As pa ook kraamverlof wil hê

akkreditasie
Is vaderskapsverlof onderhandelbaar in 'n samelewing waar betrokke pa's so 'n groot verskil kan maak?

Hendri Terblanche (38) se stem is rustig oor die telefoon. Só sag dat jy amper moeilik glo dat hierdie pa byna manalleen die kwessie van vaderskapsverlof op ons land se wetgewers se tafel geplaas het. Maar hierdie finansiële bestuurder van Brackenfell se rustige aanslag is misleidend, want dis gou duidelik dat hierdie jong pa tot op die einde sal baklei vir dit waarin hy glo.

“Mense wat my ken, weet integriteit en respek is vir my baie belangrik. Ek neem standpunt in ook sekere sake en gee nie moed op nie. As daar ’n struikelblok kom, soek ek ’n manier om die probleem op te los.”

Hendri se vasbytersinstink kan dalk net die lewe vir duisende toekomstige pa’s landwyd verander. Sy tweeling, Danté en Juandré (10 maande), is drie maande te vroeg gebore en moes lank in die neonatale hoësorgeenheid deurbring.

In sy tyd saam met sy babas hier het Hendri ’n tendens in die kraamafdeling opgemerk: Die pa’s was die eerste drie dae baie betrokke, maar dan het hulle verdwyn. Gesprekke met die pa’s het gewys dat hulle moes teruggaan werk toe, want hulle het net drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof gehad.

“Mense sê vinnig pa’s is nie betrokke genoeg by hul kinders nie, maar met net drie dae betaalde gesinsverantwoordeliksheidsverlof tot hul beskikking begin hulle met ’n agterstand. Ek dink die wetgewing het nooit aangepas by die veranderde omstandighede van ons moderne samelewing nie. In die verlede was baie mense onder die indruk dat dit die pa se plig is om te werk en die ma moet tuis bly om na die kinders te kyk.

Ek dink die wetgewing is nog uit daardie oogpunt geskryf, maar tye het verander. Ouerskap is ’n spanpoging en daarom is dit noodsaaklik dat die bestaande wetgewing aangepas word om 10 dae ouerskapsverlof in te sluit.”

Hendri se stryd

Hendri Terblanche van Brackenfell

Hendri het ondersoek ingestel en uitgevind dis sy grondwetlike reg om lede van die wetgewer te nader oor ’n kwessie soos vaderskapsverlof, maar in die praktyk was dit nie so maklik nie. Hy het ’n lys e-pos-adresse van al die parlementslede gekry en vir hulle e-posse oor die kwessie gestuur.

Toe moes hy agterkom die inligting is dié van die vorige parlement s’n. Daarna het hy vir al die huidige parlementslede e-posse gestuur. “Dis ironies dat net ’n hand vol van hulle reageer het.”

Hierna het Hendri gehoor hy kan ’n spesiale versoek rig aan die Nasionale Raad van Provinsies om die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (1997) te verander om 10 dae vaderskapsverlof in te sluit. Dit het hy gedoen. Die kwessie is daarna verwys na die Gekose Komitee oor Petisies en Uitvoerende Ondernemings om dit te bespreek en aanbevelings te maak.

“Maar toe ek navorsing doen, kom ek agter hulle het die afgelope vyf jaar baie min vergaderings gehou en het ’n agterstand van 60 versoeke, want hulle skeduleer nie vergaderings nie. Ek het nou lede van die parlement gekry om vrae te vra en dinge lyk meer positief.”

Interessant genoeg, vertel Hendri, is daar al in 2013 ’n witskrif oor gesinne deur die parlement afgeteken waarin spesifiek na vaderskapsverlof verwys word, maar daar het nog niks van gekom nie.

Hendri se stryd het heelwat media-aandag geniet en hy ontvang ook goeie ondersteuning van vakbonde en organisasies soos Sonke Gender Justice.

Wat die wet sê

Wetgewing in Suid-Afrika maak nie spesiaal voorsiening vir vaderskapsverlof nie. Met die geboorte van ’n kind is ’n pa wel daarop geregtig om sy jaarlikse drie dae betaalde familieverantwoordelikheidsverlof te gebruik – mits hy al langer as vier maande en minstens vier dae per week by die werkgewer werk.

Sou hy ál drie dae gebruik met die geboorte van sy kind, sal hy geen verlof meer oorhê vir dae wat sy kind byvoorbeeld siek is nie. (Wet op Basiese Diensvoorwaardes – 1997)

Hoekom juis 10 dae?

Tien dae is ’n goeie begin, meen Hendri. “Natuurlik sou ek langer vaderskapsverlof wou sien. Oorsee is dit die gemiddelde tyd wat toegestaan word. Ook, as die vrou ’n keisersnee gehad het, mag sy vir 14 dae nie bestuur nie en het ekstra ondersteuning nodig. Dit behels 10 werkdae.”

Net verlof oor Desember

Willbert Du Toit van Brackenfell

Tien dae vaderskapsverlof sou vir hom ’n reuse verskil gemaak het, sê Willbert, want dan is die eerste skokke van aanpas by die nuwe baba grootliks verby. Hy moes met sy seun, Ebert (4 maande), se geboorte sy gesinsverlof gebruik. Sy werk het hom ’n ekstra dag gegee.

“Die eerste vyf dae was nie ’n probleem nie, maar toe begin ons kleintjie sukkel met koliek en refluks. My vrou, Louise, was alleen by die huis, dit was ons eerste kind en ons was ook maar nog in ’n leerfase. Hoe maak ’n mens nou? Ek wou haar graag bystaan, maar ek kon nie.”

Willbert kon nie sy gewone verlof gebruik nie omdat sy werksituasie so is dat hulle net oor Desember verlof kan neem. “Bedags sit ek by die werk en bekommer my oor my kind. Saans as ek tuiskom, gaan dit rof.

Snags slaap jy miskien ’n uur of twee – as jy gelukkig is. Ek sou beslis baat kon vind by nog ’n paar dae tuis om net die nuwe roetine saam met die baba uit te werk en my vrou te help.”

Willbert vertel toe dit regtig rof gaan, het sy werkgewers hom tegemoet gekom deur hom huis toe te laat gaan as daar probleme was. Hy het dan na-ure ingegaan om sy ure in te werk. “Ek is dankbaar vir die halfdae wat hulle my gegee het, maar nie almal is so gelukkig dat hulle werknemers so-iets doen nie.”

Willbert het baie simpatie vir sy werkgewers se situasie. “Ongelukkig is my werk so dat as ek spesifieke tye nie daar is nie, ons werk stilstaan. Maar terselfdertyd was my aandag nie 100% by die werk nie. Ek het heeltyd gedink aan hoe dit by die huis gaan.

“Gelukkig gaan dit nou al baie beter. Ons het al bietjie meer begin leer hoe om ons roetines aan te pas en wanneer om wat te doen. Ons het hom ook beter leer ken en weet waarvan hy hou en waarvan nie.”

'n Besliste ja!

Vaderskapsverlof is belangrik want ...

  • Die pa het tyd nodig om met sy nuwe baba te bind en hom te leer ken.
  • Die eerste weke met ’n pasgebore baba is ’n geweldige aanpassing vir die hele gesin en die ma het ondersteuning nodig.
  • Die patroon vir toekomstige vaderskapsbetrokkenheid word nou reeds vasgelê. Daarom is dit belangrik dat die pa geleentheid het om betrokke te wees by die dag-tot-dag versorging van die baba soos doeke omruil, winde uitvryf, ens.
  • Nageboorte depressie is ’n werklikheid vir baie jong ma’s en tref gewoonlik eers die ma ná die eerste drie dae. Die pa se teenwoordigheid kan dit help verminder.
  • As baba siek is of koliek het of selfs net snags huil, is die pa moeg by die werk en dikwels bedags bekommerd oor die situasie by die huis, sodat hy in elke geval nie so produktief by die werk is nie. Hy kan foute maak wat weer ’n ekonomiese implikasie het.
  • In Swede het ’n toename in pa’s se aandeel van ouerskapsverlof met verloop van tyd gelei tot ’n afname in beserings by kinders jonger as vier jaar.
  • Australiese kinders wie se pa’s langverlof ná hul geboorte geneem het, vaar beter in kognitiewe ontwikkelingstoetse en is meer geneig om skoolgereed te wees op 4 en 5 jaar.
  • Meer vaderskapsverlof deur Sweedse pa’s word gekoppel aan groter betrokkenheid by hul kinders ná egskeiding.
  • Twee studies in Noorweë het getoon dat vaderskapsverlof bydra tot ’n beter herverdeling van take by die huis en die ontwikkeling van ouerskapsvaardighede by die pa.
  • Verskeie studies het getoon dat daar ’n beduidende verband is tussen vaderskapsverlof met die geboorte van die baba en die pa se betrokkenheid by sy baba en jong kind se versorging later in sy lewe.
  • ’n Studie het getoon Sweedse paartjies is 30% minder geneig om te skei as die pa twee of meer weke vaderskapsverlof met hul eerste kind geneem het.
  • Deur vaderskapsverlof word die ma se alleenverantwoordelikheid vir die baba en kinders verminder wat bydra tot beter geestesgesondheid vir albei ouers – en uiteindelike voordele vir werkgewers.

Wie kyk na ousus?

James Urry van Pietermaritzburg

James Urry van Pietermaritzburg is pa van twee dogters, Olivia (16 maande) en Sarah (drie maande). Hy het onderskeidelik drie en vyf dae gesinsverantwoordeliksheidsverlof gehad met sy dogters se geboorte. Hy sê die kort verlof was veral swaar met sy jongste se geboorte.

Sy was prematuur en is geskuif na ’n ander hospitaal meer as 100 km weg waar sy byna drie weke deurgebring het.

“Ek wou nie graag my jaarlikse verlof gebruik terwyl sy in die hospitaal was nie sodat ek liewer my vrou, Cath, tuis kon help as sy huis toe kom. Dit het beteken dat ek my dogter vir die eerste paar weke net oor naweke kon sien, wat ’n reuseuitdaging was.”

James voel vaderskapsverlof is baie belangrik – veral as daar reeds ’n ander kind by die huis is wat ook aandag nodig het.

“Dit moet minstens 10 dae lank wees, verkieslik langer. Om ’n nuwe baba huis toe te bring is ’n groot aanpassing, veral daardie eerste dae: Dis ’n nuwe roetine, nuwe voeding, en as die ma borsvoed, wie moet na die ander kind kyk?

“Dit neem tyd om jou ritme te vind met ’n nuwe baba en dis moeilik vir die vrou om dan alleen met twee kinders by die huis reg te kom. Sy het ondersteuning nodig en die pa het ook tyd nodig om met die baba te bind. Die pa is baie belangrik om te help met die oudste, veral as die vrou ’n keisersnee gehad het.”

Gelukkiger, produktiewer werkers?

Paul Zietsman van die Paarl

Paul het drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof gehad met die geboorte van sy dogter Mia-Luna (1 jaar). Verder moes hy van sy jaarlikse verlof gebruik. “Ek sal sê twee weke is ’n redelike tyd: drie dae is net te kort, want daar is soveel wat in daardie drie dae gedoen moet word, van die geboorteregistrasie en oupas en oumas en almal wat die baba wil sien, tot allerhande ander reëlings. Om dit alles op jou vrou se skouers te pak is onregverdig.

“Dit is belangrik dat ’n mens in die beginstadium by is om jou vrou te ondersteun, want sy is moeg en emosioneel. Dit is immers ’n baie emosionele tyd in ’n mens se lewe en hoewel haar ma dalk daar kan wees, is dit nie dieselfde as haar man se ondersteuning nie. Daardie emosionele plek kan nie deur iemand anders gevul word nie.”

Paul sê die hoeveelheid tyd saam ná geboorte kan in die toekoms ’n groot rol speel in die pa se betrokkenheid by sy kind.

“Die pa se rol begin reg by geboorte. ’n Nuwe baba is ’n groot aanpassing. Jy moet uiteraard jou vrou ondersteun, maar dis ook die tyd wanneer jy jou baba die eerste keer ontmoet en julle moet bind – hiervoor het jy tyd nodig.

“As julle tyd saam so min is, voel jy amper uitgesluit. “Ek wil graag betrokke wees as pa, en daardie basis lê jy reeds van die begin af, maar as jy nie daar kan wees nie, voel dit of jy glad nie betrokke is nie. Jy moet teruggaan werk toe en as jy saans by die huis kom, slaap baba dalk. Jy loop die hele proses van daar af mis, waar jy en jou vrou as nuwe ouers by mekaar kan leer en mekaar kan ondersteun. Tien dae is ook nie lank nie, maar ten minste word die regte fondament gelê.”

Hoewel hy verstaan dat daar vir werkgewers ’n groot finansiële implikasie is, sê Paul dit gaan vir hom oor die menslikheidsfaktor. “Gaan dit meer oor geld oor of die werknemer gelukkig is? Ek dink ’n gelukkige werknemer dra op die ou end meer by.”

Liewer nie!

  • Mense kan dit misbruik. Hendri meen egter die impak van misbruik sal baie minder wees as byvoorbeeld met siekteverlof.
  • Daar is al klaar te veel vakansiedae.
  • Die grootste besware teen betaalde vaderskapsverlof kom van die sakesektor, aangesien dit finansiële implikasies het wat veral die klein sakeman kan raak.
    Hendri sê egter volgens Statistiek SA se 2011-sensus is die gemiddelde salaris vir ’n man tussen 15 en 64 jaar sowat R9 396 per maand is, wat beteken dat vaderskapsverlof vir 10 dae net sowat R4 335,95 per geboorte sal kos.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees