Amperma's se vasbytweke

akkreditasie
Daar is ’n paar baie goeie redes waarom jy maar so lank as moontlik swanger moet bly, al voel jy jy kán nie meer nie ....

Dis die laaste pylvak van jou swangerskap, maar jy voel jy kán nie meer nie. Jy’s moeg, jy waggel, niks van jou klere pas meer nie, jy voel of jy ’n waatlemoen in jou ronddra, sukkel met sooibrand en jy lyk soos ’n walvis.

“Keisersnee” en “induksie” klink ál meer soos towerwoorde wat verlossing kan bring – letterlik en figuurlik.

Wat maak een of twee wekies vroeër dan nou regtig saak? Jou baba is immers al heeltemal lewensvatbaar? Al wat hy in daardie laaste weke doen is om ’n bietjie vet op te bou, of hoe?

Tradisioneel is alle babas wat ná 37 weke gebore word, as voltermynbabas beskou. Hierdie definisie het by baie mense – selfs dokters – die wanbegrip laat ontstaan dat die laaste paar weke van swangerskap nie regtig belangrik is of enige verskil maak aan baba se gesondheid nie. Intussen het verskeie studies egter gewys elke week is belangrik en dat die laaste weke ’n beduidende rol speel.

Verlede jaar het die Amerikaanse kollege van verloskundiges en ginekoloë selfs die term voltermyn-swangerskap herformuleer as tussen 39 weke en 40 weke en ses dae, ten einde te probeer verkom dat babas sonder goeie rede vroeër gebore word.

Ons het by dr. Welma Lubbe, ’n professor in verpleegkunde aan die Noordwesuniversiteit en kenner van vroeggeborenheid, gaan aanklop op soek na die waarheid oor daardie tawwe laaste paar weke.

Dís hoekom jy vasbyt

Dit ís so dat babas ná 37 weke lewensvatbaar is, wat beteken dat hulle buite die baarmoeder behoort te oorleef, sê Welma. Maar die laaste weke is geweldig belangrik vir die fisieke groei van die liggaam, die volwassewording van belangrike liggaamsfunksies, asook breinen gedragsontwikkeling.

Het jy geweet die deel van die brein wat jou baba vir denke sal gebruik verdubbel in grootte in die laaste weke van jou swangerskap? Wanneer jy 35 weke swanger is, weeg jou baba se brein net twee-derdes van wat dit op 40 weke sal weeg.

Jou baba se brein is die laaste groot orgaan wat tydens swangerskap ontwikkel, en elke dag binne-in jou baarmoeder is dus belangrik.

“Die brein groei nog geweldig baie en dit dra later by tot die baba se vermoë om hom self te reguleer of hom self te kalmeer as hy ontsteld is. Dit beïnvloed later binding met sy ouers,” sê Welma. Babas bou ook in hierdie tyd belangrike vetreserwes op wat vir temperatuurregulering en metaboliese aktiwiteite gebruik word.

“As ’n baba ná geboorte koud kry en sy energiebronne is boonop uitgeput omdat hy nog nie genoeg vetreserwes opgebou het nie, sukkel hy met voeding, want hy het energie nodig om te kan voed.”

Mense dink ook dikwels as ’n baba net ’n week of twee te vroeg opdaag, is dit nie so erg soos sê maar 32 weke nie en sal hulle hul klein statuur inhaal.

“Dit is nie so nie. Omdat hulle te vroeg is en nie vetreserwes het nie, kan hul liggaamstemperatuur maklik laag word, wat beteken hulle moet die energie wat hulle sou gebruik het om te groei, nou gebruik om warm te bly.

“Dit voorkom dan normale groei, en dan is die kans goed dat die borsmelk die skuld kry en die baba na formulemelk oorgeskakel word, wat sy eie komplikasies het.”

As die baba sleg drink weens te min energie, kan dit lei tot metaboliese probleme soos lae bloedsuiker, wat kan veroorsaak dat die baba heropgeneem moet word en binneaarse voeding moet kry.

“ ‘Laat-vroeë’ babas is nie net klein voltermynbabas nie – hulle het spesifieke probleme as gevolg van liggaamlike en metaboliese onvolwassenheid, en dit kan tot mediese komplikasies lei,” verduidelik Welma.

“Hierdie babas het nog nie genoeg witvet wat as isolasie dien om hul warm te hou nie. Hulle verbruik dus bruinvet om hulle warm te hou. Daar is ook nog nie genoeg van die hormoon wat ’n baba nodig het om vet te metaboliseer om warm te bly as die baba te vroeg gebore word nie.

“Laat-vroeë babas verloor ook meer hitte. Hulle loop die gevaar om ’n toestand op te doen wat koue-stres genoem word, en wat kan lei tot asemhalingnood, swak voeding en elektrolietwanbalanse, wat weer kan beteken die baba groei nie na wense nie.”

Die longe is nog ’n orgaan wat eers in die laat swangerskap volle wasdom bereik.

“Veral by seuntjiebabas is hierdie laaste paar weke van die uiterste belang om die longetjies voor te berei vir die wêreld buite die baarmoeder,” sê Welma. In hierdie tyd word surfaktant vervaardig – ’n hormoon wat die longe oophou tydens asemhaling.

As die dokter nie getoets het dat die baba se longe heeltemal ryp is nie, is die kans gewoonlik goed dat hy vir ’n paar dae in die neonatale intensiewe sorg sal beland weens asemhalingsnood oftewel natlong-sindroom.

Dit ontstaan omdat babas die laaste paar weke in die baarmoeder gebruik om surfaktant te vervaardig. Testosteroon ondermyn die vervaardiging van surfaktant en daarom kry seuntjies soms swaarder.

Dis dus maar beter om ’n paar dae langer in die baarmoeder te wees as om daardie dae in intensiewe sorg deur te bring, wat traumaties vir albei ouers en die baba is, sê Welma. Infeksies is meer algemeen by laatvroeë babas as by voltermynbabas omdat die immuunstelsel nog nie volledig ontwikkel het nie.

Dié babas het daarom ook meer bloedtoetse nodig en hulle sal ook meer waarskynlik antibiotika deur ’n drup moet kry. Daar is ook ’n sielkundige voordeel aan om tot die heel einde te wag, sê Welma.

“Die baba kry dan die kans om die wêreld te betree wanneer hy fisiek en sielkundig daarvoor gereed is. Hipnose op volwassenes het al uitgewys dat hul geboorte-omstandighede soms ’n langdurige uitwerking op hul latere lewe gehad het.”

Implikasies vir borsvoeding

Te vroeë geboortes kan ook borsvoeding ondermyn, sê Welma. “Keisersneë is soms nodig, maar in die geval van ’n elektiewe keisersnee (dus ’n keiser wanneer die ma nog nie begin kraam het nie) word die hormone wat nodig is om borsvoeding aan die gang te sit, nie afgeskei nie.

Pleks daarvan dat die sakrefleks van die borsmelk onmiddellik met geboorte geaktiveer word, moet die baba nou suig tot sy ma se brein die boodskap kry dat haar kleinding gebore is en sy maar melk kan begin afskei.

“Mammas het melk beskikbaar vanaf 16 weke swangerskap, maar dit word nie noodwendig vrygestel tot en met geboorte nie. As ’n mens sukkel om borsvoeding aan die gang te kry, is die kans soveel groter dat jy nie suksesvol daarmee gaan volhou nie. Die geboorte en die eerste uur daarna is kritiek om ’n gesonde borsvoedpatroon te skep,” sê Welma.

Jy kán kies – meestal

Daar is verskeie redes waarom dokters en ma’s keisersneë of induksies ’n paar weke voor baba se natuurlike geboortedatum skeduleer, sê Welma. Soms gaan dit bloot oor gerief vir die ouers en dokters, soos dat dit inpas by die dokter se skedule en verseker dat hy nie in die nag uitgeroep word of dalk weens werkdruk nie vir die bevalling beskikbaar is nie.

Ander kere kan die ma dalk voel sy sien nie langer kans vir die laaste deel van haar swangerskap nie. Ouers kan ook op ’n sekere datum besluit omdat dit op ’n geliefde familielid se verjaardag val, of omdat pa weens werkverpligtinge landuit moet gaan.

As die keisersnee of induksie jou of jou dokter se geriefskeuse is, het jy as ouer die reg om te vra dat dit eers ná 39 weke plaasvind, sê Welma. “Dit sou egter gevaarlik wees in die geval van mediese redes soos as die plasenta laag ingeplant het of voor die baarmoederuitgang lê, want dan kan die plasenta losskeur as jy begin kraam en kan dit lewensbedreigende bloeding veroorsaak.

As die dokter egter daartoe bereid is, kan die keisersnee gedoen word sodra jy die eerste kontraksies kry. Dan behoort dit veilig te wees. Dokters hou egter oor die algemeen meer daarvan om die keisersnee vooraf te skeduleer.”

’n Vroeër keisersnee kan deur verskeie mediese redes geregverdig word, sê Welma. “Dit kan insluit ’n gevaarlik hoë bloeddruk, dat die baba minder beweeg, ophou groei of dat die vrugwater so min word dat die baba in gevaar is.

“Ander situasies kan insluit dat die baba verkeerd lê, of dat daar meer as een baba is en dat daar nie meer genoeg plek vir almal is nie. Dit kan die geboorte baie ingewikkeld en gevaarlik maak.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees