en verskil van vrou tot vrou.

Gebruik ’n kussing of jou hande om die sny te ondersteun wanneer dit pyn en dra liefs lospassende onderklere. Dit sal ook baie moeilik wees om jou ouer kind(ers) op te tel of enigiets te doen waarvoor jy jou arms moet opstrek. Namate die wond begin genees, sal die vel om sie sny begin jeuk.

Kan ek die sny was?

Jy kan, solank jy net die seep goed afspoel en die plek agterna mooi afdroog. Die pleister op jou sny kan maar nat word.

Waarvoor moet ek oppas?

Bel jou dokter as daar enige teken van infeksie in die snywond is. Van die algemeenste simptome is ’n warm gevoel, rooiheid, swelsel of etter wat uitkom. Pyn wat erger word, koors of ’n onwelriekende reuk dui ook op iets ongesonds.

Kan ek vra vir 'n sensitiewe keiser?

Ja, mits jou baba nie ’n risiko-baba is nie. Sensitiewe keisers is selfs al suksesvol met vroeggebore babas uitgevoer, maar dan is dit belangrik dat daar ’n pediater by die geboorte is sodat hy of sy kan bevestig dat die baba nie na ’n broeikas hoef te gaan of aan verdere ondersoeke blootgestel hoef te word nie.

Wat is 'n sensitiewe keiser?

Dis wanneer spesiale aanpassings gemaak word om jou die geleentheid te gee vir onmiddellike vel-teen-vel-kontak met jou baba. Die baba word nie van jou geskei nie. ’n Bykomende spesialis-verpleegsuster word aangestel om jou en jou baba tot twee uur ná die geboorte fyn te monitor.

Sodra die baba verlos word, gaan sy reguit na pa toe. Hy lig sy hemp op sodat hy en baba vel-teen-vel-kontak kan hê tot jy haar kan vat. Sodra die dokter die laaste steek vasgewerk het, gee die suster jou baba vir jou aan en kan jy begin borsvoed.

Pasgeborenes se bloeddruk en glukosevlak is meer stabiel as daar vel-teen-velkontak met ’n ouer was. Nog ’n voordeel is dat die baba aan sy ma se bakterieë blootgestel word pleks van dié van die hospitaalbedjie. ’n Sensitiewe keiser beloop sowat R300 meer as ’n gewone een.

Hoeveel keisersneë kan ek kry?

Hoewel keisers taamlik veilig geword het, is daar tog risiko’s wat veral toeneem ná ’n derde keisersnee. Dit sluit in dat die baarmoeder skeur, placenta praevia waar die plasenta laag in die baarmoeder inplant, en plasenta accreta, wat beteken die plasenta groei te ver in die baarmoeder in.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees