Voel-voel

Die baarmoeder is ’n stimulerende, interaktiewe omgewing; perfek vir jou baba se ontwikkeling. Daar’s nooit ’n tekort aan aktiwiteit nie en jou baba is dus nooit geïsoleer nie.

Ons tassin is van kardinale belang vir menslike ervarings en is ook iets waarmee ons woordeloos kan kommunikeer – en dit begin al in die baarmoeder. Jou ongebore baba is op agt weke van swangerskap al sensitief vir aanraking. Navorsing wys hy maak bewegings om aanraking in die baarmoeder te voorkom.

In dié vroeë stadium is die fetus se vel sensitief by die geslagsdele (vanaf 10 weke), handpalms (11 weke) en die voetsole (12 weke). Dis ook die liggaamsdele waar babas ná hul geboorte die gevoeligste is. Teen 17 weke is alle dele van die maag en die boudjies baie sensitief.

Jou baba se vel is baie verweef en bestaan uit duisende verskillende selle wat veral gevoelig is vir hitte, koue, druk en pyn. Teen 32 weke is bykans elke deel van sy lyfie sensitief vir die aanraking van ’n haar.

Eerste fladderings

Die eerste vorm van beweging is jou baba se hartklop drie weke ná bevrugting. Dié ritmiese beweging hou aan terwyl die are, hartkamers en al die ander dele van die hartstelsel nog vorm moet aanneem.

Tussen week ses en 10 begin die fetus se lyfie beweeg. Hy kan nou strek, sy arms beweeg, sy hand na die gesig en mond toe bring, sy mond oop- en toemaak en selfs al van die vrugwater begin sluk.

Teen 14 weke is bewegings spontaan en is daar herkenbare siklusse waarin hy óf rus óf aktief is.

Asemhalings- en kaakbewegings het ook nou al begin ontwikkel, en jou baba speel met dele van sy lyf. Soms reik hy selfs na die naelstring om daarmee te speel.

Spontane bewegings is nou jou baba se hoofaktiwiteit, en soms is sy bewegings ’n reaksie op sy omgewing. As jou fetus tussen 10 en 15 weke oud is en jy lag of hoes, beweeg hy in reaksie daarop.

Die vestibulêre stelsel wat vir balans verantwoordelik is, ontwikkel van agt weke af. Ses halfronde kanaaltjies vorm in die oor wat met vloeistof gevul is en wat baba met sy balans sal help.

Die ene ore

Omdat die fetus deur vrugwater omring word, lewe hy in ’n stimulerende omgewing waar hy voortdurend aan geluide, trillings en beweging blootgestel word.

Navorsing wys babas kan hul ouers se stem bo die geraas van die plasenta hoor. Hulle word blootgestel aan die klankpatrone van stemme onder stres, toonhoogte, musiek en ritme.

Ma se stem is veral sterk omdat dit deur haar eie liggaam na die baarmoeder gevoer word, anders as klanke buite haar lyf. Gesels dikwels met jou boepie terwyl jy swanger is. Jou baba sal jou stem ná sy geboorte herken. Sommige navorsers sê hy kan sy moedertaal reeds in die baarmoeder begin leer!

Kenners reken ook dat die fetus vanaf 16 weke op klank kan reageer. Dis merkwaardig, want dis agt weke voor die oor se struktuur teen omtrent 24 weke gevorm is. Dit beteken waarskynlik dat die gehoorsin by die vel en die skelet begin.

Jou fetus se vel laat hom toe om vibrasies, pyn en temperatuur te voel. Sy gehoor verbeter dan later namate die oor en middeloor ontwikkel.

Ogies oop

Dié sintuig ontwikkel geleidelik ná baba se geboorte. Kort ná die geboorte kan hy sowat 8 tot 12 cm ver sien, net mooi die afstand tussen sy en jou gesig terwyl hy aan jou bors drink!

In die baarmoeder is sy ogies tot op 26 weke toe. Maar teen daardie stadium is hy al sensitief vir lig en draai hy om as daar ’n skerp lig op die baarmoeder skyn.

Op 23 weke begin jou baba al droom. Dit word gekenmerk deur intense oogbewegings onder die ooglid.

Ek kan proe en ruik

Terwyl hy in die baarmoeder is, word ’n fetus aan ’n rits verskillende vloeistowwe blootgestel – geen wonder nie dat babas so kort ná hul geboorte al ’n voorkeur vir sekere smake wys.

Kenners reken die strukture vir smaak is al van 14 weke af gereed en dat ’n fetus van dié stadium af al met smake begin eksperimenteer. Navorsing toon hy drink liewer vrugwater wat soet proe en sluk moeiliker aan bitter en suur smake.

Die fetus se neus begin tussen 11 en 15 weke ontwikkel. Baie chemiese stowwe kan die plasenta binnedring en in die vrugwater beland, sodat hy aan verskillende smake en geure bekendgestel word. En omdat sy lyfie met vrugwater omring is, asem hy dit in en drink dit ook. Met ander woorde, sy smaakkliere word deur asemhaling geprikkel!

Alles wat jy eet, kom deur die plasenta en die bloed in die naelstring by hom uit. Pasgeborenes word na die bors toe aangetrek omdat hulle die borsmelk kan ruik, al het hulle nog nooit voorheen daaraan geruik nie. Daardie suikertand begin al lank voor geboorte ontwikkel ... studies wys babas verkies vrugwater wat soet is.