Die plasenta is ’n orgaan wat aan die binnekant van die baarmoeder vasgeheg is en is met die naelstring aan jou baba verbind is. Dis verantwoordelik vir die uitruil van suurstof, voedingstowwe, teenliggame, hormone en afvalprodukte tussen jou en baba. Die optimale werking van die plasenta is dus noodsaaklik vir die normale groei en ontwikkeling van jou ongebore baba. Maar hoe gemaak as jou dokter sê jou plasenta verkalk?

Wat beteken dit?

Wanneer jou plasenta verkalk, beteken dit kalsiumfosfaatminerale word in die plasentaweefsel gedeponeer. Ná 37 weke swangerskap is dit ’n normale verskynsel wat daarop dui dat die plasenta volwasse is. In sowat 3,8 tot 23,7 persent van swangerskappe ontstaan dit egter voor 36 weke en is dit ’n aanduiding van vroeë veroudering en dat die plasenta siek is.

Dit word meer algemeen by rokers as nie-rokers gesien, en kan ook by passiewe rokers voorkom. ’n Ander maar seldsame soort verkalking wat selde gesien word, word villeuse verkalking genoem. Verkalking in die weefsel van die plasenta (villi) onstaan gewoonlik weens probleme soos trombose, infeksie deur die sitomegalovirus, infarksie of doodgeboorte.

Te veel kalsium?

Omdat verkalking ’n kalsiumneerslag in die plasenta behels, wonder baie mense of die toestand kan ontstaan as jy te veel kalsium inkry. Dis egter nie die geval nie. Kalsium is ’n belangrike bestanddeel van jou dieet en die meeste swangerskap-aanvullings bevat ekstra kalsium.

Jou liggaam het kalsium nodig vir been- en tandonderhoud, senu- en spierwerking en ’n normale hartklop. Jou ongebore baba het ook kalsium nodig (sowat 30 g per dag), hoofsaaklik vir beenontwikkeling in die laaste trimester.

Die daaglikse aanbevole hoeveelheid kalsium vir swanger of borsvoedende ma’s is 1 000 mg per dag vir vroue tussen 19 en 50 jaar oud. In ’n studie in Amerika is bevind dat tot amper 25 persent van vroue minder as 800 mg kalsium per dag inneem, wat te min is. Te veel kalsium het aan die ander kant gewoonlik nie ’n invloed op jou ongebore baba nie, maar kan jou hardlywig maak of soms nierstene gee.

Die meeste koubare teensuurmiddels bevat baie kalsium en bied vinnige verligting vir sooibrand, maar oorgebruik daarvan kan veroorsaak dat jy te veel kalsium inkry. Vra jou dokter of apteker oor veilige alternatiewe as jy met sooibrand sukkel.

Hoe word dit gediagnoseer?

’n Transabdominale sonar van die plasenta is die enigste manier waarop verkalking voor die geboorte van jou baba gediagnoseer kan word. Dit word meestal tydens ’n roetine-skandering raakgesien. Plasenta-verkalking word van lig tot erg geklassifiseer en gediagnoseer. Hewige verkalking beteken gewoonlik dat die baba vroeër verlos moet word.

Watter uitwerking het dit op my baba?

Verkalking ná 37 weke word as normaal beskou en is nie gewoonlik ’n rede om geboorte te induseer of ’n keisersnee te doen nie. Dit beteken meestal bloot dat die swangerskap volwasse of postmatuur is. Plasentaverkalking voor 37 weke kan moontlik ’n risiko vir jou baba inhou. Dit kan dui op ’n komplikasie soos preëklampsie, swak groei en dat die plasenta nie na wense werk nie.

Hoe word dit behandel?

As jou plasenta voor 37 weke begin verkalk, behoort jou dokter jou gereeld te ondersoek. Jou ginekoloog sal let op jou bloeddruk, proteïen in die urien, groei van jou baba, naelstring-bloedvloeipatroon en jou vrugwater. Abnormale bloedvloeipatrone in die naelstring kan betyds geïdentifiseer word en lei gewoonlik daartoe dat baba vroeg verlos word ten einde komplikasies soos preëklampsie en selfs ’n doodgeboorte te voorkom. 

HET JY GEWEET?
  1. Maak seker jy neem elke dag die regte hoeveelheid kalsium in. Vra raad by die dokter of dieetkundige.
  2. Vroue met ’n hoë- en laerisiko- swangerskap het gemiddeld dieselfde graad van plasenta-verkalking.
  3. Vroue met hoë bloeddruk en ’n baba wat nie na wense groei nie, is tot erger verkalking geneig en vroue met diabetes weer tot minder verkalking.
  4. Vroue met ’n laerisiko-swangerskap wat vroeë verkalking kry, moet deeglik gemonitor word om moontlike komplikasies te voorkom.